Lukas 2:9a Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn.

 

 

Ek het ‘n kosbare vriendin wat ná ‘n 15 jaar woestyntyd in haar lewe ‘n nuwe lente beleef. Sy is onlangs met die wonderlikste man getroud en dit is ‘n belewenis om hulle dop te hou. Hulle albei straal van liefde vir mekaar en vir hulle Here wat hierdie nuwe seisoen so onverwags, so totaal onbepland van hulle kant af, vir hulle gegee het. Hulle is albei geskaaf en het sag geraak,  so gereed gemaak vir wat Hy op Sy volmaakte tyd wou gee.

In verwondering oor nuwe seisoene, stap ons later in die vroeë aandluggie in hulle pragtige tuin en ek ervaar iets van ‘n ander Tuin . . . My oog val op die pienk engeltrompet (in Engels angel trumpet) en toe weet ek: ook hul kondig ‘n nuwe seisoen aan, die pienk kleur van genesing en die sagte lig daar beaam dit.

Gebed: Dankie Heer dat ons ook in hierdie Adventtyd daaraan herinner word dat ‘n engel, ‘n boodskapper, ‘n nuwe seisoen aangekondig het en dat U lig oral is, op alles val en dat U koninkryk baie naby gekom het. Gee dat ons U trompette sal wees wat die goeie nuus sal uitdra en so genesing bring vir ‘n stukkende, seer wêreld.

 

 

Joh 6:33 “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

 

 

Feesmaal

die lewe is ‘n feesmaal

waarvoor Hy ons van die snelweë, die afdraaipaadjies,

die doodloopstraatjies kom haal . . .

Hy sê: eet en drink, geniet My, my sakrament

ek eet en drink, happie vir happie, teug vir teug, elke oomblik

ekstase!

die lewe is ‘n feesmaal!

laat my nooit my kos van ‘n ander tafel haal . . .

 

 

Wyn en Brood

Jesaja 25:6 Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.

 

 

“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:18)

 

 

Ons sal hier op aarde nooit 100% gelukkig wees nie en dis hoe dit moet wees. Ons is slegs tydelik op hierdie aarde, want ons is burgers van die hemel (Fil 3:20). Ons tyd op aarde is infinitesimaal klein in vergelyking met Sy oneindigheid.

Pierre Teilhard de Chardin vat dit so raak: “We are not human beings on a spiritual journey. We are spiritual beings on a human journey.”

Gebed: O Heer, vergewe my, dat ek so kan vaskyk in die aardse dinge, dat ek so dikwels vergeet dat ek van U Koninkryk is, U Koninkryk van lig. Leer my die passies van die ligdans sodat ek nie uit pas met U leef nie. Help my om te onthou dat wat ek met my vleesoë sien beslis nie die totale prentjie is nie, herinner my asseblief voortdurend daaraan soos net U dit kan doen.

 Ligdans

al spartel ons rond

in slyk, modder, grond …

dartel Ons ligvoets vás

in sy songrond

rond

Songrond

 

Albert Einstein — ‘There are only two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle’

 

 

Die afgelope week was ek op ‘n stilte retreat gewees. Dit was weer eens vir my  ‘n diep, wonderlike ervaring. Dit is moeilik om in woorde te omskryf wat met ‘n mens gebeur wanneer ‘n mens vir langer tye eenkant gaan, stil word. My ervaring is dat ‘n mens ekstra ruimte skep vir God om ons ten diepste aan te raak. Ps 46:11 verwoord dit vir my die beste: Wees stil en weet Ek is God.

Die natuurskoon by die retreatsentrum was onbeskryflik mooi, dit was kosbaar om Hom ook daarin te beleef. Wat my egter die meeste aangeraak het, was toe ek na een middagete ‘n glas met water voor my gehad het en daarna gekyk het, regtig gekyk het . . .

Hier is die foto van die glas:

Waterglas Origins 4 nov15 Klein

Ek het daarin spatseltjies van die mooiste kleure gesien en toe besluit om dit ‘n bietjie te vergroot. Hier is ‘n paar van die foto’s:

Waterglas 3

Waterglas 1

 

Waterglas 4

Waterglas 2

Ligdans 6

Dit het my dadelik laat dink dat ons elke dag so kan jaag en soveel wondere rondom ons miskyk,  omdat ons te besig is . . .

Gebed: Here, ek kan so deur ‘n dag jaag, terwyl U rondom my skitter en blink. Ek soek dit dikwels in groot dinge, terwyl dit U manier is om die grootste skatte in die mees gewone dinge te versteek. O Heer, maak my hart stil, leeg genoeg sodat my hartsoë sal oopgaan om U oral en in alles te sien.