If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer
Hierdie week het ek voortgegaan met die boom-mens-kyk oefening. Ek het eers elke dag opnuut bewus geraak van die besondere, unieke skoonheid van elke boom. Daar is juis nou soveel bome getooi in hul veelkleurige herfsgewaad.
Met die oordrag van hierdie kyk na mense, was daar tog vordering, ek het meer nuuskierig na mense gekyk, regtig gekyk . . . Soms het ek ook gewonder aan watter boom ‘n spesifieke mens my laat dink. Op ‘n vreemde, misterieuse manier raak my wêreld al hoe mooier . . .
Ek het weer by my boomvriende gaan kuier en so wraggies, toe het dié een boom ‘n gesig . . .
Sy mondjie is skoon oop van verbasing, dalk omdat hy nie kan glo dat ons so anders na mense as na bome kyk nie. Dalk is hy skoon hartseer ook, kyk hoe kyk sy ogies so af na sy neus . . .
Ek weet ek sal hom nie kan laat glimlag nie, maar ten minste kan ek probeer om ‘n glimlag op my medemens se gesig te bring, deur met ‘n glimlag op my gesig na hul te kyk!
Gebed: Here, help my asseblief om aan die einde van elke dag saam met die wyse Salomo te kan sê: “Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het, die mense was vir my ‘n vreugde. – Spr 8:31.