The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes, but in having new eyes. Marcel Proust

Ons was vir ‘n paar dae in ‘n wildtuin gewees. Om een of selfs meer van die groot vyf te sien, bly maar tog op ‘n mens se wenslys vir die dag. Die een dag, met een van ons ritte, is daar skielik baie motors en ons kon nie verby beweeg of iets sien nie. Met groot opgewondenheid sien ons later ‘n luiperd in die boom wat besig is om middagete te geniet. Die pad was ‘n hele entjie weg van die boom. 

img_8416

Met die hulp van die telefotolens, kon mens hier en daar iets van die kenmerkende grootkatlyf raaksien. . .

img_8425

Dis ‘n paar dae later, toe ek buite ons huisie sit, wat die klein kat my kom opsoek. Ons het mekaar vir die eerste keer gesien, maar hy het soos ‘n ou vriend homself naby my kom tuismaak en ons het net heerlik, in die stilte, bymekaar gesit en mekaar se geselskap geniet, die samesyn het later uitgeloop in ‘n sagte, rustige spin (syne natuurlik…). Ek dink myne het dieper gelê… Sou ek dit kon waag om die kamera te gaan haal om die oomblik vas te vang? Hier is wat hy besluit het:

img_8991

img_9017

img_9009

Later besef ek dat ek hom baie meer geniet het as die luiperd, dat hy my hart aangeraak het deur my toe te laat om so naby hom te kom, my genoeg te vertrou daarvoor.

Deur die lens het sy skoonheid my diep aangeraak, hy is só volmaak. Stadig het daar iets na die oppervlak begin deurbreek. . . Hy is net soos ek geskape, aanmekaar verweef deur ‘n Meesterhand. Sy pels se kleur het my ook aangeraak. . .

img_9029

img_9034

img_9020

Here, dankie vir U groot en klein verrassings elke dag. Vergewe my dat ek so dikwels na die “groot” dinge soek, terwyl die grootste rykdom in oënskynlik klein, onbenullige en alledaagse dinge lê. Soveel word oorgesien, misgekyk. U wil hê ons moet oor en van voor af sien… Dit verg nuwe oë.

U wil dit graag vir ons gee, maar ons moet daarvoor vra, besef dat ons blind is. Luk 18:40-41 Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.”

Oorsien

klein katjie, ek weet
ook jóú hare is getel
so ook jou dae
nes alle aardbewoners s’n . . .
daarom wil ek vandag vurig liefhê,
vlammend soos jou pels . . .
nie tyd verspil,
oral vertel, dit is uitgespel:
daar’s ‘n liefde wat brand en vlam,
onblusbaar
in die hartstogtelikste vuur

 

2 Thoughts on “Die kat uit die boom kyk. . .

  1. pragtig, dankie

  2. Veronica Botha on September 28, 2016 at 3:49 pm said:

    Ons moet nie altyd na die grootste dinge kyk nie want kleiner dingetjies is partykeer baie meer waardevol. Foto’s weer baie mooi.

Leave a Reply to Veronica Botha Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation