Jakobus 4:13-15 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

Die afgelope ruk het ek weer intens besef dat ek glad nie in beheer is nie en ook dat ek glad nie veronderstel is om in beheer te wees nie.

My planne vir verlede week was al ‘n jaar tevore gemaak. Toe is hierdie planne omvergewerp. Ek was eintlik verbaas hoe moeilik dit vir my was om te aanvaar dat dit nou so is. . .

Jesus se woorde aan Paulus op die Damaskuspad raak my diep aan: Handelinge 26:14b Jy maak jou net seer deur jou te verset.

So: ek het die keuse om my te verset, met al die pyne wat daarmee saamgaan, of om te aanvaar, wat ook ‘n pynlike proses is, maar wat uitloop in ‘n vrede, ‘n berusting dat daar ‘n groter plan aan die werk is.

Die verset is ‘n blinde protes: ek kan nie en wil dalk nie sien wat regtig aan die gebeur is nie. Indien ek egter dieper in die pyn ingaan, myself begin afvra wat ek voel en waarom ek dit voel, sien ek in dat dit my ego in een van sy vele vermommings is, wat na vore kom: ek hou daarvan om te beplan en so in beheer te voel.

Dis egter is ‘n groot genade van ons Here dat ‘n mens dit kan raaksien en dit dan kan bely. Die raaksien maak dat ‘n mens afstand daarvan kry, vir jouself kan sê: hier is sy (die ego) al weer, sy wil so graag alles beheer… So kan ‘n mens Hom vra vir sy hulp.

Nou kan daar ‘n aanvaarding kom, ‘n wete, dat ‘n groter plan besig is om te ontvou in ‘n liefdevolle Vaderhand op sy volmaakte manier en in sy volmaakte tyd. Al laat dit my (eintlik net my ego) nie altyd lekker voel nie, kan ek daarin berus dat Hy altyd beter weet.

Net die vorige week by die wetenskapklub sien ons die spirale:

20161026_105923_resized

20161026_105543_resized

Dit herinner aan ‘n ontvouing.

Hierdie varingblare vertel dieselfde storie:

varing-1

Daarom is die twee letters wat ek deesdae meer wil gebruik ‘n D en ‘n V langs mekaar, D.V., Deo Volente, as die Here wil, en om Hom en sy tyd en prosesse meer te vertrou en daaraan oor te gee.

Ons, as sy kinders, kan rus in die wete dat Hy alles ten goede laat meewerk, deur al die groter en kleiner pyne van die lewe.

20161103_150723

2 Thoughts on “Hierdie twee letters wil ek graag meer gebruik . . .

  1. Lindy Jordaan on November 20, 2016 at 6:58 am said:

    Ook swaar vir my om beheer oor te gee. Ons moet berus in God wat in ons moeilike tye sê: EK is. Hy is God en dit impliseer tog ‘n klomp dinge!

  2. Veronica Botha on November 22, 2016 at 8:03 pm said:

    Ek wil as Christen ook rus in die wete dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens Sy besluit geroep is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation