Efesiërs 4:10 Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

Op Oukersdag, toe ek in die kombuis besig was om alles gereed te kry vir die familie se koms op Kersdag, maak die geitjie sy verskyning op die vensterbank.

Die HAT beskryf ‘n geitjie soos volg: Lelike maar onskadelike akkedisagtige diertjie van die fam. Gekkonidae, wat gewoonlik snags bedrywig is en bedags wegkruip en waarvan ‘n sekere soort dikwels in geboue hou.

Hy het so stil bly sit en my as’t ware dopgehou. Ek het my lens gaan haal. . .

Daardie oë het my reg tussen my oë getref . . . Dit was sulke helder, volmaakte, onskuldige, weerlose ogies. Hy het lank so bly sit, so asof hy vir my iets wou sê.

Waarom het dit my so diep aangeraak? Iets roer binne my hart. . . Is dit miskien dat ek in daardie oë iets beleef het van Hom wat in die broosheid van ‘n baba na ons gekom het? Hy wat met sagte, liefdevolle en deernisvolle oë na ons gekyk het en op ‘n dag die hemeltroon verlaat het en by ons kom woon het? Dis juis nou hierdie tyd wat ons die heuglike gebeurtenis herdenk.

Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

As ‘n mens liefhet, wys dit mos in jou oë, dit kan nie anders nie. . .  Die oë word nie verniet die vensters van die siel genoem nie!

Hy was weer die volgende dag daar en ons het begin gesels. Hy sê: “Ek hoor jy gaan nou van my skryf op die blog. Laat ons bietjie vir hulle wys hoe groot ek is.” Ek sit die vuurhoutjie langs hom neer. Hy kom nader en sit sy koppie eers langsaan die vuurhoutjiekop en toe bo-op. “Nou kan jy jou storie gaan skryf”. Dankie, klein geitjie. Jy het vir my gewys dat enigiets mens kan leer, maak nie saak hoe klein of oënskynlik onbenullig dit mag voorkom nie en dat die buitengewone meestal versteek is in die gewone, die alledaagse. Dit kan egter net ontvang word wanneer mens stil, oop, ontvanklik en nie-veroordelend kyk. . . Dit wat dalk op die oog af lelik is, word dan onverklaarbaar mooi.

So, die HAT is verkeerd, jy is glad nie lelik nie en jy was in helder daglig by ons. Juis in hierdie tyd wat ons die koms van die Lig vier.

Gebed: Here, U vul alles met U teenwoordigheid, letterlik alles! Maak asseblief my oë oop om U in alles raak te sien.

Ps 119:18 Open my eyes so I can see what you show me of your miracle-wonders.

Dankie, liewe geitjie, dat jy nie weggekruip het nie, maar oë kom wys het. Uit die oog uit die hart geld beslis nie hier nie, inteendeel. . .

Joh 1:9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 

Dis twee baie ou Kerskaartjies, beide afdrukke van oorspronklike mondgeverfde skilderye, wat vir my die blye, wyer boodskap van daardie heilige nag kom uitbeeld het.

Die staltoneel en die vorm van die sterre in drie tonele het veral my oog gevang.

Die refleksie kom: ons Redder het met sy brose liggaam in ‘n houtkrip gelê en ‘n paar dekades later het sy brose liggaam weer teen hout gelê, hierdie keer vasgespyker teen ‘n kruis.

Die kruisster wat bokant die krip hang is vir my ‘n heenwysing na die kruis waaraan die Kripkind eendag sou hang. Wat ‘n liefde! Hy wat self God is, het broos en swak geword ter wille van hierdie liefde. 1 Joh 3:16a Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Dit laat my in blye aanbidding buig. . .

Hy nooi ons elke dag om Hom te volg. Dit behels dat ons, net soos Hy, sal opgroei en sterk word.  Luk 2:40 Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Daarvoor moet ons elke dag gevoed word sodat ons uit ons krippe kan klim.  Hy, die Brood van engele, wil ons voed met die beste koring en heuning uit die rots. Ons kan ook vashou aan die wete dat God se genade op ons sal wees, want so bly sy lig steeds tot vandag toe sigbaar.

Die krip en die kruis, dis die twee K’s van Kersfees. Dis die volle verhaal van Kersfees. Dis ons Here se wil dat dit ook ons verhaal sal wees. Die tweede gedeelte van 1 Joh 3:16: Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Hy wil hê dat ons ons kruis sal opneem en Hom sal volg, vanaf die Betlehemster tot by die helder Môrester wat tot hier binne ons kom leef . . .

Ek lees die vanne van dié twee mondkunstenaars, lettergreep per lettergreep: die eerste een is Verster en die een hierbo is Lamphier. Immanuel, God, is hier, Hy is nie ver.

God beproef ons nooit tot breekpunt toe nie – net tot groeipunt toe. – Anoniem

Ek sien dié spesifieke plataanboom op ‘n gereelde basis regdeur die jaar. Dit is reusagtig en ‘n mens moet jou kop ver agtertoe buig om sy top te kan sien.

In die herfs het hy sy blare verloor, reusagtige blare, om later winterkaal te staan.

img_3112

Nou, in die middel van die somer, verloor hy sy bas.

20161129_093646_resized

20161129_081732_resized

Die arme boom word dubbeld gestroop!

Ek weet heeltemal te min van plataanbome om te weet waarom dit so is, maar ek weet dat die Skepper van die plataanboom wel sy plan daarmee het. Sy plan behels groei en nuwe lewe.

Dit laat my besef dat Hy met ons ook op ‘n soortgelyke manier besig is om ons te laat groei. Dikwels voel die Here se behandelingsplan egter soos verlies en verwonding.

Tog het Hy so duidelik vir ons kom wys dat wanneer dit voel asof alles uitmekaar val, Hy ten diepste besig is om iets nuuts te skep.

IMG_0824

Daarom kan ons vashou aan die hoop: daar is wel verlies, maar dis ter wille van ‘n groter plan wat groei insluit.

IMG_2017

Eseg 16:7 groei!’ “Ek het jou soos ‘n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword.

Lukas 13: 19b Dit het gegroei en ‘n boom geword. . .

Daar is ‘n sirkelvormige bankie rondom die stam waarop mens heerlik kan sit en rus in die koelte daarvan. Hierdie boom het al soveel seisoene deurstaan om dit vir ons te kan bied. Al is my boompie maar klein, wil ek graag dit vir mense om my bied. . . Laat U wil met my geskied.

 

Psalm 119:68 U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte.

Dit het so onverwags gebeur: ek is skielik bygedam, op my duim. Ek het my hand na agter uitgesteek omdat ek iets agter my kop gehoor het en daar steek die by my so onverwags, so seer. Iemand help om die angel met ‘n mes uit te skraap. . .

Die raad kom in: smeer koeksoda, tandepasta of heuning aan. Heuning?! Nee dankie, op hierdie stadium wil ek asseblief niks weet van enige by-produk nie!

Aristoteles het gesê: Ons kan nie leer sonder pyn nie.

Met die pynlike rooi swelsel, het ek gaan stilword. Wat wil dié pyn my leer? Toe kom dit: het ons nie maar almal, soos ‘n by, twee ekstreme kante nie? Aan die een kant is ons in staat om soetheid en heilsaamheid te bring en aan die ander kant het ons ‘n giftige angel. . .

by-op-blom

Hoeveel keer bring ek my angelkant na vore, veral met woorde wat seerder as bysteke kan wees en onsigbare pynlike wonde veroorsaak? Dit tref my ook dat hoe selfvernietigend die interaksie vir die by was. . .

by-wat-op-kop-staan

Niemand is goed nie, ons het almal angels. Vreemd genoeg, laat ons angelkante ons besef dat ons sonder die Here niks goeds kan doen nie. Tog aanvaar Hy ons met albei ons kante en het Hy boonop die angel van ons sonde aan sy liggaam aan die kruis gedra.

Dis my begeerte dat hierdie pynlike les sal bly vassteek, dat dit nie by my sal verbygaan nie.

Lyding is ‘n streng onderwyser, maar ‘n uitstekende een, volg die spreekwoord.

Gebed: Here, help my asseblief om ook van my angelkant bewus te wees en eerder egte soetheid, U soetheid, in mense se lewens te bring. Al wat ek moet doen is om digby U te bly vir U werking in my.

Dalk kan ek na ‘n paar dae die woorde van die psalmskrywer beaam in Psalm 119:71 Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

So leer ons wat die hoofsaak en wat bysake is.

img_2081