Ps 147:16 Hy stuur die sneeu. . .

Vriende van ons woon op die oomblik in Duitsland. Hulle stuur onlangs vir ons hierdie sneeufoto:

Dis ‘n sneeuvlokkie, of eintlik ‘n sneeukristal, op ‘n wintersbaadjie! Die whatsapp-vriendegroep was dadelik in vervoering oor die onverwagte skoonheid daarvan.

Dit herinner my toe aan iets wat my bybly omtrent ‘n man genaamd Wilson Bentley wat vanaf 1865-1931 geleef het. Hy was een van die eerste bekende sneeuvlokkie-fotograwe. Dit was ‘n moeilike taak, want selfs onder vriespunt is sneeuvlokkies se bestaan baie kortstondig, omdat hulle sublimeer (gaan direk na die gasfase).

Hy het dit so goed gedoen dat skaars enige iemand anders vir byna 100 jaar groot moeite gedoen het om foto’s van sneeuvlokkies te neem.  Hy het meer as 5000 foto’s daarvan geneem en elkeen van die kristalle was uniek!

Hier is ‘n kort video:

 

Bentley het die sneeuvlokkies poëties beskryf as “klein wonderwerke van skoonheid”.

Hieronder is 72 so bymekaar:

Dit laat mens jou onvermoë besef om in woorde uit te druk, dít wat mens hier ervaar. . . Tog sal ek iets probeer weergee van dít wat my hart aanraak.

Hier is oorvloedige skoonheid vanuit ‘n onuitputlike Bron en elkeen is inderdaad ‘n wonderwerk!

‘n Mens kan amper nie glo wat mens sien nie, dis verstommend, die sesvoudige simmetrie, die briljante orde in elkeen. Die delikate detail is onbeskryflik. U openbaar uself in elkeen van hulle. . . Ek ervaar ook iets daarvan hoe U dit moes geniet het om elkeen te skep, dat dit goed is in U oë en ook dat U bly is wanneer ons dit geniet.

O Heer, U plaas soveel skoonheid in hierdie sneeukristalle wat vir so ‘n vlietende oomblik bestaan. Hoeveel meer skoonheid plaas U nie in ons, die kroon van U skepping, wat na U beeld geskape is nie?!

U het ‘n meesterplan met elkeen van hulle en so ook met ons, al kan ons dit nie nou sien nie, want hier op aarde sal ons altyd net ten dele ken. Laat ons rus in die wete dat U weet wat u unieke plan met elkeen van ons is.  Ons kan bloot net glo en U totaal vertrou dat alles eendag vir ons duidelik sal wees. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!

Wilson Bentley het die sneeukristalle “ysblomme” genoem. Selfs in die koudste weer, selfs in stormwinterweer, bring U steeds vir u kinders blomme! Daarmee saam bring U vir ons ‘n vonkie warmte vanuit U vurige, oorvloedige liefde vir ons. . .

(Foto’s van sneeukristalle uit Duitsland: Bertus Malan)

2 Sam 6:12 Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 14 Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan. 

Die ark was naby, God was naby . . . Hy, die man na God se hart, kon nie anders as om daaroor bly te wees nie. Ek glo dat Dawid se voete bloot sy hart gevolg het, hy kon nie anders as om uitbundig, vreugdevol en met volle oorgawe voor die Here te dans nie.

Hy het uit sy hart gedans, sy hart uitgedans.

Hoeveel te meer behoort ons nie bly te wees, vol feesvreugde te wees nie, want ons is sy tempels. Hy woon binne ons!

Hierdie pragtige woorde is die laastes uit die lied “Lord of the Dance” geskryf deur Sydney Carter:

I’ll live in you if you’ll live in Me
I am the Lord of the dance, said He

Dance, then, wherever you may be
For I am the Lord of the dance, said He
And I’ll lead you all, wherever you may be
And I’ll lead you all in the dance, said He

Soms is dit ‘n uitbundige dans, maar soms is dit ‘n stiller, stadiger dans waar ons bloot net aanleun teen Hom, want in hierdie dans word ons altyd gelei én vasgehou in Ewige arms.

Dit maak nie saak hoe mobiel, hoe oud of hoe jonk ons is, hoe ons ook al die dag voel nie, die dans gebeur altyd in die oop, oorgegewe hart alreeds van hier af tot in die banketsaal van die bruilofsfees, tot in alle ewigheid. . .

 

(Kunswerk deur Clara van Staden)

Wat die lewe draaglik maak, is die skakel wat daar is tussen mens en mens. Audrey Blignaut

 

 

 

 

Verlede week se inskrywing het gegaan oor dié blom wat net vir een dag blom. . .

Presiese ‘n week later is ek weer by Sarha en in dieselfde bedding staan daar nie meer ‘n enkel blom nie, maar twee! Hulle raak aan mekaar en hulle raak my aan. . . Helder spatsels lig val so mooi op albei.

Toe kom die insig: elkeen van ons is draers van God se glorie (die geel op die blomme), maar ook van ons verwondheid (die spatsels rooi).

God bring mense op sy regte tyd bymekaar. As ons dan met waagmoed en brose openhartigheid beide aspekte met daardie spesiale mense in ons lewe deel, gebeur daar iets baie kosbaars, spesiaals.

Dié soete wysheid verduidelik so iets daarvan:

Dit skakel ook so mooi in by die woorde van Prediker 4:9 Twee vaar beter as een. Saam vaar ons dan soveel beter om te ervaar en te aanvaar dit wat in ons lewens na ons toe kom.

2 Petrus 3: 8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Verlede week trek dié asemrowende blom my aandag en ek neem net daar en dan ‘n foto . . .

 

 

Die blom was in Sarha, by wie ek sanglesse kry, se tuin.  Sy sê vir my dat hierdie blom (Tigridia) net vir een dag blom. Sowaar!

Dat U soveel asemrowende skoonheid skep in ‘n blom wat net vir een dag blom, gaan my beperkte begrip heeltemal te bowe. . .

Ek besef hier, dat net soos U weë hoër as ons s’n is, is U tyd ook.

Here, help ons asseblief om in volle bloei te staan op hierdie aarde vir ons een dag, hoe lank U ook al besluit dit sal wees, totdat ons eendag vir altyd in U onverwelklike Koninkryk gaan blom.