Johannes 12:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

Francis van Assisi was ‘n man wat sy lewe neergelê het: ‘n koringkorrel wat gewillig in die grond geval het en gesterf het.

Dit was nie altyd vir hom maklik om hierdie pad van selfverloëning te stap nie.

Hoe was dit vir hom moontlik? Hy het Liefde in die oë gekyk en Sy stem gehoor. Sy lewe sou daarna nooit weer dieselfde wees nie. Hy het geweet dat niks sou hom uit hierdie heilige hande kon ruk nie, niks sou hom daarvan kon skei nie, al was die lewe vir hom soms hoe donker, hoe swaar. Hy het geweet dat die Een wat hom daartoe genooi het, self hierdie pad gestap het en is elke oomblik by Hom en of hy, wat Francis is, dit ervaar het of nie.

Francis het ‘n onverbreekbare band met sy Here gehad. Een van sy gebede was: “My God and my all!”

Sy lewe het ‘n ryke oes gelewer en tot vandag toe nog stroom pelgrims na Assisi, ‘n klein dorpie in Italië, waar Hy geleef het.

Francis inspireer ons om ook Liefde in die oë te kyk en gewillig te wees om ons lewens vir Hom neer te lê. Ons staan elke oomblik voor ‘n keuse of ons ja of nee daarop gaan antwoord.

Die pad van selfverloëning is nie maklik nie, maar dit is die pad na die ware lewe.

Uit die laaste reëls van “The Holy Longing” deur Johann W. Von Goethe word die ander pad beskryf:

And so long as you haven’t experienced this: to die and so to grow,
you are only a troubled guest on the dark earth.

Here, dankie vir voorbeelde van mense soos Francis wat ons vandag nog steeds inspireer om soos U te leef, wat vir ons kom wys het watter vrug U uit een koringkorrel kan voortbring. . .

1 Kor 3:6b maar dit is God wat laat groei het.

Elke lente verwonder ek my opnuut aan die oorvloedige verskyning van nuwe lewe. Hierdie liggroen blaartjies is so pasgebore en broos, maar tog bly hul verbind aan die boom. Dis slegs deur hierdie verbinding dat verdere groei moontlik is.

Dis asof ‘n liefdevolle hand hul vashou. . .

Here, dankie vir tekens van nuwe lewe oral in die natuur. Mag daar tekens van nuwe lewe in ons wees, want ons weet U hand is altyd daar. U hou ons vas, versorg ons en wil ons laat groei. Mag ons dit ervaar en onsself oorgee aan U groeiprosesse.

Ons wil saam met Dawid sing soos in Ps 31:6a  In u hande gee ek my lewe oor…

Die lewe se snye en snoeie laat mens verlies ervaar, so erg dat mens later ‘n gevoel van afgestomptheid mag beleef. . .

Hierdie boom lyk morsdood, asof daar nooit weer lewe uit sal spruit nie. ‘n skynbaar hopelose toestand.

Maar tog, op ‘n dag:

Dis ‘n wyse Hand wat gesnoei het, dis dieselfde Hand wat laat groei het.

Sy plan is altyd ‘n groeiplan, maar dit word voorafgegaan deur ‘n pynlike snoeiplan. . .

Here, vergewe my dat ek so dikwels net ‘n nuwe seisoen se oorvloedige koms wil ervaar en tydens die wintertyd so gedurig kan kla, myself so bejammer en so stompsinnig kan wees.

Help ons asseblief om in elke seisoen net te weet: U volmaakte tuiniershand is op ons. Help ons om onlosmaaklik aan U verbind te bly, in die onverstaanbare, onverklaarbare kaalgestrooptheid, maar ook in die daaropvolgende seisoen met sy oorvloedige liggroen groei.

Na elke snoei groei ons lewensbome soos U dit wil hê. Ons wortels is versterk teen storms en kan ons selfs meer skadu aan moeë reisigers bied.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf dou as volg: “Vogtigheid in die lug wat op die oppervlak van koue voorwerpe neerslaan, veral in die nag.”

Sagaria 8:12 “Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer.

Deut 33:28 Daarom sal Israel in veiligheid woon, en die voorspoedige Jakob in sekerheid, in ’n land van koring en wyn, waar dou van die hemel drup.

In die donkerte van die nag, gebeur iets baie spesiaals: hemelse geskenke word druppelsgewys gedeponeer.

Ps 127:2 In vain is your earlier rising, your going later to rest, you who toil for the bread you eat, when he pours gifts on his beloved while they slumber. 

Here, soos wat U in die natuur u dou oornag skenk, skenk U aan ons ‘n dou-seën deur elke nag: dít wat ons nodig het vir die nuwe dag. In elke druppel is U en u tere sorg ingebou. Met elke sonsopkoms kan ons ontdek dat dit reeds daar is: druppels genade met hemelse presisie afgelewer vir elkeen van U kinders elke dag.

Laat asseblief U onverdiende porsies lewegewende geskenke ons binnedring en ons verkwik, verfris, om met hernude ywer elke dag voluit vir U te leef. So sal ons elke dag se stormwaters kan trotseer, want ons is dou-deurdrenk!

Elke doudruppel is ‘n druppel hemel wat op ons val en is ‘n seker teken van U seën en trou. . .

Ons was vir ‘n paar dae in die Pilanesbergomgewing gewees. Die een dag sit ons buite ons huisie en hier kom land ‘n geelbekneushoringvoël sommer so op die ruglening van een van die stoele, reg hier by ons. Hy gee genoeg kans sodat ek die kameralens kon inspan om hom van naderby te bekyk. Hy het my hom van alle hoeke laat beskou, selfs later sy rug op my gedraai en ons het mekaar as’t ware aangegaap.

Dis deur die lens wat ek iets opmerk. . .

Daar is iets baie unieks aan die neushoringvoëlfamilie: hulle het wimpers! Sowaar!

Met verdere internetondersoek bly dit dat dit net hulle en volstruise is wat wimpers het.

Dit het my weer eens laat besef hoe wonderbaarlik ons God alles geskape het, verweef het. Ook hierdie neushoringvoël is haarfyn beplan!

Hulle het ook die bynaam as “vlieënde piesangs” verwerf. Dis nie moeilik om te sien waarom nie. Ek weet nie of hy by my kom kos soek het nie, maar hierdie vlieënde piesang het mý beslis gevoed.

Ps 139:14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

Here, U het álles op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Dit laat ‘n loflied op ons lippe weerklink!