Lukas 10:33-34 Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind.

Vandag se bloginskrywing speel ook by ons huis af, hierdie keer sommer in die kombuis. . .

 

Om jou nuuskierigheid te prikkel:

Wat was hier onder my lens?

Twee dae gelede waarsku my seun my dat daar ‘n geitjie in die kombuis is en dat ek versigtig daar moet trap. Toe ek in die kombuis kom, het ek totaal daarvan vergeet en terwyl ek effens haastig is, sien ek iets soos ‘n “vuil kol” op die vloer. Ek kyk van naderby en sien toe dat dit ‘n piepklein, stertlose geitjie is. So byna het ek dit onwetend raakgetrap! Hy is so klein en weerloos. . .

Versigtig plaas ek ‘n trappie daaroor sodat niemand op hom trap nie.

As dit nou is waar hy wil wees, nou wil skuil, laat hy dan daar bly. Die arme geitjie moes verskriklik geskrik het om sy stert te verloor en wou seker hier herstel. . .

Dis nou Lydenstyd waar ons opnuut uitgedaag word om selfondersoek in te stel en toe te laat dat ons harte getransformeer word.

Joel 2:12 “‘And yet even now,’ says the Lord, ‘return to me with all your heart . . .’”

ransformeer

U kruis hard
U hart sag
my kruis sag
my hart hard

Here, U weet dat alleenlik ‘n hartomkeer ons lewens handomkeer sal verander.

Sagte harte lei tot sagte oë, hande en voete. . . So word ons U liggaam hier op aarde.

Dan sal ons vir mekaar veilige ruimtes skep om tot rus en heelwording te kom; dis hoe u Ligkoninkryk grondvat. . .

Lukas 10:37 Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

Ons tuin-inwonende lyster se verhaal gaan steeds voort. . .

Op 13 Januarie vanjaar, verskyn sy weer voor my lens. Dit beteken sy woon alreeds vir ‘n bietjie meer as ses jaar hier by ons! In voëljare moet sy seker al baie oud wees. . .

Sy draai haar kop na my.

Kort daarna staan sy en pryk met hierdie sappige grasvonds. . .

So deur al hierdie jare heen was daar vir haar baie voedselskatte in ons tuin en dit terwyl sy kon oorleef te midde van verskeie besoekerskatte. . .

Matt 6:26 Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel.

Hoe op aarde weet ek dat dit dieselfde lyster is?

Hier is dit:

Sy het al van 2011 af al net een been gehad! Dit maak haar so ekstra spesiaal. . .

Here, U sorg vir hierdie eenbeen geelbeklyster al vir meer as ses jaar, reg onder ons neuse en oë. Met haar gestremdheid en al oorleef sy, floreer sy en bekoor sy ons boonop daagliks met haar pragtige, kenmerkende lysterklanke. . .

Wat fluister sy? Ek spits my hartsore. . . “As God so mooi vir my sorg, hoeveel te meer sorg Hy nie vir julle nie?”

Petrus beskryf dit so – 1 Petrus 5:7 Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Psalm 74:17 U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.

Hierdie foto van dieselfde lyster is vier jaar later geneem, op 21 Desember 2015, waar sy op dieselfde muur staan.

Lyk my selfs lysters word ook grys. . .

When you really gaze at something, you bring it inside you. John O’Donohu

Hierdie foto ontlok soveel emosie binne mens. Dit is somer, tog het die grys agtergrond ‘n winteratmosfeer. Sy staan nou alleen op die muur (vergelyk dit met verlede week se foto).

We don’t see things as they are, we see them as we are. Anais Nin

M. Scott Peck se woorde uit sy boek The Road Less Travelled kom by my op: LIFE IS DIFFICULT. This is a great truth, one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it. Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult. Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.

Aanvaarding is vir my die sleutel wat die deur na ‘n groter lewe oopsluit; ‘n diep ja, vir wat ook al oor ons pad kom, omdat ons ‘n diep vertroue, anderkant rede het, want ons weet in Wie se hand ook hierdie seisoen is, maak nie saak wat gebeur nie. Daar is altyd ‘n groter plan, egter dikwels nog versteek vir ons, wat aan die werk is . . .

Dit laat my ook dink aan die Prediker se woorde:

Pred 3:1-11  Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:  daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek, ‘n tyd om ‘n lewe te neem, ‘n tyd om ‘n lewe te red, ‘n tyd om af te breek, ‘n tyd om te bou, ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans,  ‘n tyd om klippe weg te gooi, ‘n tyd om hulle bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels, ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af,  ‘n tyd om aan te skaf, ‘n tyd om te laat wegraak, ‘n tyd om te spaar, ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur, ‘n tyd om toe te werk, ‘n tyd om stil te bly, ‘n tyd om te praat, ‘n tyd om lief te hê, ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog, ‘n tyd vir vrede.  Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei? Ek het gesien dat God aan die mens ‘n taak gegee het om hom mee besig te hou.  God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

Dankie Heer, vir elke seisoen in ons lewens. U is altyd op pad saam met ons, elke oomblik van ons lewens. Help ons tydens elke seisoen om nog nader aan U te groei en versterk anderkant uit te kom. U wil ons verander om soos U te sien, om al meer soos U te word.

Ps 32:10b Maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.

Is dit nie juis wanneer ons totaal magteloos is dat ons onverklaarbaar wéét dat hierdie omvouende Vlerke so oneindiglik sterk, maar terselfdertyd ook so mateloos sag is nie?

(Indien julle dalk wonder hoe ek weet dat dit dieselfde lyster is, kyk baie fyn. . . Volgende week vertel ek meer.)

Sommige stories vra mos maar net om vertel te word, en hierdie storie is een van hulle. Dit kon iewers in ‘n rivierbos of in die wye Karoo afgespeel het, maar ons voorstedelike tuin is verkies. Die storie het alreeds in 2011 begin. . .

Op 30 November daardie jaar was hierdie tweetjies op ons grensmuur en het hulle lank genoeg stil bly sit sodat ek ‘n foto van hul kon neem. Hierdie foto bêre ek alreeds van toe af. Dalk het ek intuïtief aangevoel dat hier ‘n storie aan die ontvou was. . .

Dit was Ma en kind geelbeklyster (Engels: Karoo Thrush). Eintlik was die jongeling toe eerder nog “grysbeklyster”. Hierdie foto het my diep aangeraak en laat mens se hart sommer warm klop. Dis asof mens die band tussen ma en kind kan ervaar, selfs hier in die voëlryk.

Sy pryk in herhalende geel: bek, been en oogring, terwyl die jongeling s’n vir eers nog grys is. Dit sou later vergeel.

Hul vere is so pragtig, Ma-lyster s’n is netjies, perfek. Die kleintjie s’n lyk effens onnet, tog kan mens sommer die donssagtheid van die jong veertjies ervaar.  Was hierdie dalk ‘n spesiale Ma en kind uitstappie?

Dis somer en die groen bome vorm ‘n sagte agtergrond vir hierdie tafereel. Dis ‘n groeiseisoen. . .

Die volgende twee Skrifgedeeltes kom op:

Matt 6:26 Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel.

Psalm 91:4 Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild.

Mag dit ons gemotiveerd laat voel om ons lewe vry en voluit te leef as u kinders; geliefd, kosbaar, gekoester, beskerm en versorg in alle opsigte!

So gebruik U u geveerdes vandag nog om vir ons spesiale boodskappe te bring. . .

Volgende week vertel ek verder.