Sommige stories vra mos maar net om vertel te word, en hierdie storie is een van hulle. Dit kon iewers in ‘n rivierbos of in die wye Karoo afgespeel het, maar ons voorstedelike tuin is verkies. Die storie het alreeds in 2011 begin. . .

Op 30 November daardie jaar was hierdie tweetjies op ons grensmuur en het hulle lank genoeg stil bly sit sodat ek ‘n foto van hul kon neem. Hierdie foto bêre ek alreeds van toe af. Dalk het ek intuïtief aangevoel dat hier ‘n storie aan die ontvou was. . .

Dit was Ma en kind geelbeklyster (Engels: Karoo Thrush). Eintlik was die jongeling toe eerder nog “grysbeklyster”. Hierdie foto het my diep aangeraak en laat mens se hart sommer warm klop. Dis asof mens die band tussen ma en kind kan ervaar, selfs hier in die voëlryk.

Sy pryk in herhalende geel: bek, been en oogring, terwyl die jongeling s’n vir eers nog grys is. Dit sou later vergeel.

Hul vere is so pragtig, Ma-lyster s’n is netjies, perfek. Die kleintjie s’n lyk effens onnet, tog kan mens sommer die donssagtheid van die jong veertjies ervaar.  Was hierdie dalk ‘n spesiale Ma en kind uitstappie?

Dis somer en die groen bome vorm ‘n sagte agtergrond vir hierdie tafereel. Dis ‘n groeiseisoen. . .

Die volgende twee Skrifgedeeltes kom op:

Matt 6:26 Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel.

Psalm 91:4 Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild.

Mag dit ons gemotiveerd laat voel om ons lewe vry en voluit te leef as u kinders; geliefd, kosbaar, gekoester, beskerm en versorg in alle opsigte!

So gebruik U u geveerdes vandag nog om vir ons spesiale boodskappe te bring. . .

Volgende week vertel ek verder.

2 Thoughts on “Laat ons luister wat die lyster vir ons fluister (1).

  1. Zaaiman Stander on February 2, 2018 at 12:58 pm said:

    Ek en Jannij het ook soveel vreugde in die voëls gevind. Het Hy Sy engeltjies gestuur met die opdrag, jy kan hulle maar gaan verf, gebruik jou inisiatief, of het Hy elkeen self in detail geskep? En tog is die mens die kroon van Sy skepping. Met hoeveel sorg het Hy ons nie elkeen gemaak nie! Dankie vir so ‘n mooi stukkie.

  2. Lindy Jordaan on February 6, 2018 at 7:47 pm said:

    Psalm 91 is juis hoekom ek so van vere hou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation