Markus 15:46 Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol…

‘n Rukkie gelede het ek vir ‘n lang tyd stil by hierdie stasie van die lewe by die Origins retreatsentrum stil geword.

Die oorvloedige groen en die lig aan hierdie kant is opmerklik. . .

Aan die ander kant van die steen is dit donker, onseker en grafstil, asof daar net mooi niks aan die gebeur is nie.

Dis ‘n tyd van ‘n magtelose wag en wag. . .

Maar dit kan ook ‘n tyd van hoopvolle afwagting wees, met die diep wete: God is altyd aan die werk en sy plan is altyd ‘n groeiplan en op pad na die lig, al verstaan of sien ons niks dáár daarvan nie.

Here, vergewe ons weerstand en ongeduld met u tydsberekening, u pas, in gebiede en tye van ons lewens waar ons in donker onsekerheid moet wag. U tydsberekening is totaal anders as ons s’n: U s’n is volmaak. Ons word daaraan herinner in 2 Petrus 3:8 – Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

In Sheila Cussons se laaste reëls uit haar gedig Klag skryf sy:

O God, U alleen is al my krag,
leer my dan, leer my dan
leer my bomenslik dadeloos geduldig wag.

So word dit dan nie net bloot ‘n wag nie, maar ‘n wagtydperk; dit word so mooi in Engels gesê: the tomb becomes the womb. . .

‘n Vriendin vertel hierdie week baie opgewonde van ‘n helikopterrit wat sy onlangs beleef het en hoe die aarde so anders, so pragtig, van daar bo af lyk.

‘n Vlerk-tema begin posvat. . .

Hierdie woorde kom uit ‘n lied Give Me Wings:

 

High above the clouds
I can see the beauty down below
And I know You’re holding me
I’ll never fly alone
Give me to reach the sky
Moving up I’m rising high
Give me wings to fly

Maar hoe? Ons voel dikwels so vasgevang in ons omstandighede en ons perspektief raak erg beperk.

In die lig van Sy teenwoordigheid kan ons egter bewus word daarvan dat daar ‘n uitnodiging na ‘n wyer, groter lewe wink. Ek glo dat ‘n diep geborgenheid en die wete dat mens toegevou is in Sy liefdeslig, al is dit hoe donker daar buite, ‘n hart sy vlerke sal laat voel. Onverklaarbaar kom daar ‘n ligtheid anderkant rede. . .

Hy gee alles: die beskutting, die vlerke, die sterkte en die wind!

Met dankbare en gewillige harte sprei ons ons vlerke. . .

So is U genadige plan om ons al dieper en verder in U wye ruimtes in te trek. . .

Vroeër hierdie week sien ek ‘n ongewone gesig voor my studeerkamervenster: ‘n herfsblaardans!

Ek moes net nader gaan. . .

 

 

Die hele dag het sy heen en weer uitbundig in die wind bly dans. ‘n Ragfyn spinnedraadjie is al wat haar nog hier tussen hemel en aarde vasgehou het. Heen en weer, om en om het sy vrolik bly dans. . .

Die laaste twee sinne vanuit die pen van Langenhoven verwoord iets hiervan:

“Dis die smorende vuur wat swaarkry,
En tog nie die kos kan gaarkry.
En die vrolike vlam wat klap en kraak,
Dis hy wat sy taak tot vermaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.”

Sjoe, wat ‘n paradoks!

Jesus het met hierdie woorde kort voordat Hy gekruisig is, geen doekies omgedraai nie:

Johannes 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Jesus het altyd geweet dat sy Vader besig is met ‘n groter plan.  Daarom kan ons vandag vol moed en vrede bly, al is die lewe swaar. Ons kan bly vashou daaraan, al voel dit soms asof ons lewe uitmekaar val: ons word vasgehou in die hande van ‘n Oorwinnaar!

Net eergister kyk ek op en sien hierdie blaar wat binnekort sou val:

‘n Hart skyn deur!

Heer, u liefdeshart is altyd daar, maak nie saak waar ons onsself bevind nie. . .

Word ons so lig sodat ons val ons laat beland in heilige grond, transformerende grond?

Op ‘n voorstedelike sypaadjie staan hulle kiertsregop, fier en fraai: hierdie stokrose.

Hulle is pragtig en ‘n mens kan nie anders as om nader te gaan nie.

Toe wag daar iets wat bydra om hierdie prentjie asemrowend te maak:

Die lig val sag daar waar sy omvou word deur die pienk weelderige blomblare. Sy is besig met haar by-werk: haar nektarsuig, terwyl die stuifmeel op haar rug rus. . .

Wat is dit wat my so diep raak?

Daar is iets heiligs wat hier aan die afspeel is. . .

U het alles met ‘n doel en met die fynste presisie geskape. Hierdie by doen presies waarvoor sy geskape is. Kan ek dieselfde sê?

Jesus se woorde teen die einde van sy aarde bestaan, kom by my op:

Johannes 17:4 Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

Gewone mense vir wie dít die hoofsaak in hulle lewe was, en nie ‘n blote bysaak nie, inspireer ons steeds vandag, selfs eeue na hul dood. Francis van Assisi  (1181-1226) was ‘n man wat so geleef het. Hierdie woorde van hom nooi ons uit, daag ons uit:

Here, ons kan so gou vergeet waarom ons hier is, ons kan so aandagafleibaar leef. Mag ons elke dag lank genoeg by U, wat liefde is, stilsit met die vraag: leef ons soos U wil hê ons moet? Mag ons toelaat dat U transformerende krag in ons werk elke oomblik van ons lewe.

Ons kan dan so leef, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. (Fil 2:13).

Daar is ‘n onverklaarbare diep, soete vrede anderkant rede wanneer mens leef soos U wil hê, wanneer ons meewerk om U koninkryk op aarde te help uitbrei. Dis ‘n lewe wat in al sy volheid gelewe word. Irenaeus skryf: The Glory of God is a human being fully alive.

Ons wil elke dag leef in die lig van U teenwoordigheid, met harte vol oorvloedige blydskap en nederige dankbaarheid, gevul met die wete: U, die Koning van die ganse heelal, gebruik ons!

Mag die by-foto se diep boodskap ons bybly elke dag van ons lewens. . .

Lukas 24:34 “Die Here het regtig opgestaan…

Hieronder is die Paaslied van die Oosters-Ortodokse kerk:

Hy wat die aarde teen die uitspansel gehang het,
het nog eergister aan die kruis gehang.

Hy wat die Koning van die engele is,
het nog eergister ‘n doringkroon gedra.

Hy wat die berge in wolke klee,
het nog eergister die kleed van spot gedra.

Die Bruidegom wat sy kerkbruid gaan kom haal,
was met spykers aan ‘n kruis genael.

Die Wonderseun van ‘n maagd,
is met ‘n spies deurboor.
Ons wat gister en eergister
u lyding beween het,

juig vandag oor U stralende opstanding!

Dankie Here, dat U wáárlik opgestaan het! Ons wéét, want u bevestig hierdie heerlike waarheid binne ons en die vonk(el) in die oë van U kinders getuig van hierdie wonder. . .

Here, help ons asseblief om elke dag diep aan U verbind te bly, sodat ons vanuit u opstandingskrag kan leef en so ‘n kragtige lig in ons wêreld te wees; U lig. . .

1 Petrus 2:9 Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Dan sal ons ook soos U apostels in Handelinge 4:20 kan sê: “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”