‘n Opstaangebed

Here, vanoggend wil ek
voor ek opstaan
eers gaan lê:
my wil gaan neerlê voor U,
dit afstaan. . .
sodat Ú kan opstaan
in my
en dit Ú voete is
wat hier grond raak. .
sodat Ú deur my leef
in hierdie nuwe dag
help my seblief in elke oomblik
om oop en wakker te leef
om te sien of hierdie willetjie
van my steeds lê
en of hy sowaar al weer opgestaan het!

Matteus 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Romeine 8:15-16 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 

1 Johannes 3:1 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook…

Matteus 7:9-11 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

Hý weet wat die beste vir ons is:

Abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

 

Dankie, Vader, vir hierdie ongelooflike voorreg dat ons U kinders mag wees en dat ons altyd veilig in U hande is.  Ons wil hierdie wonderlikste waarheid elke dag opnuut ervaar en daaruit leef.

Dankie Here vir die seën van Godsmanne waardeur ons ‘n blik op u Vaderhart mag kry.

Hebreërs 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

 

 

 

Geloofsheld

nou in stille vrede en oorgawe
terwyl die kille winterswind
geniepsig deur jou waai
gestroop, maar tog vól hoop –
jou wortels stilweg ingebed
versterk, vertak, verdwerg:
gereed, geanker, onwankelbaar. . .
staan jy regop en fier,
kalm, rustend en gekoester
effens ongeërg,
houtgerus
want elke oop tak en vertakking
reik in volle vertroue, doelbewus
opwaarts, in stil blye verwagting
op die Tuinier
se perfekte uur. . .

 

Winter lê om die draai. . .

Die laaste verkleurde blare val en die bome verkaal.

Wanneer dit soms vir ons voel asof ons lewensblare een vir een val, is daar U troos:

Jesaja 49:15 Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.

Jer 23:24 Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

Psalm 139:5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.

Heer, ingeval ons weer sou vergeet, herinner ons asseblief daaraan dat ons nooit uit U kan val nie, dis onmoontlik, totaal en al onmoontlik!