Die storie van die geelvink en diederik duur voort. . .

Iemand wat ‘n voëlkenner is en ook my blog lees, stuur vir my die volgende inligting wat lig op die inskrywing van 4 Januarie 2019 werp.

Het ek die storie aan die stert(veer) beetgehad?

Hoe dikwels sien ons nie net die stert van die storie en weet nie wat die lyfgedeelte daarvan is nie? Of anders gestel: hoe is ons nie geneig om net ‘n gedeelte van ‘n gebeurtenis te sien en ons eie gevolgtrekkings daaroor te maak nie?

Dit lyk asof die diederik dalk die vink se nes ondersoek het om te kyk of sy vroutjie se eiers daarin gelê kan word. Meneer diederik is toe eintlik ‘n “vyand” van meneer vink! Meneer geelvink was toe nie groen van jaloesie nie, maar eerder rooi van woede!

Ons weet van beter om nie mekaar se huise/neste oor te neem nie, maar meneer diederik kan nie anders nie, hy is so geskape, dis sy aard. Miskien is hy geskep sonder enige nesbouvaardighede en meneer vink is juis so ‘n kundige op dié terrein (hy moet mos juis oor en oor ‘n nes bou totdat sy vroutjie tevrede daarmee is).

Here, daar is soveel wat ons nie weet nie en ons kan maar net in verwondering staan voor U wat alles so haarfyn, selfs veerfyn, beplan het!

Ps 104:24 Here, U het baie dinge gemaak, ons sien u wysheid in alles wat U gemaak het. Die aarde is vol van alles wat U gemaak het.

Die blogstorie van 4 Januarie het as inspirasie gedien vir die storie wat hier gaan volg.

Ek het myself ingedink in die skoene, of moet ek eerder sê die wortels, van hierdie katjiepieringstruik op die stoep buite ons kamervenster. . .

“Ek staan hier op die boonste stoep van die Roosgesin se woning. Ek is nie baie groot nie. Stoksielalleen staan ek dag vir dag geplant in ‘n pot. Daar buite in hul tuin is daar groot bome wat tog al te imposant vertoon terwyl hulle skouer aan skouer uittoring bo die grond. Teenoor hulle lyk ek maar seker verpiep en minderwaardig.

Maar op ‘n dag, toe die diederik in groot nood was, was ek daar, op die regte plek om skuiling aan hom te bied. Ek het sy bang lyfie voel skud teen myne. Later het ek gevoel hoe hy bedaar en toe wegvlieg. My planthart het gebons van vreugde! Toe weet ek dat ook ek ‘n verskil kan maak, in my nietigheid, net daar waar ek is! Die diederik beloon my daagliks met sy allermooiste melodie. Ek sug behaaglik wanneer ek dit hoor tussen die ander voëlgesang. Sy sang is vir my nou net die mooiste!”

My seun sê gereeld vir my dat ek ‘n ryk verbeelding het en dis sekerlik waar, maar vandat ek myself in die skoene (wortels) van die struik ingedink het, raak dit vir my makliker om my in ‘n ander mens se skoene in te dink, of in te voel. Noem ons dit in mensetaal “empatie”?

Dis wanneer mens stil genoeg raak en jou verbeelding vrye teuels gee, sal selfs ‘n plant mens kan leer!

Dinsdagaand was hier ‘n hewige reënbui en my seun stuur vir my hierdie foto wat hy van ons einste katjiepieringstruik geneem het:

Ek kyk en kyk daarna en besef hoedat onverwagte seën en groei kom wanneer ons gehoorsaam is en bereid is om ten volle onsself te wees. So kan die Here ons op onverwagse maniere gebruik om ‘n seën vir ander te wees. Ons is nooit te klein of onbenullig om deur Hom gebruik te word nie!

If you change the way you look at things, the things you look at change. Wayne Dyer

My Ma laat weet vroeër hierdie week dat haar bestuurderslisensie gereed is om afgehaal te word en vra my om haar na die lisensiekantore toe te neem.

Dit klink na ‘n kort uitstappie: dis mos net ‘n-afhaal-en-ry? Maar o wee, toe ons daar kom is daar baie mense wat dieselfde idee gehad het om ook op hierdie oggend hul lisensies af te haal. My moed sak in my skoene toe ek die lengte van die tou sien en dit omskakel na uureenheid. Vir baie van ons moet alles mos in ‘n kits gebeur, anders raak ons sommer dadelik omgeklits!

Dis interessant om die gesigte van die mense wat net daar aankom dop te hou tot op die punt waar hulle besef waar die punt van die tou is. . . Dis seker hoe my gesig ook gelyk het as iemand my sou dophou! Dis moeilik om jou teleurstelling te verberg.

Net daar besef ek dat ek ‘n keuse het hoe ek in die tou wil staan: met ‘n nie-aanvaardende of ‘n aanvaardende houding. Ek begin die mense om my met ‘n nuuskierige houding dop te hou. Die meeste raak verlore in die skerms van hul fone, terwyl enkeles geselsies aanknoop met die mense om hulle en ander sit of staan net.

Meteens het ek besef dat ek naby mense staan waarmee ek dalk nooit andersins in kontak sou kom nie en ek kon heerlike geselsies aanknoop. Ons is almal in dieselfde tou- bootjie. . . Ons het ‘n invloed op mekaar en ons kan besluit of dit positief of negatief gaan wees. . .

Op die ou einde toe ons na ‘n lang wag geholpe geraak het en terug motor toe loop, voel ek sommer lig.

Ons hou nie van die w-woord, die wag-woord nie, maar as ons ‘n wagtyd aanvaar en nie weerstand daarteen bied nie, is dit vol onverwagte skatte. Nêrens is dit belangriker as op ons pad met die Here nie. . .

Hy het die wêreld se tyd! Dis ons, sy mensekinders, wat so haastig en ongeduldig kan raak, terwyl Hy vir ons soveel belangrike lewenslesse in ons wagtyd kan en wil leer en ons omvorm in ons wagtyd.

Ps 131:3 Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Help ons Here om altyd op U te bly wag.

‘n Ons-word-nog-rustig-wakker tyd is een oggend hierdie week skielik onderbreek deur ‘n harde slag! Ons kyk albei in die rigting daarvan en sien net ‘n dalende flits van die allermooiste groene soos die diederik skuiling soek binne-in die potplant op die stoep buite ons kamervenster, nadat dit een van die ander kamers se venster met ‘n harde slag getref het.

Ons het geweet dis hy, want hy het ons vroegoggend al bekoor met sy sang.  Dis net hy wat hier in ons tuin met hierdie asemrowende groen verejas spog (sien blog van 16 November 2018).

Die geelvink het hom verjaag in ‘n dolle vaart en die diederik het hom misgis met die venster (dalk het hy gemeen dis ‘n veilige plek om heen te vlug). Die potplant was sy redding. . . Die geelvink het daarna ewe triomfantelik hoog op ‘n telefoondraad gaan sit.

Ons het geweet die arme voëltjie sit verskrik daar binne en is dalk beseer. Ons het bly kyk en toe ons kamera’s gaan haal om hierdie ongewone toneel vas te lê. Versigtig het ons nader gegaan en ‘n paar foto’s geneem en weer teruggegaan om hom in vrede te los. . . Sy vrees was waarneembaar. . .

‘n Paar minute later het die blye toneel voor ons afgespeel: hy vlieg op en gaan sit hoog in ‘n boom, skynbaar ongedeerd. Verligting het oor ons gespoel!

Waarom sou die geelvink dit doen? Het die diederik sy grense oorskry, hom dalk gepla of was die geelvink dalk jaloers?

Ons sal seker nooit weet nie. Ons is net dankbaar dat die ou groen lyfie weer vry, op vrye vlerk en voet is. . .

Die lewe is nie altyd so soet nie. Maar wonderbaarlik is daar vir ons skuil- en herstelplekke op presies die regte tyd soms net daar! As God so mooi vir sy voëlkinders sorg, hoeveel te meer nie vir sy mensekinders nie?

Matt 6:26b  …julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Mooier sorgwoorde as dit sal mens nêrens kry nie!