Joy is the serious business of heaven.  C. S. Lewis

Bekyk ‘n bietjie hierdie foto van naderby:

 

 

 



Dis asof hierdie by vol blydskap, gefokus en met lewenskrag haar dagtaak verrig. Ek glo dat hierdie by U vereer deur haar by-werk te doen, dít waarvoor U haar geskape het.

Here, help ons asseblief, om dít op aarde te doen waarvoor U elkeen van ons geskape het, sodat ook ons U daardeur sal verheerlik. Ek glo dat ‘n mens sy grootste blydskap só vind.

Dankie dat ons weet dat U ons gewillig en bekwaam maak om U wil uit te voer, en ook vir ons die geesdrif en ywer daarvoor gee.

Dankie vir hierdie wonderlike woorde in Psalm 16:11 U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie. U gee altyd vir u kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.

Dis hierdie blydskap wat ons krag is en wat niemand van ons kan wegneem nie. Dis egte, ware blydskap.

Mag ons blydskap in ons daaglikse leef en werk aansteeklik wees, sodat ‘n stukkie hemel alreeds hier op aarde beleef kan word!

Op die oomblik verhelder die aalwyne ons andersins vaal winter so skouspelagtig met hul vurige kleure!



Wanneer mens lank genoeg naby hulle gaan stilstaan, sien mens die beweging raak: die bye. . .

Met oop oë, hart en ore het ek gewonder wat hierdie by my kan leer?

Die volgende gebed het gevorm:

Here, ek wil ook soos hierdie by wees: om nektar selfs in die koue, vaal en harde wintertye te bly soek en dit wat ek vind, in te drink en ook diep binne my te bêre om dit later gewilliglik saam te gaan poel, alles ter wille van ‘n groter doel. So mag elkeen van ons ons klein deeltjie bydra om in ‘n bitter wêreld soetigheid te help bring; want wie van ons smag tog nie diep binne ons na ‘n land van melk en heuning nie?

Die laaste herfsblare van die boom buite my studeerkamervenster is stadigaan besig om hul greep op die boom te verloor. . .

Dis ‘n seisoen van verlies, een van laat gaan. . .

Maar die lig wat daarop val, getuig van ons Here se teenwoordigheid ook hier. . .

Here, in die lig van u teenwoordigheid is ons áltyd stewig in u ewige greep, maak nie saak waar en waarin ons onsself bevind nie.

Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.