Matt 5:14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig…

Kersfees is om die draai en oral is dit net blink, blink liggies en geskenke:

In hierdie tyd wat ons kerse opsteek om ons aan die boodskap van Kersfees te herinner, kan mens hieroor reflekteer:

Wanneer ‘n kers begin brand, is daar ‘n klein stukkie was om die pit en daarmee begin die kers te brand. Baie gou is hierdie was egter opgebrand en die vlam word al hoe kleiner, maar intussen is genoeg hitte gegenereer om die was aan die bokant van die kers te smelt en die vlam kan brand omdat die groot hoeveelheid was van die kers die vlam nou kan voed.

Dis beter om dit te sien:

Dis byna asof die kers teen die einde ‘n gedaanteverandering ondergaan. . .

Ligdraers

was dit nie vir U nie,
Lig vir die wêreld,
sou ons vlammetjie
nooit kon bly brand nie:
ons raak gou uitgeput
leef ons so sonder fut. . .
en ons eie pogings kwyn
totdat ons
in volle oorgawe inbed,
inwortel in die ewige Bron
wat ons binnedring
en deur ons opwel. . .
sodat ons moeiteloos
volhoudend kan brand
en ook óns U lig
vir die wêreld kan
bring

Here, help ons dat U lig alleen deur ons skyn. Ons donker wêreld het U lig so nodig. Sonder U liefdeslig bly ons in die donker.

Die grootste geskenk wat ons aan die wêreld kan gee, is om die grootste Geskenk deur ons te laat vloei, te laat skyn. . .

Al wat U van ons vra is ons ja. Mag ons elkeen hierdie tyd en altyd tot U beskikking wees.

Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation