Hierdie week het die sluimerende beurtkragmonster weer haar aaklige kop opgelig en stuksgewys ons ligte uitgeblus. . .

Ek self wil slange vang wanneer dit gebeur en ek voel glad nie trots daarop om dit te sê nie, maar dis hoe ek voel!

Tog wag daar in hierdie tye ook ongelooflike geskenke vir ons in selfondersoek, insig en perspektief.

Dis so maklik om ‘n vinger te wys na “hulle” wat so korrup is, maar kan ons regtig? Rom 3:10 Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie… Markus 10:18 Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed.

Ons het álmal die stryd tussen lig en donker wat binne ons woed.

Paulus sê in Romeine 7:15 Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.

U soeklig skyn in tye soos hierdie juis helder (selfs pynlik) op ons donker kolle as ons oop is daarvoor.

Vanoggend was ek opnuut so dankbaar toe die son sy oranje kop oor die horison lig! Sê nou maar net U son het nie vanoggend opgekom nie? Dit laat my hierdie beurtkragongerief in ‘n totaal ander lig sien!

En dis nie al nie, die beste lê nog voor: ons, U kinders, weet dat daar ‘n tyd gaan kom wanneer Uself die enigste ligbron gaan wees!

Openbaring 22:4-5 Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer.

Paulus se woorde help ons vandag nog  – Fil 2:14-16a Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.

Brilliant people don’t deny the dark; they are the ones who never stop looking for His light in everything. – Ann Voskamp

Wanneer ons stil word en ons oë rig op U, weet ons dat ons sonder U niks goeds kan doen nie. Daarom is dit lewensnoodsaaklik dat ons altyd in verbinding met U moet bly leef, ons kan nie bekostig om ons konneksie met U te verloor nie.

Ons kan dus wanneer beurtkrag ons wêreld se ligte laat afgaan, die tyd gebruik om te ontspan, ons oë van ons skerms af te lig en opnuut op U ewige, onblusbare lig te rig. . .

Joh 10:10b Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.

Van kleins af wil ons weet dat ons groei. Ons wil groter word, meer dinge doen en bereik. Ons wil tog net nie kom by ‘n punt waar ons nie meer groei nie. Daarom probeer ons allerlei dinge om te verseker dat groei plaasvind. Wat ek al meer en meer besef soos ek ouer word, is dat die enigste ware groei dié is wat deur ons gebeur, wanneer ons ruimte skep daarvoor:

Vervulling

Heer, ék wou floreer
dit was my strewe
maar nou die wete –
om bloot rustig en stil
by U te sit
sonder beheer
U alleen te begeer,
en die wonder van wat gebeur:
U nuwe lewe groei en rank
oorvloedig binne my op
. . .

nou leef ek nie meer
maar Ú, my ewige Heer

Hoe wonderlik is U Woord:

Efes 3:19b Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

Joh 3:30 Hy moet meer word en ek minder.

2 Kor 12:9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Matt 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Ons is swak en hulpeloos, Here. Dankie vir U oneindige genade en geduld met ons op ons lewenspad na volgroeidheid. Help ons om elke dag die ritme en ruimte daarvoor te skep.

Wat ‘n voorreg dat ons ‘n nuwe lenteseisoen mag beleef! Ons wêreld is groen, groen en nogmaals groen. . .

The work of the Word is greenness. Hildegard of Bingen

Uit die Woord: 2 Kor 5:17-18a Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.

Here, bron van lewe, maak ons ook nuut asseblief. Mag die nuwe groei wat U in ons bewerkstellig, ander om ons inspireer en hulle lewens aanraak; ons wat U liggaam hier op aarde is. . .

Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor U vir die genade van ‘n groen lewe; om U sigbaar te maak hier en nou!

Ons was die afgelope week in die Pilanesberg en daar was soveel brande gewees. Gelukkig was dit almal beplande brande.

Die veld het dit nodig gehad om skoongebrand te word.

Oral het ons die effek van die brande gesien. Die sterk reuk daarvan het in die lug gehang.

Tog, soos ons gery het, het ons op plekke wat reeds vroeër gebrand is, dié tekens gesien:

Dit het my ten diepste laat besef dat in ‘n wêreld wat brand, U nuwe lewe altyd wag om op die regte tyd deur te breek.

Hoop se kleur is groen!

om lewe en groei te vind
waar dit menslik gedenke
totaal ónmoontlik is:
dáár word ons onsigbare
Opstandingshere sigbaar!

A rich abiding life always lingers near, desiring you to embrace it and claim it as your own. You, too, have the potential to burst forth with new green leaves. Resurrection is your inheritance. Joyce Rupp

Dankie Here dat ons mag weet dat U onverganklikheid binne elkeen van ons is en dat niks ons daarom kan vernietig nie!

Dankie dat ons in hierdie groenseisoen dit boonop op ‘n skouspelagtig visuele manier mag beleef!

Hierdie foto’s van die etende voëls het my laat nadink oor die honger in ons eie lewens. . .

Dié woorde uit Psalm 81 het by my opgekom en ek het dit in verskillende vertalings gaan opsoek:

Ps 81:11 (Die Boodskap) Ek is mos julle Here, julle God! Dit is Ek wat julle daar in Egipte gehelp het. Ek sal goed vir julle sorg. Wat julle nodig het, gee Ek vir julle.’

Ps 81:11(NLV) Want Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het. Maak julle mond wyd oop, dan sal Ek dit vol maak.

Ps 81:11 (1933/53) Ek is die Here jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul.

Ps 81:11 (1983) Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee.’

Ps 81:10 (MSG) I’m God, your God, the very God who rescued you from doom in Egypt, Then fed you all you could eat, filled your hungry stomachs.

Terwyl ek so na hierdie foto’s kyk, besef ek opnuut dat daar binne elkeen van ons nog ‘n honger, ‘n dieper honger is, wat ook net deur U gevul kan word. Dis ons ware, egte honger. Die wonder daarvan is dat U in elke oomblik gereed is om hierdie honger te stil deur Uself vir ons te gee!

Niks anders sal ons ooit kan versadig as U alleen nie. Ons is en bly ons hele lewe lank honger bedelaars. . . Maar tog dankbare, bevoorregte, begenadigde en geliefde bedelkinders!

Openbaring 21:5 Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Oral om ons is die tekens van lente sigbaar. Elke dag kom daar nog meer nuwe lewe te voorskyn. Die winter is verby!

Moses Harvey skryf: Die natuur is ‘n boek waarvan God die outeur is.

Martin Luther het gesê: Ons Here het die belofte van die opstanding nie net in boeke geskryf nie, maar in elke blaar van die lente.

U belofte is so oorvloedig geskryf in bladsye en bladsye vars, nuwe, sagte groen skryfpapier!

Dankie Heer, dat ons mag weet dat daar ook ‘n onoorwinlike lente binne elkeen van ons is.

Daarvoor wil ons, met elke lit omhoog, U naam uitjubel en U alleen loof vir hierdie nuwe hoofstuk in ons lewens!

Matt 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Aan die einde van ‘n harde dag hierdie week het ek gesmag na stilte, eenvoud en na die natuur se helende, verwelkomende teenwoordigheid sommer net hier by ons voorstedelike huis. Ek het stil geword en gekyk en luister.

Dié duifie het rustig in die boom gesit.



Toe ‘n bietjie gedut.

Die kakelaars het gesing of dalk eerder gelag.


Bietjie geëet.

Mekaar se geselskap geniet.

Here, ons het dit so nodig om tot rus te kom. Leer ons om ook soms net ‘n bietjie te sit, te dut, te lag, te eet en mekaar se geselskap te geniet! Dis ware rykdom. Dis ware rus. Dis die beste medisyne vir ‘n harde en te besige lewe.

Dit bring heling en dit bring ons tuis – Joh 15:4 Julle moet in My bly en Ek in julle.


Waar ons onlangs in die warmer bosveld was, was die eerste tekens van die nuwe lente reeds daar!

Na die winterwag verskyn hierdie bloeiselprag:

Helend en strelend is hul op die oog:

Rondom die gesnoeide takke bloei hul in oorvloed. . .

Dankie, opgestane Here, dat U dit ook vir ons elke jaar in die natuur skryf dat daar altyd ‘n nuwe lente-opstanding aanbreek na elke oënskynlike klein en groot winterdood. . .

Hoe wonderlik dat ons mag weet dit is ook vir ons waar!

‘n Laatmiddag se stap in die natuur was letterlik en figuurlik ‘n goue uur. . .

Dis asof die gras bonatuurlik gegloei het, soos ‘n goue vuur.

So mooi is hul in goud getooi!

Die versekering van U sorg is vandag nog daar vir elkeen van ons –

Matt 6:30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

Here, help asseblief ons kleingelowiges om elke dag bewus te wees van die lig van U teenwoordigheid wat oor ons skyn en van U troue sorg in elke oomblik.

Só kan ons in elke uur totaal verlig leef!

Joh 6:51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

 

Ons het hierdie tiptol tydens ons afgelope vakansie in die Drakensberge dopgehou:

Daar was vir hom ‘n oorvloed van bessies om te eet, hy kon net aansit vir ‘n feesmaal. . . Reg hier voor ons oë kon ons beleef hoe die Here vir sy voëls sorg.



En ons mensekinders? U sorg elke dag vir ons vir ons daaglikse brood, maar meer as dit is Uself die volmaakte brood wat ons in elke oomblik wil voed. Gee asseblief aan ons ‘n ewigdurende honger na U, want dis U alleen wat ons vol, heel en gesond kan maak.

U volhoudende sorg laat al U kinders heelhartig en volmondig saamstem dat U alleen die ware, lewende brood is en dat U Uself vir ons gee en ons die lewe in oorvloed kan geniet tot in alle ewigheid saam met U!

U gee hierdie lewensbrood aan ons in oorvloed en totaal onverdiend. . Onbeskryflike genade! Ons reaksie daarop is om U daarvoor te dank en te bly dank met ons lewens in ‘n loflied en gebed tot U eer, want ons is gevul met ons Heer. . .

Galasiërs 2:20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.