Matt 18:3 …“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

 

Miskien het dit hierdie Kerstyd met jou gebeur dat jy ‘n spesifieke geskenk verwag het, maar dit toe nie gekry het nie. Of dalk het jy verwag dat ‘n familielid op ‘n sekere manier moes optree, maar het toe nie. Is dit nie iets wat ons almal een of ander tyd, of dalk sommer gereeld beleef nie?

Ann Voskamp skryf in haar boek One Thousand Gifts: expectations kill relationships. Ek het dit vertaal dit na: verwagtinge versmoor (of vernietig) verhoudings of sommer kortweg: VVV. Die afgelope paar dae het ek myself dopgehou en was ietwat verbaas om te sien hoe gereeld ek dit self doen (dis mos altyd makliker om dit in iemand anders raak te sien…). Wanneer ek die verwagting laat gaan het, het ek myself in ‘n vryer, oper ruimte gevind. Dit laat my dink aan Psalm 131 waar ons genooi word om net soos ‘n kind in ‘n ma se arms te lê, met geen verwagtinge nie, net tevrede soos dit nou is. Geen wonder Jesus het gesê dat ons soos kindertjies moet word nie.

Hoe kom ek vry van hierdie verwagting-ding?  Ek moet eers bewus daarvan word voordat ek dit kan laat gaan en dan verskyn Sy vryheid, vrede, vreugde (‘n nuwe VVV!).  So word die tafel gedek om Sy seën en Seun te ontvang

IMG_7445

IMG_0415

 

Mattheus 1:23 “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Engelvere vir Immanuel-gedig

“Christ could be born a thousand times in Bethlehem – but all in vain until He is born in me.”  ~ Angelus Silesius

IMG_1321

Immanuel

so is U gebore:
Heilige na stalvuil uitgewerp . . .
maar daar waar
heilig en onheilig
heilig vermeng,
word ons hemelskoon
nie meer verlore
want só is U gebore

Gebed: Heer, wees my genadig, help my dat my stal tot U beskikking sal wees sodat gebeur wat U wil laat gebeur.

 

 

Ons was vir ‘n paar dae in die Bosveld gewees en het met tye lank langs ‘n koorsboom gesit waar ‘n geelvink besig was om ‘n nuwe nessie by sy versameling te voeg. Dit was ‘n belewenis om hom dop te hou en so het my gedagtes verder gegaan . . .

IMG_3931

Uitsonderlike Uitnodiging

jy fladder jou vlerk geelvink
wys daar’s nuwe lewe wat wink
jy bewe, straal van blydskap
verkondig in liefdeslied, ononderbroke:
daar’s ‘n nuwe tuiste
spesiaal voorberei
ure en ure delikaat gebrei
alles gereed gemaak . . .
pluis ek dit uit?

IMG_3933

IMG_3941

Joh 14:2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek vir julle gesê het dat Ek gaan om vir julle plek voor te berei?

 

 

Joh 6:33 “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

 

 

Feesmaal

die lewe is ‘n feesmaal

waarvoor Hy ons van die snelweë, die afdraaipaadjies,

die doodloopstraatjies kom haal . . .

Hy sê: eet en drink, geniet My, my sakrament

ek eet en drink, happie vir happie, teug vir teug, elke oomblik

ekstase!

die lewe is ‘n feesmaal!

laat my nooit my kos van ‘n ander tafel haal . . .

 

 

Wyn en Brood

Jesaja 25:6 Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.

 

 

“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:18)

 

 

Ons sal hier op aarde nooit 100% gelukkig wees nie en dis hoe dit moet wees. Ons is slegs tydelik op hierdie aarde, want ons is burgers van die hemel (Fil 3:20). Ons tyd op aarde is infinitesimaal klein in vergelyking met Sy oneindigheid.

Pierre Teilhard de Chardin vat dit so raak: “We are not human beings on a spiritual journey. We are spiritual beings on a human journey.”

Gebed: O Heer, vergewe my, dat ek so kan vaskyk in die aardse dinge, dat ek so dikwels vergeet dat ek van U Koninkryk is, U Koninkryk van lig. Leer my die passies van die ligdans sodat ek nie uit pas met U leef nie. Help my om te onthou dat wat ek met my vleesoë sien beslis nie die totale prentjie is nie, herinner my asseblief voortdurend daaraan soos net U dit kan doen.

 Ligdans

al spartel ons rond

in slyk, modder, grond …

dartel Ons ligvoets vás

in sy songrond

rond

Songrond

 

Albert Einstein — ‘There are only two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle’

 

 

Die afgelope week was ek op ‘n stilte retreat gewees. Dit was weer eens vir my  ‘n diep, wonderlike ervaring. Dit is moeilik om in woorde te omskryf wat met ‘n mens gebeur wanneer ‘n mens vir langer tye eenkant gaan, stil word. My ervaring is dat ‘n mens ekstra ruimte skep vir God om ons ten diepste aan te raak. Ps 46:11 verwoord dit vir my die beste: Wees stil en weet Ek is God.

Die natuurskoon by die retreatsentrum was onbeskryflik mooi, dit was kosbaar om Hom ook daarin te beleef. Wat my egter die meeste aangeraak het, was toe ek na een middagete ‘n glas met water voor my gehad het en daarna gekyk het, regtig gekyk het . . .

Hier is die foto van die glas:

Waterglas Origins 4 nov15 Klein

Ek het daarin spatseltjies van die mooiste kleure gesien en toe besluit om dit ‘n bietjie te vergroot. Hier is ‘n paar van die foto’s:

Waterglas 3

Waterglas 1

 

Waterglas 4

Waterglas 2

Ligdans 6

Dit het my dadelik laat dink dat ons elke dag so kan jaag en soveel wondere rondom ons miskyk,  omdat ons te besig is . . .

Gebed: Here, ek kan so deur ‘n dag jaag, terwyl U rondom my skitter en blink. Ek soek dit dikwels in groot dinge, terwyl dit U manier is om die grootste skatte in die mees gewone dinge te versteek. O Heer, maak my hart stil, leeg genoeg sodat my hartsoë sal oopgaan om U oral en in alles te sien.

 

It is always the simple that produces the marvelous – Amelia Barr

 

 

 

Glanslewe

die volste lewe
is dié een
wat oënskynlik
die leegste is:
waar Sy oë skyn,
glansend, op my
deur my

Proverbs 13:7 A pretentious, showy life is an empty life; a plain and simple life is a full life (The Message)

Duif en Sonlig Ha Phororo 30 Aug 2014

 

 

Filippense 2:5-8

 

 

uit suiwer liefde
het die Woord woordloos
ons wêreld binnegekom

gestroop, nakend, hulpeloos

het Hy kom leef,
kom leer om nét so
sý nuwe wêreld
binne te gaan
om daardeur los,
lig genoeg te raak
vir die trek . . .
om te land
in suiwer Liefde

Kruis Origins Klein

Rom 8:26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

 

 

 

álles wat ek sien, alles wat U wys

spel liefde:

die letters, woorde uit U liefdesalfabet

met kwashale delikaat, meesterlik voltooi

uit U liefdespalet . . .

dit alles vervul my met verwondering . . .

ek sal U nooit hier kenbaar kan ken

maar dit is genoeg

hiermee wil ek bloot

my kinder-kleine liefde te kenne gee

o Gees, skommel asseblief my

kromme groepies alfabet

tot ‘n aanneemlike gebed

wat later piek

na waar U alles snoer

sodat nie ek bid

maar Ek …

IMG_6866IMG_3016