Gebed van die hart

Ek het in die Agtergrondbladsy begin om te verduidelik wat Gebed van die hart (of Centering Prayer) beteken.

Miskien het jy dalk al ervaar dat jy soms, nadat jy Bybel gelees en  (met woorde) gebid het, net ‘n behoefte het om nog ‘n paar minute stil te bly sit. Dis waar Gebed van die hart begin. Die woorde van Soren Kierkegaard som dit ook vir my goed op: Bid is om stil te bly en God te hoor praat.

Hierdie gedig deur Edwina Gately help ook om dit te beskryf:

Let Your God Love You

Be silent.
Be still.
Alone.
Empty
Before your God.
Say nothing.
Ask nothing.
Be silent.
Be still.
Let your God look upon you.
That is all.
God knows.
God understands.
God loves you
With an enormous love,
And only wants
To look upon you
With that love.
Quiet.
Still.
Be.

Let your God—
Love you.

Kom ons raak meer prakties:

Kies ‘n stil plek, waar jy nie vir omtrent so 10-20 minute gesteur sal word nie. Jy kan op ‘n stoel, jou bed of plat op die grond sit, eksperimenteer wat vir jou die beste sal werk.

Jy kan begin deur eers ‘n gedeelte uit die Bybel te lees. Lees dit stadig, oordenkend deur. Vra jouself af: wat wil die Here vir my sê deur hierdie gedeelte? Ervaar in jou hart waartoe Hy jou nooi. Daarna kan jy Hom antwoord daarop. Daarna kan jy net stil raak, so asof jy jou hart vou om die teks en dit deel van jouself maak. Jy kan ‘n woord kies uit die gedeelte, bv.  liefde, genade of watter woord ook al vir jou iets beteken het en dan net stil te word.

Jy kan ook jou asemhaling (diep in- en uitasem) gebruik om jou te help om in die stilte in te beweeg. Eksperimenteer gerus wat vir jou ook al die beste werk. Wat jy dan doen is, as jy ervaar dat ander gedagtes deur jou kop begin beweeg (en dit sal beslis gebeur!) jy net weer jou woord of asemhaling gebruik om jou saggies weer te laat fokus dat jy nou in God se teenwoordigheid rus. Jy kan ook vir jou ‘n gebedswoord kies wat jy elke dag gebruik tydens Gebed van die hart.

Probeer om aanvanklik vir so 5-10 min in die stilte te sit en as dit vir jou werk, kan jy dit verhoog na 20 minute. As jy dit twee keer per dag kan doen, sal dit baie goed wees, maar dis nie altyd prakties moontlik nie. Kyk watter tyd van die dag vir jou die beste werk, dalk vroegoggend of later in die aand.

Dit is moeilik om getrou te wees om elke dag Gebed van die hart te beoefen, dit verg dissipline en getrouheid. Soms is dit maklik, maar soms skree alles in ‘n mens om op te staan en uit te loop. Ons is so gekondisioneer om altyd besig te wees, om van die een aktiwiteit na die ander voort te snel, dat dit aanvanklik baie vreemd is om net stil te sit en op die oog af niks te doen nie.

Dit is egter so, dat indien ‘n mens eers aangeraak is in die stilte, dit vir ‘n mens ‘n heilige tyd word. Dit word die stil kern waarom ‘n mens se lewe draai. Dit is ook so, dat indien dit oorgeslaan word, ‘n mens gedisoriënteer begin voel. G’n wonder die Engelse naam vir Gebed van die hart is “Centering Prayer” nie.

Mag dit vir jou ook die ruimte skep waar God jou net dieper in Homself intrek.