Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Ons ervaar steeds die rimpeleffek van wat verlede Woensdag in ons kompleks afgespeel het. . . Dit het ‘n invloed op soveel mense se lewens.
Die afgelope Sondag was daar ‘n diens en kranslegging by ons klubhuis. Die mense, oor alle grense heen, het in groot getalle opgedaag, soveel so dat daar nie genoeg sitplek was nie. Soveel bosse blomme is gebring. Die tragiese gebeure het mense nader aan mekaar gebring. Pyn is ‘n universele taal.
Ek hoor en sien hoe mense met mekaar praat, mekaar ondersteun. Bure ontmoet mekaar vir die eerste keer. . . Mense, medepelgrims, sien mekaar regtig raak.
Pelgrims
weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde
Pyn en lyding maak ons opnuut bewus van ons gebrokenheid en ons gebroke wêreld. Dit skud ons tot in die oomblik in, ons volle aandag is skielik hier. Ons broosheid en breekbaarheid maak ons bewus daarvan dat ons heling nodig het, dat ons nie sonder ‘n Verlosser kan leef nie.
Here Jesus, U het U daartoe verbind om ons wonde te verbind en ons daardeur aan U verbind. So verbind U ons ook aan mekaar deur ons wonde.
Die volgende woorde is vir my nou baie kosbaar: Hosea 2:18-19 Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.
Ek kyk af en net hier op die harde pad, reg onder my voete, sien ek sy trou raak:
Gister, na ‘n heerlike reënbui deur die nag, sien ek in hierdie poeletjie sy hart van liefde wat oorloop vir ons. . .
Ja, Here, tekens van U troue liefde is oral sigbaar, dikwels op plekke waar ons dit die minste verwag. . .






Amen! So dankbaar vir kwesbare tye!
Wonderlik om te sien hoe die Liefde van God in mense se harte werk wanneer ‘n ramp plaasvind.