Ek het so gewonder waaroor ek hierdie week sou skryf. Met my oë en hart bewustelik oop, het ek dié vraag bly vra. En die antwoord het gekom in die vorm van die vredeslelie in ons huis.

Ek het dié plant ‘n paar maande gelede as geskenk ontvang. Dit was toe vol in die blom en die wit blomme teen die donkergroen blare het so mooi vertoon. Dit het egter daarna nie weer geblom nie.

Maar nou is daar een blommetjie wat besig is om oop te gaan.

Die sinchronisiteit daarvan het my getref: op die vooraand van ons verkiesing is hierdie vredeslelie besig om te blom. (Dit word ‘n vredeslelie genoem vanweë sy blomme wat gesien word as wit vlae – ʼn simbool van oorgawe, ‘n vredessimbool.)

Dis asof die blomk(n)oppie nederig gebuig is:

Die blare aan die bopunt is soos hande wat in gebed gevou is:

Mag dit die nederige gebed van elke gelowige wees dat ons onsself aan U sal oorgee sodat ons in vrede kan leef, dat vrede sal blom in ons harte en in ons land.

Dit het my ook getref dat ons vir die eerste keer in ‘n demokratiese verkiesing drie kruise gaan trek (en nie twee soos in die verlede nie). Vir my is dit ook ‘n geleentheid dan om tot een persoon van die Drie-Eenheid te bid met elke kruis wat ons trek en biddend te smeek om liefde en vrede in ons land vir al sy mense en dat dit begin met elkeen van ons.

Seën asseblief ons land, o Heer. Met elke kruis kies ons U bowenal.

Vandag is Pinkstersondag.

Ons vier hierdie dag met groot blydskap en dankbaarheid. Jesus het belowe dat die Heilige Gees na die aarde gestuur sal word en sy belofte het daardie dag op ‘n skouspelagtige, stormagtige wyse waar geword. Met wind en vuur.  Nie met die sagte fluistering soos by Elia nie.

Met oop harte, met die begeerte dat ons Hom wil ontvang, vul Hy ons steeds duisende jare later. . .

Ons kan dan die vuur van sy nabyheid, sy heilige teenwoordigheid nou ervaar. God het nog nader gekom deur sy Gees, nader aan ons as ons eie asemhaling, sê ‘n wyse. En ons weet dat “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”.

Ons harte word as’t ware aan die brand gesteek deur sy vurige liefde wat binne ons uitgestort is. En ons kan hierdie warmte nie vir onsself hou nie. Ons wêreld het dit juis nou so nodig.

Aardverwarming / Global warming

ons is draers van dié vuur
juis op hierdie uur
waar daar soveel ysbergharte
smagtend soek na ‘n vonkie warmte
van waar, van waar?

dit het binne ons ontsteek
mag dit onkeerbaar bly uitkring
en ons u warmte oral bring. . .
is ons begenadigde aandadigers
aan hierdie aardverwarming

Vandag vier ons Jesus se hemelvaart.

Lukas beskryf dit as volg in sy evangelie:

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.‭ Lukas 24:50-53

Hoe sou ons ooit naastenby kon begryp wat daardie dag plaasgevind het, iets van die bonatuurlikheid van dié gebeure? Hoe kon dit wees dat Hy vir wie hulle so lief was, hulle verlaat het en hulle is …. bly, baie bly??

Ek het iets daarvan probeer verwoord in die volgende gedig:

‘n Hemelvaartpsalm

Hy lei sy skape uit
lig sy hande op
en seën hulle
al seënende
verlaat Hy hul
… lei Hy hul in
die spore van ‘n nuwe lewe
waar oënskynlike afwesigheid
onverklaarbaar, misterieus
Teenwoordigheid raak. . .
draai hul die rug
gaan hul t’rug
en al psalmende loop

die tempels tempel toe