Heilige Week se klimaks is nou bereik met Jesus se opstanding uit die dood. Die graf is leeg en Jesus leef!

Dit was ‘n historiese gebeurtenis, maar ons voel vandag steeds die rimpelings daarvan en dit sal nimmereindigend van geslag tot geslag voortgaan.

Die Paasgebeure bly die grootste misterie van alle tye. Wat beteken dit vandag vir ons?

Ronald Rolheiser skryf in sy boek The Passion and the Cross:  What the resurrection of Jesus promises is that things can always be new again.

Jesus se opstanding beteken vir my dat daar nie iets soos ‘n doodloopstraat is as ons die Paaspad loop nie.

Kyk na Petrus wat Jesus verraai het. Jesus het vooraf vir Petrus gesê dat hy Hom gaan verraai. Tog, ten spyte van hierdie vooraf kennis, het Petrus Jesus verraai. Het Jesus hom afgeskryf? Nee. Hy het hom weer ‘n kans gegee. Daar was toe nie ‘n doodloopstraat vir Petrus nie. Petrus moes sy eie Paaspad loop. Jesus het daarin vir Hom ‘n nuwe lewe aangebied. Paulus is ‘n ander sprekende voorbeeld daarvan.

Die opstanding leer my om te vertrou dat daar altyd ‘n nuwe begin is, nie net na ons dood nie, maar elke dag nou hier. Daar waar dit vir ons voel asof alles donker en leweloos is, is daar die kans vir nuwe lewe.

Die pad loop egter deur ‘n tyd van wag en oorgee in donkerte en onsekerheid, maar op ‘n dag sal daar nuwe lewe kom. Hoe, waar en wanneer sal ons nie vooraf kan weet nie. Nie een van Jesus se dissipels het vooraf geweet wat na sy dood sou gebeur nie. Nie in hul wildste drome nie. So glo ek sal dit vir ons ook wees met elke “dood” wat ons sterf in ons daaglikse lewe.

Here, dankie dat ons mag weet en beleef dat U ‘n oor-en-voor God is en nie ‘n oor-en-verby God nie. Help ons om onsself daagliks oor te gee aan U.

Gaan U voor, ons volg in U spoor. Dis die begeerte van ons hart.

Ons bevind onsself nou aan begin van die belangrikste week in die Christelike kalender: Heilige Week.

Dit is ‘n week met soveel gebeure. Wanneer mens oor die week van Palmsondag tot Opstandingsondag reflekteer, weet mens dat jy nooit in jou eie leeftyd die volle diepte van hierdie gebeure sal kan ontgin nie.

Wat het gemaak dat Jesus voortgegaan het op hierdie skynbaar afdraande pad en nie van plan verander het toe die rampspoedige gebeure die een na die ander op mekaar gevolg het nie?

Inteendeel, Hy het deur alles gehoorsaam gebly aan sy Abba, maak nie saak wat gebeur het nie. Ek glo dit is sy gereelde stil eenkant tye in die teenwoordigheid van sy Vader wat dit moontlik gemaak het. Het daardie tye die onverbreekbare liefdesband, daardie eenheid, tussen hulle bevestig en gevestig? Jesus het ten diepste gewéét dat Hy sy Vader se geliefde is.

Daar in die tuin van Getsemane het Hy ‘n ontsettend felle stryd gestry. Daar was Hy doodsbenoud. Almal het hom verlaat, sy naastes het gaan slaap. Maar weer was daar die onbreekbare band. Sy Vader was daar. ‘n Baie bang, bloedswetende Jesus het nie sy broosheid vir sy Vader weggesteek nie. Oop en eerlik het Hy daaroor gekommunikeer en selfs gevra vir ‘n alternatiewe pad. Maar eindelik, soos ons vandag weet, het Hy hom opnuut oorgegee aan sy Vader se wil.

Is dit nie vandag vir ons ‘n ongelooflike aansporing om nie die spoor byster te raak wanneer ons deur baie moeilike, donker tye in ons lewe gaan nie? En sulke tye kom vir ons almal. Dis deel van die lewe.

Dan wil ek Vrydag net baie stil voor die kruis gaan staan en die gebeure beleef met die bewustheid van hierdie onverbreekbare band ook daar. Toe Jesus se lewe aan ‘n draadjie gehang het en dit vir Hom gevoel asof sy Vader Hom verlaat het (Matt 27:46), was sy Abba daar. Die band was steeds intak, al het dit nie vir Jesus op daardie oomblik so gevoel nie.

Dan volg die Saterdag waar dit weer mag lyk asof daar geen band meer is nie. Jesus is dan dood en begrawe.

Maar Sondag het gebeur. En het Sondag nie gebeur nie?!

Jesus, wat sy Vader totaal vertrou het, is opgewek op ‘n ver-bo-ons-begrip wyse en na ‘n nuwe lewe wat ons nooit hierdie kant van die ewigheid sal kan verstaan nie.

Al wat ek weet is dat ons ook hierdie onverbreekbare liefdesband, hierdie liefdeseenheid, met ons Vader kan hê, net soos Jesus. Dit kan ons met hoop laat leef deur al die tuimeltreindae van ons lewe; ons Here is iewers heen op pad met ons en dit lei altyd na ‘n opstanding, na ‘n groter lewe.

In hierdie week wil ek stilword en deur die baie gebeure iets dieper ervaar van hierdie eenheid wat Jesus met sy Vader ervaar het, ook in my eie lewe.

Mag elkeen van julle ‘n baie geseënde Heilige Week beleef.

Ons bevind onsself nou midde-in Lydenstyd. Dit is ‘n tyd waarin ons as Christene opnuut uitgenooi word om na binne te keer, om tyd in ons interne woestyne te spandeer net soos Jesus, volgens die evangelies, 40 dae in die woestyn verkeer het.

Kokonne en woestyne het dit in gemeen dat dit ‘n tyd van gestrooptheid is. Dis ‘n tyd van stille wag en oorgawe, van besinning en om ons fokus na binne te draai.

Enkele dae na die aanvang van Lydenstyd het ek ‘n retreat aangebied.  Toe ek die Saterdag na oggendgebed uit die kapel loop, sien ek iets teen die muur. Ek gaan haal my kamera.

Stil. Pragtig. So asof sy “hande” in gebed gevou is. ‘n Bidsprinkaan!

Die volgende oggend, net toe ek my kamer ontruim, sien ek iets teen die venster. Wraggies weer een. Sy kop is na my gedraai.

Ek gaan later kombuis toe en wat sit daar teen die muur? Jy kan seker raai.

Wel, om drie keer so deur hulle teenwoordigheid verras te word, moet tog iets beteken.

Wat my eerste van elkeen getref het, is dat hulle so lank stil gesit het. Asof hulle die wêreld se tyd het. Hulle lyk nie haastig op pad iewers heen nie. Sit en sit.

Dis gaan so teen ons hedendaagse grein in wat ons laat verstaan: moenie net daar sit nie, doen iets. Ons almal het tye in ons lewe nodig om stil te word. Alles binne mens mag dan in opstand kom en laat wegskram van sulke tye. Dis soveel makliker om iets te gaan doen, onsself te vermaak, of te laat vermaak.

Vir my nooi die bidsprinkane ons uit om in gebedskontak met ons stilte, met ons eie interne woestyne te kom.

Dis die plek van transformasie. Wanneer mens lang genoeg tye daar deurbring sal jy dit anders verlaat as wat jy dit binnegegaan het. Dis die plek waar jy opdaag en jouself totaal oorgee aan die groot Transformeerder se prosesse.

Die feit dat hulle bruin is, tref my ook. Soos bruin grond, wat aarde en nederigheid simboliseer. Hier op aarde, in nederigheid en stilte kan ons in kontak met ons diepste self kom, waar ons God ontmoet.

Soveel mense het al hierdie pad van transformerende stilte geloop. Hulle inspireer ons om dit ook vir onsself as ‘n lewegewende plek te ontdek en daaruit te leef. Dis eenvoudig. Maar nie maklik nie. Sal ons mekaar uitnooi om elke dag vir ‘n paar minute stil te word, bidsprinkaanstil, en net te wees en nie te doen nie? Ek glo dis die heel belangrikste tyd van ons dag.

Psalm 46:11 Wees stil en weet Ek is God!

Dan sal ons hierdie Lydenstyd anders beleef. En sal ons dit anders verlaat as wat ons dit binnegegaan het.

Vandag wil ek met dankbaarheid terugdink aan al die bidsprinkane wat my pad gekruis het en my geïnspireer het om ook as ‘n bidsprinkaan te leef.