‘n Rukkie gelede loop ek van buite af in huis toe en maak die stoepdeur oop. Ek weet nie wat dit was nie, maar iets sê vir my om af te kyk. Baie naby van waar ek sou trap, lê daar iets baie vreemds op die teëls. Regtig vreemd.

Ek buk af. Dis een of ander gogga wat verstrengel geraak het. Foeitog. Maar voordat ek iets verder doen, gaan haal ek my kamera. Hy sou seker in sy toestand nie vinnig kon wegbeweeg nie.

Saggies en versigtig (met ‘n stokkie) maak ek hom later los van dit wat hom verstrengel het.

Ek bring weer die kamera nader. Sjoe, ek moet sê, ek gril nogal. Van kleins af het ek nie ‘n natuurlike voorliefde vir goggas nie. Maar wanneer mens nader gaan, stil word en op ‘n oop manier kyk (waarmee die kamera my help), krimp die gril tog en maak plek vir verwondering.

Dit het reuse voelers! G’n wonder hulle het verstrengel geraak nie. Eintlik is hy so mooi. Daardie blinkgroen kleur is iets besonders. So ook sy pote. Hy is regtig ‘n ongewone besoeker. Ek en hy sit lank op die stoep so by mekaar op die grond. Hy lyk darem skadeloos.

Later het ons hom buite gaan sit, waar hy beter hoort.

Ek gaan doen navorsing. Dis ‘n muskuskewer (Engels: Musk Beetle). “Die Muskus-kewer is ‘n lang, smallyf-langhoringkewer wat baie lang antennas het. Die larwes leef in die bos van wilgerbome (veral stokke), wat tot drie jaar neem om te ontwikkel. Die volwassenes kan gedurende die somer op blomme en boomstamme naby vleilande gevind word. Die volwassenes straal ‘n muskusafskeiding uit wanneer hulle bedreig word, vandaar die algemene naam.”

Sjoe, wat ‘n lang tyd om te ontwikkel: drie jaar! Verder hoort hy volgens hierdie inligting glad nie hier nie. Hier is geen wilgerbome naby ons en ook nie ‘n vleiland in ons klein voorstedelike tuin nie. Die naaste plek wat aan hierdie beskrywing voldoen is die Rietvleidam, sowat tien kilometer van ons af. Maar hoe sou hy hier beland het? Dit is weer een van die lewe se raaisels.

Hoe wonderlik dat hy geen reuk afgegee het nie (en dus seker nie bedreig gevoel het deur my teenwoordigheid nie) en dat hy my toegelaat het om hom vry te maak. Ek is dankbaar daarvoor.

Onsself raak dikwels so verstrengel, so vasgekoek, in ons lewens en weet nie hoe om los te kom nie.

Daag hierdie ontmoeting my uit met ‘n vraag wat uitloop op ‘n begeerte?

leef ek so verstrengel
so vasgevang
dat ek so min
kan ontvang
van dit wat my Losser
na my wil bring
deur geskapene, engel
of Homself?

mag dit my hartsbegeerte wees
dat ek verlos mag word
van alles wat my bind
sodat ek fyn gevoelig
ontvanklik en vry kan leef
deur die pad te vat
wat U vir my begeer

Daar is ‘n gedig van Ronald Rolheiser wat my altyd aan die hart gryp veral nou weer na die intense herlewing van die opstandingsgebeure:

Mary Magdala’s Easter Prayer

I never suspected
Resurrection
and to be so painful
to leave me weeping
with joy
to have met you, alive and smiling,
outside an empty tomb
with regret
not because I’ve lost you
but because I’ve lost you in how I had you –
in understandable, touchable, kissable, clingable flesh
not as fully Lord, but as graspably human.

I want to cling, despite your protest
cling to your body
cling to your, and my, clingable humanity
cling to what we had, our past.

But I know that . . . if I cling
you cannot ascend and
I will be left clinging to your former self
… unable to receive your present spirit.

Die opstanding is ‘n tyd waarin groot vreugde en hartseer nou verweef is. Iets ongeloofliks het plaasgevind, maar die lewe soos dit was, is onherroeplik verby. Iets nuuts, groots en onverstaanbaars het gebeur. Ons besef dat ons hoegenaamd nie in beheer is van dit wat nou aan die gebeur is nie. En vir ons wat mens is, is dit pynlik. Virginia Satir slaan die spyker op die kop met die volgende woorde: Most people prefer the certainty of misery to the misery of uncertainty. Ons wil dikwels nie verander nie.

Soos Maria, wil ons ook bly vashou aan dit wat vir ons geliefd en bekend is, maar dis net wanneer ons laat gaan, dat ons die nuwe opstandingslewe in al sy volheid kan ontvang.

Ons moet onthou

ons wil vasklou en vashou
die status quo behou
maar ons kan slegs
die nuwe lewe ontvang
nadat ons ont-klou en ont-hou

So kan die opstanding oomblik vir oomblik, dag vir dag, deur ons gebeur. Dink net hoe anders ons vashouende wêreld kan lyk as al meer en meer van ons as opstandelinge daarin leef.