Jes 53:5b .. die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dit was net ‘n klein swaaibeweginkie bietjie te veel na regs, wat skielik soveel dinge in my laat beweeg het…

Ek was vanaand besig om hoender te sny met ons skerpste, grootste mes in my hand, toe die mes skielik my regterwysvinger deur die nael tref en so ‘n V in my nael sny. Na die aanvanklike tot-stilstand-kom skok, besef ek dat ek die bloedvloei moet stop. As so iets gebeur, is dit dadelik asof daar ‘n swerm gedagtes, gevoelens skielik so begin dwarrel in ‘n mens: eers die ongeloof dat dit so skielik, onverwags gebeur het, magteloosheid,  woede dat ‘n mens so lomp kan wees, dat ‘n mens dit sou kon verhoed het… So ‘n bietjie selfbejammering kom ook te voorskyn… Die pyn, seer klop ritmies, bloeiend deur my vinger.

Later, na die ontsmetting en die pleister daaroor, kom die refleksie. Ons is so broos en dit kan iets so klein, gerings wees wat ‘n mens opnuut bewus maak daarvan. Ek het nooit voorheen besef hoeveel keer ek my wysvinger gebruik nie, maar is nou pynlik, terdeë bewus daarvan.

In hierdie pyn, in hierdie broosheid, ervaar ek iets, vlugtig, ontwykend, van wat Hy moes ervaar het in sy verwonding.  Ek besef ook dat as kleikind ek maar net ‘n beperkte begrip van hierdie misterie kan hê. Daar is net ‘n diep weet dat die Koning van die heelal daarmee gewys het dat Hy verkies om in brose kleipotte te woon sodat ons ‘n bonatuurlike lewe alreeds hier kan leef.  Dit laat ‘n diepe dankbaarheid anderkant woorde, in my opwel.

Dit laat my verder dink dat Hy ons dieper wonde ook wil genees, daardie wonde waarvan net ek en Hy weet. Verder is ek ook in die laaste tyd pynlik bewus van my medemens se wonde, maar hoe ons aan mekaar verbind raak juis deur ons verwonding. Dis asof pyn, veral ‘n ander se pyn, ‘n mens buite jouself neem na ‘n groter ruimte en iets laat ervaar van ‘n groot misterie wat in lyding opgesluit is.

Intussen herinner die v op my vinger my daaraan dat ek, as verloste, in verwondering selfs oor verwonding kan leef en dat vreugde, vrede en vryheid daaruit vloei . . .

Kloppende pyn

Heiligheid klop altyd,
vibreer altyd in alles
deur alles
selfs, veral, ín pyn . . .
bloeiend na genesing

Origins Bloed en Vere 1 Klein

Openbaring 19:13 Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God”.

2 Thoughts on “Ons verwondheid: die mes se les

  1. Yolanda on September 6, 2015 at 8:09 am said:

    Dankie vir die kosbare skrywe! Die besef van die Krag van die Bloed van Christus Jesus, die genesing, die oorwinning wat ons het in Sy Bloed!!

  2. Willem Nicol on October 19, 2015 at 6:58 pm said:

    Wat ‘n lafenis dat ‘n mens in hierdie bladsye tot rus en lig kan kom! Dankie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation