Sefanja 3:17 Julle God die Here is by julle. Hy is die Groot Soldaat wat julle sal red. Hy is bly en Hy juig oor julle. Hy is lief vir julle en Hy sing oor julle. (Bybel vir almal vertaling)
Vandat ek maar kan onthou, is voëls se geluide vir my baie kosbaar en dit raak my hart diep aan. Iemand het eenkeer gesê dat God met ons elkeen praat in ‘n taal wat ons verstaan.
Wanneer die vleiloerie so nou en dan sy opwagting in ons tuin maak en sing met sy kenmerkende geluid wat my laat dink aan ‘n bottel wat stadig leeggemaak word, los ek eers alles en luister aandagtig daarna…
Vleiloerielied
die vleiloerie se bottelleegmaakroep
laat my dink aan U
wat Uself gegee het
ontledig, uitgegiet het
vir ons . . .
mag ek U gegewe oorvloed
nie opgaar, opdam nie
ook net uitgiet, borrelend uitgooi
U liefdeskringloop voltooi
Hy is altyd naby ons, Hy openbaar Homself elke oomblik aan ons. Ek wil dit nie misloop nie, ek wil net stil genoeg raak voor hierdie liefde sodat ek duidelik kan hoor hoe Hy oor my sing.