Psalm 139:14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Ek het my vandag aan my duime verwonder. . . Deur die loop van die dag was ek so bewus daarvan hoe nodig ek hulle het en hoe moeilik ek sonder hulle oor die weg sou kom. Kyk ‘n bietjie vir jouself vandag . . .
Duimgooi
my kopliggie gaan onverwags af
en my hartlampie blits aan . . .
twee duime verskyn skielik
soos twee kordaat soldaatjies
reg hier voor my
velkreukels gevou in glimlaggies
twee halfmane wat nuuskierig
oor naelriemhorisonne loer . . .
só wonderbaarlik ontwerp
vir skarnier en gryp …
geen duim word verder versit
voordat ek dankbaar
hierdie vier litte vier!
Gebed: Dankie vir my duime, o Heer. Vergewe my dat ek so met toe oë kan leef terwyl daar elke dag soveel wondere reg onder my neus is. Maak asseblief my hartsoë oop om U in alles raak te sien, dankbaar te leef, bewus te wees van U oorvloed seën wat U in elke oomblik vir ons gee.
Altyd interessant.
Soos ons duime is Hy dan ook altyd by ons.