Ons bevind onsself nou midde-in Lydenstyd. Dit is ‘n tyd waarin ons as Christene opnuut uitgenooi word om na binne te keer, om tyd in ons interne woestyne te spandeer net soos Jesus, volgens die evangelies, 40 dae in die woestyn verkeer het.

Kokonne en woestyne het dit in gemeen dat dit ‘n tyd van gestrooptheid is. Dis ‘n tyd van stille wag en oorgawe, van besinning en om ons fokus na binne te draai.

Enkele dae na die aanvang van Lydenstyd het ek ‘n retreat aangebied.  Toe ek die Saterdag na oggendgebed uit die kapel loop, sien ek iets teen die muur. Ek gaan haal my kamera.

Stil. Pragtig. So asof sy “hande” in gebed gevou is. ‘n Bidsprinkaan!

Die volgende oggend, net toe ek my kamer ontruim, sien ek iets teen die venster. Wraggies weer een. Sy kop is na my gedraai.

Ek gaan later kombuis toe en wat sit daar teen die muur? Jy kan seker raai.

Wel, om drie keer so deur hulle teenwoordigheid verras te word, moet tog iets beteken.

Wat my eerste van elkeen getref het, is dat hulle so lank stil gesit het. Asof hulle die wêreld se tyd het. Hulle lyk nie haastig op pad iewers heen nie. Sit en sit.

Dis gaan so teen ons hedendaagse grein in wat ons laat verstaan: moenie net daar sit nie, doen iets. Ons almal het tye in ons lewe nodig om stil te word. Alles binne mens mag dan in opstand kom en laat wegskram van sulke tye. Dis soveel makliker om iets te gaan doen, onsself te vermaak, of te laat vermaak.

Vir my nooi die bidsprinkane ons uit om in gebedskontak met ons stilte, met ons eie interne woestyne te kom.

Dis die plek van transformasie. Wanneer mens lang genoeg tye daar deurbring sal jy dit anders verlaat as wat jy dit binnegegaan het. Dis die plek waar jy opdaag en jouself totaal oorgee aan die groot Transformeerder se prosesse.

Die feit dat hulle bruin is, tref my ook. Soos bruin grond, wat aarde en nederigheid simboliseer. Hier op aarde, in nederigheid en stilte kan ons in kontak met ons diepste self kom, waar ons God ontmoet.

Soveel mense het al hierdie pad van transformerende stilte geloop. Hulle inspireer ons om dit ook vir onsself as ‘n lewegewende plek te ontdek en daaruit te leef. Dis eenvoudig. Maar nie maklik nie. Sal ons mekaar uitnooi om elke dag vir ‘n paar minute stil te word, bidsprinkaanstil, en net te wees en nie te doen nie? Ek glo dis die heel belangrikste tyd van ons dag.

Psalm 46:11 Wees stil en weet Ek is God!

Dan sal ons hierdie Lydenstyd anders beleef. En sal ons dit anders verlaat as wat ons dit binnegegaan het.

Vandag wil ek met dankbaarheid terugdink aan al die bidsprinkane wat my pad gekruis het en my geïnspireer het om ook as ‘n bidsprinkaan te leef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation