‘n Paar dae gelede toe ek wegry van die huis af en opkyk, sien ek die bloue hemel en die pragtigste wolke. Ek moes net stop om ‘n paar foto’s te neem en net daar, so totaal onverwags, verskyn ‘n ongelooflike geskenk:

Wat ‘n seën was daar nie in hierdie oomblik nie. . .

Jesus se doop kom by my op:

Lukas 3:21-22  Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Net soos die Geesduif destyds op Jesus neergedaal het, daal die Geesduif vandag nog op ons neer om ons diepste identiteit in hierdie wêreld aan ons te bevestig: ons is Sy geliefde seuns en dogters. Hierdie band is onaantasbaar, onverganklik en ons diepste werklikheid.

Here, help ons om biddend elke dag die hemel geopen te sien en toe te laat dat u Gees ons al meer en meer vul om as U geliefde kinders in hierdie wêreld te leef.

Die duif se vlerke is oopgesprei, asof in ‘n seënwens. Wat ‘n voorreg om bewus te wees dat ons in elke oomblik onder U seën leef. Daarna kom die ongelooflike bewuswording dat U ons seën om te kan seën, om ‘n seën te wees vir ‘n wêreld wat elke dag daarna smag.

Hierdie paar roesfoto’s het ‘n kragtige boodskap. . .

‘n Naby kyk daarna bied ‘n herinnering daaraan dat hierdie aarde en sy verganklikheid nie die plek van ewige skatte is nie.

Jesus sê vir ons in Matt 6:19-21 (NLV) “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Uit die ABA-vertaling:  “Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.”

Miskien is dit nodig om onsself aan die einde van elke dag die vraag af te vra: watter ryk was vandag die invloedrykste in my lewe?

Ons hartsoë moet oop bly daarvoor, want dit vra ‘n ander soort sien.

Paulus beskryf dit so: 2 Cor 4:18 (TPT) because we don’t focus our attention on what is seen but on what is unseen. For what is seen is temporary, but the unseen realm is eternal.

Here, mag ons elke dag in ‘n roes van diep, blywende blydskap leef omdat ons weet dat ons deel is van U ewige koninkryk en ook omdat ons die ongelooflike voorreg hier op aarde het om getuies daarvan te wees deur ons lewens.

Spreuke 3:5 (DB) Moenie dink jy weet altyd die beste nie…

‘n Rukkie gelede het hierdie ongelooflike storie reg voor my ontvou:

Hierdie roosboom het van ver af so mooi gelyk, maar toe ek nader gaan, sien ek luise, luise en luise wat in gelid daarop sit. . .

Ek moet bieg dat ek ietwat teruggedeins het. Dit was regtig nie ‘n mooi gesig nie. Onmiddellik wou ek opspring en die probleem oplos met ‘n gifstof, maar iets het my laat wag en kyk. . .

Uit die bloute verskyn sy toe:

‘n Liewenheersbesie!

Voor my oë sien ek hoe sy die gedekte feesmaal geniet!

‘n Rukkie later lyk dit so:

Hoeveel keer, my Heer, wil ek oorhaastig met my eie gif(tige) ingrypings ‘n probleem probeer oplos, terwyl U planne ingrypend beter is. Deur my oorhaastige aksies staan ek dan op hierdie manier in die pad van U delikate, volmaakte en fyn uitgewerkte plan. Vergewe my daarvoor.

Spreuke 3:5 (1983) Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

Jesaja 55:8 (DB) Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen.

Skenk ons asseblief U wysheid.

Soms, soos ek hierbo beleef het, liewe Heer, wil U hê ons moet wag totdat U u soort lieweheersbesies stuur op u volmaakte tyd en manier. Help my om altyd op U te bly wag.

Markus 15:46 Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol…

‘n Rukkie gelede het ek vir ‘n lang tyd stil by hierdie stasie van die lewe by die Origins retreatsentrum stil geword.

Die oorvloedige groen en die lig aan hierdie kant is opmerklik. . .

Aan die ander kant van die steen is dit donker, onseker en grafstil, asof daar net mooi niks aan die gebeur is nie.

Dis ‘n tyd van ‘n magtelose wag en wag. . .

Maar dit kan ook ‘n tyd van hoopvolle afwagting wees, met die diep wete: God is altyd aan die werk en sy plan is altyd ‘n groeiplan en op pad na die lig, al verstaan of sien ons niks dáár daarvan nie.

Here, vergewe ons weerstand en ongeduld met u tydsberekening, u pas, in gebiede en tye van ons lewens waar ons in donker onsekerheid moet wag. U tydsberekening is totaal anders as ons s’n: U s’n is volmaak. Ons word daaraan herinner in 2 Petrus 3:8 – Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

In Sheila Cussons se laaste reëls uit haar gedig Klag skryf sy:

O God, U alleen is al my krag,
leer my dan, leer my dan
leer my bomenslik dadeloos geduldig wag.

So word dit dan nie net bloot ‘n wag nie, maar ‘n wagtydperk; dit word so mooi in Engels gesê: the tomb becomes the womb. . .

‘n Vriendin vertel hierdie week baie opgewonde van ‘n helikopterrit wat sy onlangs beleef het en hoe die aarde so anders, so pragtig, van daar bo af lyk.

‘n Vlerk-tema begin posvat. . .

Hierdie woorde kom uit ‘n lied Give Me Wings:

 

High above the clouds
I can see the beauty down below
And I know You’re holding me
I’ll never fly alone
Give me to reach the sky
Moving up I’m rising high
Give me wings to fly

Maar hoe? Ons voel dikwels so vasgevang in ons omstandighede en ons perspektief raak erg beperk.

In die lig van Sy teenwoordigheid kan ons egter bewus word daarvan dat daar ‘n uitnodiging na ‘n wyer, groter lewe wink. Ek glo dat ‘n diep geborgenheid en die wete dat mens toegevou is in Sy liefdeslig, al is dit hoe donker daar buite, ‘n hart sy vlerke sal laat voel. Onverklaarbaar kom daar ‘n ligtheid anderkant rede. . .

Hy gee alles: die beskutting, die vlerke, die sterkte en die wind!

Met dankbare en gewillige harte sprei ons ons vlerke. . .

So is U genadige plan om ons al dieper en verder in U wye ruimtes in te trek. . .

Vroeër hierdie week sien ek ‘n ongewone gesig voor my studeerkamervenster: ‘n herfsblaardans!

Ek moes net nader gaan. . .

 

 

Die hele dag het sy heen en weer uitbundig in die wind bly dans. ‘n Ragfyn spinnedraadjie is al wat haar nog hier tussen hemel en aarde vasgehou het. Heen en weer, om en om het sy vrolik bly dans. . .

Die laaste twee sinne vanuit die pen van Langenhoven verwoord iets hiervan:

“Dis die smorende vuur wat swaarkry,
En tog nie die kos kan gaarkry.
En die vrolike vlam wat klap en kraak,
Dis hy wat sy taak tot vermaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.”

Sjoe, wat ‘n paradoks!

Jesus het met hierdie woorde kort voordat Hy gekruisig is, geen doekies omgedraai nie:

Johannes 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Jesus het altyd geweet dat sy Vader besig is met ‘n groter plan.  Daarom kan ons vandag vol moed en vrede bly, al is die lewe swaar. Ons kan bly vashou daaraan, al voel dit soms asof ons lewe uitmekaar val: ons word vasgehou in die hande van ‘n Oorwinnaar!

Net eergister kyk ek op en sien hierdie blaar wat binnekort sou val:

‘n Hart skyn deur!

Heer, u liefdeshart is altyd daar, maak nie saak waar ons onsself bevind nie. . .

Word ons so lig sodat ons val ons laat beland in heilige grond, transformerende grond?

Op ‘n voorstedelike sypaadjie staan hulle kiertsregop, fier en fraai: hierdie stokrose.

Hulle is pragtig en ‘n mens kan nie anders as om nader te gaan nie.

Toe wag daar iets wat bydra om hierdie prentjie asemrowend te maak:

Die lig val sag daar waar sy omvou word deur die pienk weelderige blomblare. Sy is besig met haar by-werk: haar nektarsuig, terwyl die stuifmeel op haar rug rus. . .

Wat is dit wat my so diep raak?

Daar is iets heiligs wat hier aan die afspeel is. . .

U het alles met ‘n doel en met die fynste presisie geskape. Hierdie by doen presies waarvoor sy geskape is. Kan ek dieselfde sê?

Jesus se woorde teen die einde van sy aarde bestaan, kom by my op:

Johannes 17:4 Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

Gewone mense vir wie dít die hoofsaak in hulle lewe was, en nie ‘n blote bysaak nie, inspireer ons steeds vandag, selfs eeue na hul dood. Francis van Assisi  (1181-1226) was ‘n man wat so geleef het. Hierdie woorde van hom nooi ons uit, daag ons uit:

Here, ons kan so gou vergeet waarom ons hier is, ons kan so aandagafleibaar leef. Mag ons elke dag lank genoeg by U, wat liefde is, stilsit met die vraag: leef ons soos U wil hê ons moet? Mag ons toelaat dat U transformerende krag in ons werk elke oomblik van ons lewe.

Ons kan dan so leef, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. (Fil 2:13).

Daar is ‘n onverklaarbare diep, soete vrede anderkant rede wanneer mens leef soos U wil hê, wanneer ons meewerk om U koninkryk op aarde te help uitbrei. Dis ‘n lewe wat in al sy volheid gelewe word. Irenaeus skryf: The Glory of God is a human being fully alive.

Ons wil elke dag leef in die lig van U teenwoordigheid, met harte vol oorvloedige blydskap en nederige dankbaarheid, gevul met die wete: U, die Koning van die ganse heelal, gebruik ons!

Mag die by-foto se diep boodskap ons bybly elke dag van ons lewens. . .

Lukas 24:34 “Die Here het regtig opgestaan…

Hieronder is die Paaslied van die Oosters-Ortodokse kerk:

Hy wat die aarde teen die uitspansel gehang het,
het nog eergister aan die kruis gehang.

Hy wat die Koning van die engele is,
het nog eergister ‘n doringkroon gedra.

Hy wat die berge in wolke klee,
het nog eergister die kleed van spot gedra.

Die Bruidegom wat sy kerkbruid gaan kom haal,
was met spykers aan ‘n kruis genael.

Die Wonderseun van ‘n maagd,
is met ‘n spies deurboor.
Ons wat gister en eergister
u lyding beween het,

juig vandag oor U stralende opstanding!

Dankie Here, dat U wáárlik opgestaan het! Ons wéét, want u bevestig hierdie heerlike waarheid binne ons en die vonk(el) in die oë van U kinders getuig van hierdie wonder. . .

Here, help ons asseblief om elke dag diep aan U verbind te bly, sodat ons vanuit u opstandingskrag kan leef en so ‘n kragtige lig in ons wêreld te wees; U lig. . .

1 Petrus 2:9 Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Dan sal ons ook soos U apostels in Handelinge 4:20 kan sê: “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Johannes 3:16 God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Jesaja 53:5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

In die mensewêreld word Goeie Vrydag vandag gevier.

Ons geloof is ‘n paradoks: ‘n erg verwonde man, ons Here, hang aan ‘n kruis, sterf en ons noem dit “Goeie” Vrydag.

Dis omdat ons geloof ons altyd na ‘n dieper kyk uitnooi. . .

The cross signifies the wedding between God and humanity.  Ilia Delio

Christ on the cross bows his head, waiting for you, that he may kiss you,
His arms outstretched that he may embrace you,
His hands are open that he may enrich you,
His body spread out, that he may give himself totally,
His feet are nailed that he may stay there,
His side open for you, that he may let you enter there. – Bonaventure

Die volgende woorde is uit Retief Burger se lied Sekelmaan:

En weet jy wie jy is?
Kan jou hart se siel begryp na wie ek verlang?
Dit is jy, my bruid in ewigheid.
Een kyk van jou oë en die hout se pyn verdwyn.

Want dit is jy geliefde van my sy.
Ek is hier by jou, in jou, om jou…

Ek is hier by jou, in jou, om jou…..net lief te hê.

Mag ons vandag, met ons hartsoë wawyd oop, ver opkyk die wye hemelruimtes in, om opnuut te sien hoe U op Goeie Vrydag U ewige trou aan die ganse mensdom bevestig het deur U selfopofferende liefde. Dit het U álles gekos. . .

Mag ons vandag wanneer ons die brood eet en die wyn drink toelaat dat U liefde ons al dieper deurdring en dat ons hierdie onlosmaaklike band tussen ons as ons grootste werklikheid ervaar; U is altyd by ons, in ons en om ons.

Mag ons dan hierdie oorvloedige liefde wat U aan ons gee, met dankbare harte mildelik uitdeel aan ons wêreld, want dit is wat ware liefde doen.  Dit gee alles. . . Dit het U aan die kruis vir ons bewys op hierdie goeie Vrydag, die beste Vrydag ooit!

2 Kor 4:18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

‘n Paar dae gelede loop ek weer die keëls raak. Die bruin met groen omsoom, val so sag op die oog.

Toe sien ek dit: bo die oopgebreekte keël val die lig val in ‘n kroon, ‘n ligkroon!

U, die lig, het van u hemelkroon afstand gedoen en hier op aarde dit verwissel met ‘n doringkroon. . .

U dra u kruis en hierdie kroon van dorings vanuit u oneindige, oorvloedige hart vol liefde vir verlorenes.

U het daardeur dit vir ons moontlik kom maak het om vir ewig saam met U te lewe, ‘n kroon by U te ontvang!

Paulus skryf in 2 Tim 4:6-8 Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Here, dit gee ons soveel moed om voort te gaan op ons pelgrimspad. Al val en faal ons so dikwels op hierdie pad van selfopoffering en al voel dit vir ons so dikwels swaar en steil, weet ons hoe dit eindig! Ons is so diep afhanklik van U in elke oomblik.

Wees ons genadig, sodat ons ons oë op U gefokus sal hou, daar waar U op u hoë hemeltroon sit, maar ook hier binne ons waar U besig is om ons elke dag al meer en meer te transformeer na u beeld en ons so gereed te maak vir hierdie oorwinnaarskroon.

So, al mag dit soms vir ons voel asof ons net ‘n doringkroon dra, het ons die ongelooflike hoop en vooruitsig van ‘n hemelse verwisseling. Dankie vir soveel tye vol genade wat U ons iets daarvan alreeds hier laat ervaar. . .