Mattheus 1:23 “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Engelvere vir Immanuel-gedig

“Christ could be born a thousand times in Bethlehem – but all in vain until He is born in me.”  ~ Angelus Silesius

IMG_1321

Immanuel

so is U gebore:
Heilige na stalvuil uitgewerp . . .
maar daar waar
heilig en onheilig
heilig vermeng,
word ons hemelskoon
nie meer verlore
want só is U gebore

Gebed: Heer, wees my genadig, help my dat my stal tot U beskikking sal wees sodat gebeur wat U wil laat gebeur.

Nianell sing ‘n lied getiteld “Die oomblik is nou”. As ek mooi kyk, sien ek die oomblik is nie nou-nou of netnou nie, dis net nou, net hier. C.S. Lewis het gesê: “For the Present is the point at which time touches eternity. Of the present moment, and of it only, humans have an experience analogous to the experience which [God] has of reality as a whole; in it alone freedom and actuality are offered them.”

Sjoe, dis groot woorde en bied baie om oor na te dink en te ervaar hoe dit ‘n mens laat voel. Vir my beteken dit dat ek God in elke oomblik, in die nou, kan ervaar en daarin lê die grootste rykdom en vryheid. Dit laat my oop en ontvanklik leef, sodat ek Hom nie dalk misloop, misleef nie. Maar soos wat eenvoudige dinge maar is, is dit dikwels vir ons die moeilikste om te doen.

Miskien kan ons in hierdie tyd wat ons rustiger raak, dit probeer inoefen. Dan loop ons, leef ons Hom dalk raak op ongewone, verrassende maniere.

Elke oomblik is vol, vol van die Volmaakte Een . . .

Alledaagse heiligheid

die oomblik so skynbaar onseremonieel
word skielik so sakramenteel . . .
nét hier, juis hier
waar ek nie gewoonlik
Sy teenwoordigheid vier

Gebed: Here help my asseblief om soos Moses in Eksodus 3:4 te antwoord: “Hier is ek”, voor U wat  “Ek is” is.

 

 

Filippense 2:5-8

 

 

uit suiwer liefde
het die Woord woordloos
ons wêreld binnegekom

gestroop, nakend, hulpeloos

het Hy kom leef,
kom leer om nét so
sý nuwe wêreld
binne te gaan
om daardeur los,
lig genoeg te raak
vir die trek . . .
om te land
in suiwer Liefde

Kruis Origins Klein