Iemand maak onlangs die opmerking dat dikwels as die Here vir mens ‘n boodskap wil bring, Hy dit op meer as een manier doen.
Wel, dit het met my die afgelope week gebeur. . .

‘n Paar dae gelede was dit snerpend koud in ons land, met ekstreme weerstoestande, veral in die suide.
Vroegoggend was die voëlbaddens in ons tuin soliede blokke ys. Iemand stuur ‘n foto van die fontein by ons woonbuurt se ingang. Ek weet ek moet self gaan kyk:

Nou, waar ek later weer na die foto’s kyk, ervaar ek hier ook dieselfde uitnodiging as met die vorige bloginskrywing. Net soos die varing moes wag, moes hierdie ys ook wag.
Dit sou net so gevries gebly het as dit nie vir die son se warm strale was nie. Vanself kon dit nie gebeur nie.
Die ys moes as’t ware bly wag op die son.

‘n Diep wete kom: ons hoef nie die son te gaan soek tydens ons interne yskoue wintertye nie, ons deel is om te bly wag.

Dit sal na ons toe kom op die regte tyd en ‘n wonderlike bevrydende smelting teweegbring. . .
Ervaar jy ook iets van ‘n borrelende, uitbundige blydskap wanneer jy na hierdie fotos kyk? Die son sal kom!

Hoe maklik is dit vir jou om te wag? Vir my is dit meestal moeilik. My geaardheid is van nature haastig. Ek wonder of daar ‘n mens op aarde is vir wie dit regtig maklik is om te wag? As ek vir iets wag, voel dit vir my asof die horlosie se rigtingwysers in taai stroop begin draai. . .

So ‘n ruk gelede het ek by die varings in ons tuin gaan stilword en ek glo daar is wyshede in hulle verberg.

Die volgende woorde kom by my op wanneer ek na hierdie foto kyk: Stil. Wagtend. Rustig. Onverstoorbaar. Bedaard. Kalm. En dit terwyl daar oënskynlik geen verandering plaasvind nie.

Verder is hulle vir my ‘n simbool van nederigheid, byna soos ‘n hoof wat vooroor in stille gebed gebuig is in oorgawe en afhanklikheid. Die bruin kleur simboliseer ook vir my nederigheid.

Die wit lig in die vorm van ‘n hart in die agtergrond, word ‘n liefdevolle gerusstelling: wag, wag vir die groei, vir die ontvouiing in My teenwoordigheid op die regte tyd.

En die ander blare wat reeds verder gegroei het, is asof hulle aanmoedig: vertrou die proses, ons het ook gewag en op die regte tyd sal ook jy ontvou.

Here, dankie, dat U ons gedurig wil aanmoedig om te wag op U en u tye en prosesse. Vergewe my weerstand teen wagtye. Ek wil graag met my hele wese op U bly wag.

En dan, wanneer die ontvouiing, die groei, sigbaar word, sal daar verbasing en dankbaarheid opwel met die wete: dit het deur my gebeur, self kon ek dit nie doen nie. My aandeel daarin was my wag, my oorgawe.

Mag hierdie foto’s van die varing ons ervaring word, veral gedurende ons lewens se wagtye. . .

Ek het so gewonder waaroor ek hierdie week sou skryf. Met my oë en hart bewustelik oop, het ek dié vraag bly vra. En die antwoord het gekom in die vorm van die vredeslelie in ons huis.

Ek het dié plant ‘n paar maande gelede as geskenk ontvang. Dit was toe vol in die blom en die wit blomme teen die donkergroen blare het so mooi vertoon. Dit het egter daarna nie weer geblom nie.

Maar nou is daar een blommetjie wat besig is om oop te gaan.

Die sinchronisiteit daarvan het my getref: op die vooraand van ons verkiesing is hierdie vredeslelie besig om te blom. (Dit word ‘n vredeslelie genoem vanweë sy blomme wat gesien word as wit vlae – ʼn simbool van oorgawe, ‘n vredessimbool.)

Dis asof die blomk(n)oppie nederig gebuig is:

Die blare aan die bopunt is soos hande wat in gebed gevou is:

Mag dit die nederige gebed van elke gelowige wees dat ons onsself aan U sal oorgee sodat ons in vrede kan leef, dat vrede sal blom in ons harte en in ons land.

Dit het my ook getref dat ons vir die eerste keer in ‘n demokratiese verkiesing drie kruise gaan trek (en nie twee soos in die verlede nie). Vir my is dit ook ‘n geleentheid dan om tot een persoon van die Drie-Eenheid te bid met elke kruis wat ons trek en biddend te smeek om liefde en vrede in ons land vir al sy mense en dat dit begin met elkeen van ons.

Seën asseblief ons land, o Heer. Met elke kruis kies ons U bowenal.

Vandag is Pinkstersondag.

Ons vier hierdie dag met groot blydskap en dankbaarheid. Jesus het belowe dat die Heilige Gees na die aarde gestuur sal word en sy belofte het daardie dag op ‘n skouspelagtige, stormagtige wyse waar geword. Met wind en vuur.  Nie met die sagte fluistering soos by Elia nie.

Met oop harte, met die begeerte dat ons Hom wil ontvang, vul Hy ons steeds duisende jare later. . .

Ons kan dan die vuur van sy nabyheid, sy heilige teenwoordigheid nou ervaar. God het nog nader gekom deur sy Gees, nader aan ons as ons eie asemhaling, sê ‘n wyse. En ons weet dat “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”.

Ons harte word as’t ware aan die brand gesteek deur sy vurige liefde wat binne ons uitgestort is. En ons kan hierdie warmte nie vir onsself hou nie. Ons wêreld het dit juis nou so nodig.

Aardverwarming / Global warming

ons is draers van dié vuur
juis op hierdie uur
waar daar soveel ysbergharte
smagtend soek na ‘n vonkie warmte
van waar, van waar?

dit het binne ons ontsteek
mag dit onkeerbaar bly uitkring
en ons u warmte oral bring. . .
is ons begenadigde aandadigers
aan hierdie aardverwarming

Vandag vier ons Jesus se hemelvaart.

Lukas beskryf dit as volg in sy evangelie:

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.‭ Lukas 24:50-53

Hoe sou ons ooit naastenby kon begryp wat daardie dag plaasgevind het, iets van die bonatuurlikheid van dié gebeure? Hoe kon dit wees dat Hy vir wie hulle so lief was, hulle verlaat het en hulle is …. bly, baie bly??

Ek het iets daarvan probeer verwoord in die volgende gedig:

‘n Hemelvaartpsalm

Hy lei sy skape uit
lig sy hande op
en seën hulle
al seënende
verlaat Hy hul
… lei Hy hul in
die spore van ‘n nuwe lewe
waar oënskynlike afwesigheid
onverklaarbaar, misterieus
Teenwoordigheid raak. . .
draai hul die rug
gaan hul t’rug
en al psalmende loop

die tempels tempel toe

‘n Rukkie gelede loop ek van buite af in huis toe en maak die stoepdeur oop. Ek weet nie wat dit was nie, maar iets sê vir my om af te kyk. Baie naby van waar ek sou trap, lê daar iets baie vreemds op die teëls. Regtig vreemd.

Ek buk af. Dis een of ander gogga wat verstrengel geraak het. Foeitog. Maar voordat ek iets verder doen, gaan haal ek my kamera. Hy sou seker in sy toestand nie vinnig kon wegbeweeg nie.

Saggies en versigtig (met ‘n stokkie) maak ek hom later los van dit wat hom verstrengel het.

Ek bring weer die kamera nader. Sjoe, ek moet sê, ek gril nogal. Van kleins af het ek nie ‘n natuurlike voorliefde vir goggas nie. Maar wanneer mens nader gaan, stil word en op ‘n oop manier kyk (waarmee die kamera my help), krimp die gril tog en maak plek vir verwondering.

Dit het reuse voelers! G’n wonder hulle het verstrengel geraak nie. Eintlik is hy so mooi. Daardie blinkgroen kleur is iets besonders. So ook sy pote. Hy is regtig ‘n ongewone besoeker. Ek en hy sit lank op die stoep so by mekaar op die grond. Hy lyk darem skadeloos.

Later het ons hom buite gaan sit, waar hy beter hoort.

Ek gaan doen navorsing. Dis ‘n muskuskewer (Engels: Musk Beetle). “Die Muskus-kewer is ‘n lang, smallyf-langhoringkewer wat baie lang antennas het. Die larwes leef in die bos van wilgerbome (veral stokke), wat tot drie jaar neem om te ontwikkel. Die volwassenes kan gedurende die somer op blomme en boomstamme naby vleilande gevind word. Die volwassenes straal ‘n muskusafskeiding uit wanneer hulle bedreig word, vandaar die algemene naam.”

Sjoe, wat ‘n lang tyd om te ontwikkel: drie jaar! Verder hoort hy volgens hierdie inligting glad nie hier nie. Hier is geen wilgerbome naby ons en ook nie ‘n vleiland in ons klein voorstedelike tuin nie. Die naaste plek wat aan hierdie beskrywing voldoen is die Rietvleidam, sowat tien kilometer van ons af. Maar hoe sou hy hier beland het? Dit is weer een van die lewe se raaisels.

Hoe wonderlik dat hy geen reuk afgegee het nie (en dus seker nie bedreig gevoel het deur my teenwoordigheid nie) en dat hy my toegelaat het om hom vry te maak. Ek is dankbaar daarvoor.

Onsself raak dikwels so verstrengel, so vasgekoek, in ons lewens en weet nie hoe om los te kom nie.

Daag hierdie ontmoeting my uit met ‘n vraag wat uitloop op ‘n begeerte?

leef ek so verstrengel
so vasgevang
dat ek so min
kan ontvang
van dit wat my Losser
na my wil bring
deur geskapene, engel
of Homself?

mag dit my hartsbegeerte wees
dat ek verlos mag word
van alles wat my bind
sodat ek fyn gevoelig
ontvanklik en vry kan leef
deur die pad te vat
wat U vir my begeer

Daar is ‘n gedig van Ronald Rolheiser wat my altyd aan die hart gryp veral nou weer na die intense herlewing van die opstandingsgebeure:

Mary Magdala’s Easter Prayer

I never suspected
Resurrection
and to be so painful
to leave me weeping
with joy
to have met you, alive and smiling,
outside an empty tomb
with regret
not because I’ve lost you
but because I’ve lost you in how I had you –
in understandable, touchable, kissable, clingable flesh
not as fully Lord, but as graspably human.

I want to cling, despite your protest
cling to your body
cling to your, and my, clingable humanity
cling to what we had, our past.

But I know that . . . if I cling
you cannot ascend and
I will be left clinging to your former self
… unable to receive your present spirit.

Die opstanding is ‘n tyd waarin groot vreugde en hartseer nou verweef is. Iets ongeloofliks het plaasgevind, maar die lewe soos dit was, is onherroeplik verby. Iets nuuts, groots en onverstaanbaars het gebeur. Ons besef dat ons hoegenaamd nie in beheer is van dit wat nou aan die gebeur is nie. En vir ons wat mens is, is dit pynlik. Virginia Satir slaan die spyker op die kop met die volgende woorde: Most people prefer the certainty of misery to the misery of uncertainty. Ons wil dikwels nie verander nie.

Soos Maria, wil ons ook bly vashou aan dit wat vir ons geliefd en bekend is, maar dis net wanneer ons laat gaan, dat ons die nuwe opstandingslewe in al sy volheid kan ontvang.

Ons moet onthou

ons wil vasklou en vashou
die status quo behou
maar ons kan slegs
die nuwe lewe ontvang
nadat ons ont-klou en ont-hou

So kan die opstanding oomblik vir oomblik, dag vir dag, deur ons gebeur. Dink net hoe anders ons vashouende wêreld kan lyk as al meer en meer van ons as opstandelinge daarin leef.

Heilige Week se klimaks is nou bereik met Jesus se opstanding uit die dood. Die graf is leeg en Jesus leef!

Dit was ‘n historiese gebeurtenis, maar ons voel vandag steeds die rimpelings daarvan en dit sal nimmereindigend van geslag tot geslag voortgaan.

Die Paasgebeure bly die grootste misterie van alle tye. Wat beteken dit vandag vir ons?

Ronald Rolheiser skryf in sy boek The Passion and the Cross:  What the resurrection of Jesus promises is that things can always be new again.

Jesus se opstanding beteken vir my dat daar nie iets soos ‘n doodloopstraat is as ons die Paaspad loop nie.

Kyk na Petrus wat Jesus verraai het. Jesus het vooraf vir Petrus gesê dat hy Hom gaan verraai. Tog, ten spyte van hierdie vooraf kennis, het Petrus Jesus verraai. Het Jesus hom afgeskryf? Nee. Hy het hom weer ‘n kans gegee. Daar was toe nie ‘n doodloopstraat vir Petrus nie. Petrus moes sy eie Paaspad loop. Jesus het daarin vir Hom ‘n nuwe lewe aangebied. Paulus is ‘n ander sprekende voorbeeld daarvan.

Die opstanding leer my om te vertrou dat daar altyd ‘n nuwe begin is, nie net na ons dood nie, maar elke dag nou hier. Daar waar dit vir ons voel asof alles donker en leweloos is, is daar die kans vir nuwe lewe.

Die pad loop egter deur ‘n tyd van wag en oorgee in donkerte en onsekerheid, maar op ‘n dag sal daar nuwe lewe kom. Hoe, waar en wanneer sal ons nie vooraf kan weet nie. Nie een van Jesus se dissipels het vooraf geweet wat na sy dood sou gebeur nie. Nie in hul wildste drome nie. So glo ek sal dit vir ons ook wees met elke “dood” wat ons sterf in ons daaglikse lewe.

Here, dankie dat ons mag weet en beleef dat U ‘n oor-en-voor God is en nie ‘n oor-en-verby God nie. Help ons om onsself daagliks oor te gee aan U.

Gaan U voor, ons volg in U spoor. Dis die begeerte van ons hart.

Ons bevind onsself nou aan begin van die belangrikste week in die Christelike kalender: Heilige Week.

Dit is ‘n week met soveel gebeure. Wanneer mens oor die week van Palmsondag tot Opstandingsondag reflekteer, weet mens dat jy nooit in jou eie leeftyd die volle diepte van hierdie gebeure sal kan ontgin nie.

Wat het gemaak dat Jesus voortgegaan het op hierdie skynbaar afdraande pad en nie van plan verander het toe die rampspoedige gebeure die een na die ander op mekaar gevolg het nie?

Inteendeel, Hy het deur alles gehoorsaam gebly aan sy Abba, maak nie saak wat gebeur het nie. Ek glo dit is sy gereelde stil eenkant tye in die teenwoordigheid van sy Vader wat dit moontlik gemaak het. Het daardie tye die onverbreekbare liefdesband, daardie eenheid, tussen hulle bevestig en gevestig? Jesus het ten diepste gewéét dat Hy sy Vader se geliefde is.

Daar in die tuin van Getsemane het Hy ‘n ontsettend felle stryd gestry. Daar was Hy doodsbenoud. Almal het hom verlaat, sy naastes het gaan slaap. Maar weer was daar die onbreekbare band. Sy Vader was daar. ‘n Baie bang, bloedswetende Jesus het nie sy broosheid vir sy Vader weggesteek nie. Oop en eerlik het Hy daaroor gekommunikeer en selfs gevra vir ‘n alternatiewe pad. Maar eindelik, soos ons vandag weet, het Hy hom opnuut oorgegee aan sy Vader se wil.

Is dit nie vandag vir ons ‘n ongelooflike aansporing om nie die spoor byster te raak wanneer ons deur baie moeilike, donker tye in ons lewe gaan nie? En sulke tye kom vir ons almal. Dis deel van die lewe.

Dan wil ek Vrydag net baie stil voor die kruis gaan staan en die gebeure beleef met die bewustheid van hierdie onverbreekbare band ook daar. Toe Jesus se lewe aan ‘n draadjie gehang het en dit vir Hom gevoel asof sy Vader Hom verlaat het (Matt 27:46), was sy Abba daar. Die band was steeds intak, al het dit nie vir Jesus op daardie oomblik so gevoel nie.

Dan volg die Saterdag waar dit weer mag lyk asof daar geen band meer is nie. Jesus is dan dood en begrawe.

Maar Sondag het gebeur. En het Sondag nie gebeur nie?!

Jesus, wat sy Vader totaal vertrou het, is opgewek op ‘n ver-bo-ons-begrip wyse en na ‘n nuwe lewe wat ons nooit hierdie kant van die ewigheid sal kan verstaan nie.

Al wat ek weet is dat ons ook hierdie onverbreekbare liefdesband, hierdie liefdeseenheid, met ons Vader kan hê, net soos Jesus. Dit kan ons met hoop laat leef deur al die tuimeltreindae van ons lewe; ons Here is iewers heen op pad met ons en dit lei altyd na ‘n opstanding, na ‘n groter lewe.

In hierdie week wil ek stilword en deur die baie gebeure iets dieper ervaar van hierdie eenheid wat Jesus met sy Vader ervaar het, ook in my eie lewe.

Mag elkeen van julle ‘n baie geseënde Heilige Week beleef.

Ons bevind onsself nou midde-in Lydenstyd. Dit is ‘n tyd waarin ons as Christene opnuut uitgenooi word om na binne te keer, om tyd in ons interne woestyne te spandeer net soos Jesus, volgens die evangelies, 40 dae in die woestyn verkeer het.

Kokonne en woestyne het dit in gemeen dat dit ‘n tyd van gestrooptheid is. Dis ‘n tyd van stille wag en oorgawe, van besinning en om ons fokus na binne te draai.

Enkele dae na die aanvang van Lydenstyd het ek ‘n retreat aangebied.  Toe ek die Saterdag na oggendgebed uit die kapel loop, sien ek iets teen die muur. Ek gaan haal my kamera.

Stil. Pragtig. So asof sy “hande” in gebed gevou is. ‘n Bidsprinkaan!

Die volgende oggend, net toe ek my kamer ontruim, sien ek iets teen die venster. Wraggies weer een. Sy kop is na my gedraai.

Ek gaan later kombuis toe en wat sit daar teen die muur? Jy kan seker raai.

Wel, om drie keer so deur hulle teenwoordigheid verras te word, moet tog iets beteken.

Wat my eerste van elkeen getref het, is dat hulle so lank stil gesit het. Asof hulle die wêreld se tyd het. Hulle lyk nie haastig op pad iewers heen nie. Sit en sit.

Dis gaan so teen ons hedendaagse grein in wat ons laat verstaan: moenie net daar sit nie, doen iets. Ons almal het tye in ons lewe nodig om stil te word. Alles binne mens mag dan in opstand kom en laat wegskram van sulke tye. Dis soveel makliker om iets te gaan doen, onsself te vermaak, of te laat vermaak.

Vir my nooi die bidsprinkane ons uit om in gebedskontak met ons stilte, met ons eie interne woestyne te kom.

Dis die plek van transformasie. Wanneer mens lang genoeg tye daar deurbring sal jy dit anders verlaat as wat jy dit binnegegaan het. Dis die plek waar jy opdaag en jouself totaal oorgee aan die groot Transformeerder se prosesse.

Die feit dat hulle bruin is, tref my ook. Soos bruin grond, wat aarde en nederigheid simboliseer. Hier op aarde, in nederigheid en stilte kan ons in kontak met ons diepste self kom, waar ons God ontmoet.

Soveel mense het al hierdie pad van transformerende stilte geloop. Hulle inspireer ons om dit ook vir onsself as ‘n lewegewende plek te ontdek en daaruit te leef. Dis eenvoudig. Maar nie maklik nie. Sal ons mekaar uitnooi om elke dag vir ‘n paar minute stil te word, bidsprinkaanstil, en net te wees en nie te doen nie? Ek glo dis die heel belangrikste tyd van ons dag.

Psalm 46:11 Wees stil en weet Ek is God!

Dan sal ons hierdie Lydenstyd anders beleef. En sal ons dit anders verlaat as wat ons dit binnegegaan het.

Vandag wil ek met dankbaarheid terugdink aan al die bidsprinkane wat my pad gekruis het en my geïnspireer het om ook as ‘n bidsprinkaan te leef.