Heilige Week se klimaks is nou bereik met Jesus se opstanding uit die dood. Die graf is leeg en Jesus leef!
Dit was ‘n historiese gebeurtenis, maar ons voel vandag steeds die rimpelings daarvan en dit sal nimmereindigend van geslag tot geslag voortgaan.
Die Paasgebeure bly die grootste misterie van alle tye. Wat beteken dit vandag vir ons?
Ronald Rolheiser skryf in sy boek The Passion and the Cross: What the resurrection of Jesus promises is that things can always be new again.
Jesus se opstanding beteken vir my dat daar nie iets soos ‘n doodloopstraat is as ons die Paaspad loop nie.

Kyk na Petrus wat Jesus verraai het. Jesus het vooraf vir Petrus gesê dat hy Hom gaan verraai. Tog, ten spyte van hierdie vooraf kennis, het Petrus Jesus verraai. Het Jesus hom afgeskryf? Nee. Hy het hom weer ‘n kans gegee. Daar was toe nie ‘n doodloopstraat vir Petrus nie. Petrus moes sy eie Paaspad loop. Jesus het daarin vir Hom ‘n nuwe lewe aangebied. Paulus is ‘n ander sprekende voorbeeld daarvan.
Die opstanding leer my om te vertrou dat daar altyd ‘n nuwe begin is, nie net na ons dood nie, maar elke dag nou hier. Daar waar dit vir ons voel asof alles donker en leweloos is, is daar die kans vir nuwe lewe.

Die pad loop egter deur ‘n tyd van wag en oorgee in donkerte en onsekerheid, maar op ‘n dag sal daar nuwe lewe kom. Hoe, waar en wanneer sal ons nie vooraf kan weet nie. Nie een van Jesus se dissipels het vooraf geweet wat na sy dood sou gebeur nie. Nie in hul wildste drome nie. So glo ek sal dit vir ons ook wees met elke “dood” wat ons sterf in ons daaglikse lewe.

Here, dankie dat ons mag weet en beleef dat U ‘n oor-en-voor God is en nie ‘n oor-en-verby God nie. Help ons om onsself daagliks oor te gee aan U.

Gaan U voor, ons volg in U spoor. Dis die begeerte van ons hart.
