Hebr 13:5 “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Hierdie week is dit uitbasuin dat ‘n bekende sportster se borge hul borgskappe van haar onttrek. Dit laat my ver binnepaaie loop . . .
My Vader borg, gee soveel oorvloed elke oomblik van elke dag waarvoor Hy nie ‘n teenprestasie verwag nie. Hy ken my deur en deur. Hy weet presies waaraan ek skuldig is, waaraan ek my vergryp, wat ek misbruik, wangebruik . . .
Ons God se hart word kleisag wanneer sy kleimensies, sy grasmensies met hul ek-is-so-jammer harte na Hom toe draai. Hy verwelkom ons altyd terug, staan dit geskryf in Lukas 15.
Weg-loper
‘n Pa wat uit sy pad gaan
die pad af hardloop
om sy arms vol hoop
om my te slaan
daarin toe te vou,
in ‘n kus vas te hou
Gebed: Dankie Heer, dat U altyd bereid is om my sonde te vergewe en dit nie aan die groot klok hang nie. In hierdie liefdevolle sfeer word enige begeerte of behoefte om vinger te wys, op die lange baan geskuif . . .
Ja werklik, Hy is ons enigste borg wat getrou is ons nooit sal los nie, al is ons ook hoe verdwaald. Dankie Mariet.