Ps 139:17 God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. (Boodskap)
Dis droog. . . Die aarde smag na water.
My vriendin wys vir my haar rooi rose en merk op dat hierdie rose die mooiste is wat hierdie boom nog ooit gedra het. Sy sê dis omdat dit so droog is dat hulle so pragtig is. Ek moes dié rose van naderby bekyk, van baie naby.
Hulle is asemrowend mooi!
Daar is soveel dinge om oor bekommerd te wees: die droogte, die land se probleme, onrus. . . Maar elke oggend kom die son op, gaan dit onder. Klokslag, elke dag. Dis lente en boonop die mooiste, mooiste maand!
Ja, daar is probleme, maar ons God is steeds in beheer.
Gebed: Here, help my asseblief om te bly blom, selfs die mooiste blomme te dra, al gebeur wat ook al. U lewende water, U onuitputlike fontein is binne ons en voed ons sodat ons kan blom waar ons ook al geplant is. In U lig, sien ons lig . . .
Ps 36:10 “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.”






So waar, Hy is in beheer en ons kan die mooie geniet. Ons kan ons oor soveel dinge bekommer dat ons nie die mooi raaksien nie, die mooiste Sy liefde vir ons en die liefde van ons familie en vriende.
Wonderlik om te weet dat God alles in Sy hande hou en dat ons nog kan ervaar hoe ‘n mooi rooi roos, te midde van droogte, kan oopgaan en vir ons soveel vreugde kan verskaf. Ook Sy Liefde wat elke dag ons lewe vul.