Psalm 34:9a Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!
Dis sommer ‘n klein beddinkie veelkleurige blomme op die sypaadjie van ‘n alledaagse stadpad, wat my aandag getrek het. Ek het die kosmosse daarin raakgesien en besef dat dit nog nie kosmostyd buite in die veld is nie. Dadelik het ek gestop om hulle van nader te bekyk. Hulle was asemrowend mooi en ek kon nie genoeg van hulle skoonheid indrink nie.
My hart het so iets verstaan van Jesus se woorde: “Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie” .
Aanraking
U hand het sagkens
my hartsnare kom streel
en ‘n soet lied
het saggies in my begin speel . . .
my wakker gemaak
om van U bewus te raak
Gebed: Dankie, beminde van my siel, dat U liefde altyd vir ons blom in elke seisoen. Hierdie wete maak my lewe oop om ook te blom . . .


































