Iemand maak onlangs die opmerking dat dikwels as die Here vir mens ‘n boodskap wil bring, Hy dit op meer as een manier doen.
Wel, dit het met my die afgelope week gebeur. . .

‘n Paar dae gelede was dit snerpend koud in ons land, met ekstreme weerstoestande, veral in die suide.
Vroegoggend was die voëlbaddens in ons tuin soliede blokke ys. Iemand stuur ‘n foto van die fontein by ons woonbuurt se ingang. Ek weet ek moet self gaan kyk:

Nou, waar ek later weer na die foto’s kyk, ervaar ek hier ook dieselfde uitnodiging as met die vorige bloginskrywing. Net soos die varing moes wag, moes hierdie ys ook wag.
Dit sou net so gevries gebly het as dit nie vir die son se warm strale was nie. Vanself kon dit nie gebeur nie.
Die ys moes as’t ware bly wag op die son.

‘n Diep wete kom: ons hoef nie die son te gaan soek tydens ons interne yskoue wintertye nie, ons deel is om te bly wag.

Dit sal na ons toe kom op die regte tyd en ‘n wonderlike bevrydende smelting teweegbring. . .
Ervaar jy ook iets van ‘n borrelende, uitbundige blydskap wanneer jy na hierdie fotos kyk? Die son sal kom!

Hoe maklik is dit vir jou om te wag? Vir my is dit meestal moeilik. My geaardheid is van nature haastig. Ek wonder of daar ‘n mens op aarde is vir wie dit regtig maklik is om te wag? As ek vir iets wag, voel dit vir my asof die horlosie se rigtingwysers in taai stroop begin draai. . .

So ‘n ruk gelede het ek by die varings in ons tuin gaan stilword en ek glo daar is wyshede in hulle verberg.

Die volgende woorde kom by my op wanneer ek na hierdie foto kyk: Stil. Wagtend. Rustig. Onverstoorbaar. Bedaard. Kalm. En dit terwyl daar oënskynlik geen verandering plaasvind nie.

Verder is hulle vir my ‘n simbool van nederigheid, byna soos ‘n hoof wat vooroor in stille gebed gebuig is in oorgawe en afhanklikheid. Die bruin kleur simboliseer ook vir my nederigheid.

Die wit lig in die vorm van ‘n hart in die agtergrond, word ‘n liefdevolle gerusstelling: wag, wag vir die groei, vir die ontvouiing in My teenwoordigheid op die regte tyd.

En die ander blare wat reeds verder gegroei het, is asof hulle aanmoedig: vertrou die proses, ons het ook gewag en op die regte tyd sal ook jy ontvou.

Here, dankie, dat U ons gedurig wil aanmoedig om te wag op U en u tye en prosesse. Vergewe my weerstand teen wagtye. Ek wil graag met my hele wese op U bly wag.

En dan, wanneer die ontvouiing, die groei, sigbaar word, sal daar verbasing en dankbaarheid opwel met die wete: dit het deur my gebeur, self kon ek dit nie doen nie. My aandeel daarin was my wag, my oorgawe.

Mag hierdie foto’s van die varing ons ervaring word, veral gedurende ons lewens se wagtye. . .

Vandag is Pinkstersondag.

Ons vier hierdie dag met groot blydskap en dankbaarheid. Jesus het belowe dat die Heilige Gees na die aarde gestuur sal word en sy belofte het daardie dag op ‘n skouspelagtige, stormagtige wyse waar geword. Met wind en vuur.  Nie met die sagte fluistering soos by Elia nie.

Met oop harte, met die begeerte dat ons Hom wil ontvang, vul Hy ons steeds duisende jare later. . .

Ons kan dan die vuur van sy nabyheid, sy heilige teenwoordigheid nou ervaar. God het nog nader gekom deur sy Gees, nader aan ons as ons eie asemhaling, sê ‘n wyse. En ons weet dat “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”.

Ons harte word as’t ware aan die brand gesteek deur sy vurige liefde wat binne ons uitgestort is. En ons kan hierdie warmte nie vir onsself hou nie. Ons wêreld het dit juis nou so nodig.

Aardverwarming / Global warming

ons is draers van dié vuur
juis op hierdie uur
waar daar soveel ysbergharte
smagtend soek na ‘n vonkie warmte
van waar, van waar?

dit het binne ons ontsteek
mag dit onkeerbaar bly uitkring
en ons u warmte oral bring. . .
is ons begenadigde aandadigers
aan hierdie aardverwarming

Vandag vier ons Jesus se hemelvaart.

Lukas beskryf dit as volg in sy evangelie:

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.‭ Lukas 24:50-53

Hoe sou ons ooit naastenby kon begryp wat daardie dag plaasgevind het, iets van die bonatuurlikheid van dié gebeure? Hoe kon dit wees dat Hy vir wie hulle so lief was, hulle verlaat het en hulle is …. bly, baie bly??

Ek het iets daarvan probeer verwoord in die volgende gedig:

‘n Hemelvaartpsalm

Hy lei sy skape uit
lig sy hande op
en seën hulle
al seënende
verlaat Hy hul
… lei Hy hul in
die spore van ‘n nuwe lewe
waar oënskynlike afwesigheid
onverklaarbaar, misterieus
Teenwoordigheid raak. . .
draai hul die rug
gaan hul t’rug
en al psalmende loop

die tempels tempel toe

Daar is ‘n gedig van Ronald Rolheiser wat my altyd aan die hart gryp veral nou weer na die intense herlewing van die opstandingsgebeure:

Mary Magdala’s Easter Prayer

I never suspected
Resurrection
and to be so painful
to leave me weeping
with joy
to have met you, alive and smiling,
outside an empty tomb
with regret
not because I’ve lost you
but because I’ve lost you in how I had you –
in understandable, touchable, kissable, clingable flesh
not as fully Lord, but as graspably human.

I want to cling, despite your protest
cling to your body
cling to your, and my, clingable humanity
cling to what we had, our past.

But I know that . . . if I cling
you cannot ascend and
I will be left clinging to your former self
… unable to receive your present spirit.

Die opstanding is ‘n tyd waarin groot vreugde en hartseer nou verweef is. Iets ongeloofliks het plaasgevind, maar die lewe soos dit was, is onherroeplik verby. Iets nuuts, groots en onverstaanbaars het gebeur. Ons besef dat ons hoegenaamd nie in beheer is van dit wat nou aan die gebeur is nie. En vir ons wat mens is, is dit pynlik. Virginia Satir slaan die spyker op die kop met die volgende woorde: Most people prefer the certainty of misery to the misery of uncertainty. Ons wil dikwels nie verander nie.

Soos Maria, wil ons ook bly vashou aan dit wat vir ons geliefd en bekend is, maar dis net wanneer ons laat gaan, dat ons die nuwe opstandingslewe in al sy volheid kan ontvang.

Ons moet onthou

ons wil vasklou en vashou
die status quo behou
maar ons kan slegs
die nuwe lewe ontvang
nadat ons ont-klou en ont-hou

So kan die opstanding oomblik vir oomblik, dag vir dag, deur ons gebeur. Dink net hoe anders ons vashouende wêreld kan lyk as al meer en meer van ons as opstandelinge daarin leef.

Heilige Week se klimaks is nou bereik met Jesus se opstanding uit die dood. Die graf is leeg en Jesus leef!

Dit was ‘n historiese gebeurtenis, maar ons voel vandag steeds die rimpelings daarvan en dit sal nimmereindigend van geslag tot geslag voortgaan.

Die Paasgebeure bly die grootste misterie van alle tye. Wat beteken dit vandag vir ons?

Ronald Rolheiser skryf in sy boek The Passion and the Cross:  What the resurrection of Jesus promises is that things can always be new again.

Jesus se opstanding beteken vir my dat daar nie iets soos ‘n doodloopstraat is as ons die Paaspad loop nie.

Kyk na Petrus wat Jesus verraai het. Jesus het vooraf vir Petrus gesê dat hy Hom gaan verraai. Tog, ten spyte van hierdie vooraf kennis, het Petrus Jesus verraai. Het Jesus hom afgeskryf? Nee. Hy het hom weer ‘n kans gegee. Daar was toe nie ‘n doodloopstraat vir Petrus nie. Petrus moes sy eie Paaspad loop. Jesus het daarin vir Hom ‘n nuwe lewe aangebied. Paulus is ‘n ander sprekende voorbeeld daarvan.

Die opstanding leer my om te vertrou dat daar altyd ‘n nuwe begin is, nie net na ons dood nie, maar elke dag nou hier. Daar waar dit vir ons voel asof alles donker en leweloos is, is daar die kans vir nuwe lewe.

Die pad loop egter deur ‘n tyd van wag en oorgee in donkerte en onsekerheid, maar op ‘n dag sal daar nuwe lewe kom. Hoe, waar en wanneer sal ons nie vooraf kan weet nie. Nie een van Jesus se dissipels het vooraf geweet wat na sy dood sou gebeur nie. Nie in hul wildste drome nie. So glo ek sal dit vir ons ook wees met elke “dood” wat ons sterf in ons daaglikse lewe.

Here, dankie dat ons mag weet en beleef dat U ‘n oor-en-voor God is en nie ‘n oor-en-verby God nie. Help ons om onsself daagliks oor te gee aan U.

Gaan U voor, ons volg in U spoor. Dis die begeerte van ons hart.

Ons bevind onsself nou aan begin van die belangrikste week in die Christelike kalender: Heilige Week.

Dit is ‘n week met soveel gebeure. Wanneer mens oor die week van Palmsondag tot Opstandingsondag reflekteer, weet mens dat jy nooit in jou eie leeftyd die volle diepte van hierdie gebeure sal kan ontgin nie.

Wat het gemaak dat Jesus voortgegaan het op hierdie skynbaar afdraande pad en nie van plan verander het toe die rampspoedige gebeure die een na die ander op mekaar gevolg het nie?

Inteendeel, Hy het deur alles gehoorsaam gebly aan sy Abba, maak nie saak wat gebeur het nie. Ek glo dit is sy gereelde stil eenkant tye in die teenwoordigheid van sy Vader wat dit moontlik gemaak het. Het daardie tye die onverbreekbare liefdesband, daardie eenheid, tussen hulle bevestig en gevestig? Jesus het ten diepste gewéét dat Hy sy Vader se geliefde is.

Daar in die tuin van Getsemane het Hy ‘n ontsettend felle stryd gestry. Daar was Hy doodsbenoud. Almal het hom verlaat, sy naastes het gaan slaap. Maar weer was daar die onbreekbare band. Sy Vader was daar. ‘n Baie bang, bloedswetende Jesus het nie sy broosheid vir sy Vader weggesteek nie. Oop en eerlik het Hy daaroor gekommunikeer en selfs gevra vir ‘n alternatiewe pad. Maar eindelik, soos ons vandag weet, het Hy hom opnuut oorgegee aan sy Vader se wil.

Is dit nie vandag vir ons ‘n ongelooflike aansporing om nie die spoor byster te raak wanneer ons deur baie moeilike, donker tye in ons lewe gaan nie? En sulke tye kom vir ons almal. Dis deel van die lewe.

Dan wil ek Vrydag net baie stil voor die kruis gaan staan en die gebeure beleef met die bewustheid van hierdie onverbreekbare band ook daar. Toe Jesus se lewe aan ‘n draadjie gehang het en dit vir Hom gevoel asof sy Vader Hom verlaat het (Matt 27:46), was sy Abba daar. Die band was steeds intak, al het dit nie vir Jesus op daardie oomblik so gevoel nie.

Dan volg die Saterdag waar dit weer mag lyk asof daar geen band meer is nie. Jesus is dan dood en begrawe.

Maar Sondag het gebeur. En het Sondag nie gebeur nie?!

Jesus, wat sy Vader totaal vertrou het, is opgewek op ‘n ver-bo-ons-begrip wyse en na ‘n nuwe lewe wat ons nooit hierdie kant van die ewigheid sal kan verstaan nie.

Al wat ek weet is dat ons ook hierdie onverbreekbare liefdesband, hierdie liefdeseenheid, met ons Vader kan hê, net soos Jesus. Dit kan ons met hoop laat leef deur al die tuimeltreindae van ons lewe; ons Here is iewers heen op pad met ons en dit lei altyd na ‘n opstanding, na ‘n groter lewe.

In hierdie week wil ek stilword en deur die baie gebeure iets dieper ervaar van hierdie eenheid wat Jesus met sy Vader ervaar het, ook in my eie lewe.

Mag elkeen van julle ‘n baie geseënde Heilige Week beleef.

Lydenstyd het die afgelope week aangebreek met Aswoensdag. Elke jaar kry ons opnuut die geleentheid om hierdie 40 dae lange reis te onderneem. Dit kan ‘n diep binnereis word. . .

Lydenstyd is ‘n tyd waarin jy as’t ware jou wurmlewe vierkantig in die oë kyk en iets veel meer as dit begeer. Jy weet net dat jy genoeg van hierdie beperkte lewe gehad het en dat jy smag na ‘n nuwe, groter en vryer lewe.  Ek glo dat dit die Here self is wat hierdie onrus en verlange in ons bring en ons so uitnooi na vernuwing.

Ons word opnuut die geleentheid gebied om ons oor te gee aan God se misterieuse transformasieprosesse.

Ons word uitgenooi om die donkerte van die kokon binne te gaan, ons lewe aan Hom toe te vertrou en te bly wag totdat die nuwe lewe deurbreek.

Dis nie maklik nie, maar dis die enigste pad na die ware lewe!

Jesus is aan die woord:

Matt 16:25 want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Hierdie kokonne, wat juis nou so volop om ons huis is, bring vir my hoop op hierdie reis. Die skoonheid, die detail en simmetrie van elke kokon laat my ten diepste besef dat U in beheer van die proses is.  Ons kan ons lewens in u ewige Skepperhande toevertrou. . .

Lydenstydgebed

Hier is ek, Here.
Omvorm my, transformeer my
maak my heel en nuut.
Laat nie my wil nie, maar U wil geskied.
Begin oor en voor met my.
Ek smag met my hele hart
na U vernuwingskrag.
Dankie vir U oneindige genade en geduld.
Mag ek bly vertrou dat U liefdeshand op my is
binne én buite hierdie donker kokon.
Help my asseblief om geduldig te bly wag
totdat die reis
op U volmaakte tyd
eindig in ‘n opstandingslewe!
Ek begeer met my totale wese
om as dié mens te leef
wat U my oorspronklik geskep het,
wat U liefdesbeeld reflekteer en U sigbaar maak
in hierdie wêreld
en om met toewyding te leef tot Ú eer alleen.
Help my asseblief om in hierdie Lydenstyd
gereelde stil en eenkant tye by U deur te bring
sodat U my kan herskep.
Laat U liefdegevulde genade my daartoe dring.
Amen

Spreuke 4:23 (DB) Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed.

Die eerste maand van die nuwe jaar lê op sy rug en ons smag dalk alreeds na ‘n stadiger leefpas. . .

Ons het elke nuwe jaar soveel nuwe voornemens, maar ons besigraak laat baie daarvan vinnig kwyn.

Dit tref my die afgelope ruk opnuut hoe ‘n belangrike rol mens se gedagtes speel en hoeveel energie dit kan steel. . . ‘n Mens kan so om en om en om dieselfde ou geykte gedagtes bly dink. Iemand sê dis soos ‘n hond wat sy eie stert bly jaag.

Dit was ook vir my ‘n “eye-opener” om waar te neem hoeveel keer my gedagtes hulle kringetjies al malend en herhalend sluit om gebeure in die verlede en ook in die geantisipeerde toekoms en nie hier in die hede is, wat tog die enigste werklikheid is nie! Verder is my gedagtes wat die hede betref dikwels vol weerstand en nie-aanvaardend teenoor wat nou aan die gebeur is. . . Boonop is daar ook kritiese, veroordelende en vreesgedagtes en nog baie ander waarop ek glad nie trots is nie.

Hierdie bewusbewording word nou elke keer vir my ‘n gulde geleentheid om dit aan die Here oor te gee en te vra om my in my swakke mensheid te help om anders en nuut te dink om dan uit hierdie sinlose kring te kom.

Ek wil nuwe, lewegewende en immergroen gedagtes dink wat alleen Hy kan gee, gedagtes wat op Hom en sy koninkryk gerig is.

Hoe wonderlik anders sal ons wêreld nie wees as elkeen van ons gereelde oomblikke deur die dag stil word en onsself net hierdie een vraag te vra: Waaraan dink ek nou? Mag ons dan ons Here toelaat om ons denke te vernuwe! Hy wil!

Rom 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Deur hierdie daagliks bewuswording en oorgawe sal nuwe, vars gedagtes deur ons kan ontkiem. Mag ons ons binnegrond voorberei daarvoor elke nuwe, liewe dag.

Die nuwe jaar is om die draai en as ons om ons kyk, mag dit lyk asof die wêreld al hoe donkerder raak. . .

Helder oordag het ek met my lens ‘n draai gaan loop en na hierdie waterlelies gaan kyk:

Ek het die wêreld om my opsetlik donkerder gemaak met ‘n kamera-instelling:

En toe nog donkerder:

Die lig wat altyd daar is, het skielik só sigbaar geword!

2020-sig

hoe sou ons anderster kon sien
dat U oral vonkel en flonker
as dit nie was
vir hierdie donker?

Mag ons in 2020 hierdie beeld met ons saamdra. Mag ons op die uitkyk wees vir U lig wat áltyd daar is.

Om so te kan sien, het ons rein harte nodig.

Jesus sê dit vir ons – Matt 5:8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Dawid, ‘n man na God se hart, vra daarvoor – Psalm 51:12 Skep vir my ‘n rein hart, o God…

Here, dis ook ons hartsgebed.

Daarom kan ons uitsien na hierdie nuwe jaar. Dan kan ons ook leef met die wonderlikste wete dat níks ons ooit kan skei van U liefde en die lig van U teenwoordigheid nie! U is by ons in elke oomblik, maak nie saak hoe donker dit om ons raak nie. . .

U het dit vir ons ook so duidelik bevestig in die laaste woorde van die eerste evangelie – Matt 28:20 En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”