Ek sit nou die dag in my studeerkamer en werk toe sy in een van die tuinbome verskyn. Die vensterblindings is in die pad toe ek my kamera nader bring. As ek dit sou optrek sou sy beslis wegvlieg. Sy was vir lank buite die venster. . .

Waar kry mens ‘n mooier groen?

Sy kyk een kant boontoe. . .

Dan na die ander kant. . .

Dan reguit na my. . .

Weer kyk sy op. . .

En weer na my. . .

Haar hele lyfie nou gedraai na my. . .

Ek merk later die ligpyl, wat boontoe wys, in haar oog op.

En sien die harte op haar vere raak:

Here, toe bring U deur die meitjie ‘n boodskap vir my-tjie!

Alles in die skepping is U s’n en alles dra U merk van lig en liefde!!

Help my, Here, om ook deur my klein lewe U lig en liefde te wys.

Die groen op haar vlerke lyk self soos oopgespreide vlerke.

Here, maak ook my vry om hierdie boodskap in volkleur uit te dra waar en hoe U my ook al wil gebruik. . .

Lukas 6:36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

‘n Paar jaar gelede het ek verby hierdie boom geloop. Ek wou dit van naderby beskou, want dit was so mooi van ver af.

Toe ek nader gaan, sien ek iets wat my hart diep aanraak. Dis asof die boom se broosheid, gebrokenheid sigbaar word. . .

Hoeveel keer loop ek verby iemand sonder om bewus te wees van hul diep pyn? Dalk wil hul daaroor praat, maar ek is te haastig, te ongeërg, te onbesorg?

Here, in hierdie lewe loop ons almal met wonde en soms het ‘n mens net nodig dat iemand by jou sit in jou pyn. Nie om dit weg te praat, reg te praat of te probeer verklaar nie, maar net om dit raak te sien, raak te hoor. Onverklaarbaar raak ‘n hart dan ligter. . .

Here, help ons om met sagte oë na ons wêreld te kyk, stil te word om diep te luister en U liefde toe te laat om deur ons te vloei. . .

Psalm 74:17 The four corners of the earth were formed by your hands, and every changing season owes its beauty to you.

Die amandelbloeisels is weer eerste hier. . .

Hul Hebreeuse naam beteken letterlik “die ontwakende”.

Hierdie bloeisels het nie oornag gevorm nie. Daar was ‘n lang tyd van vorming en wag in donkerte. Dan boonop die deurbreek wat ook moet plaasvind.

Na ‘n wagtyd word nuwe lewe, ‘n nuwe lente, op die perfekte tyd gebore.

Hoe wonderlik is elke ontwaking na ‘n winterdood!

Wanneer winter se laaste stuiptrekkings aanbreek

is julle, amandelbloeisels
God se seinblomme
wat die nuwe seisoen
triomfantelik uitbasuin
<<<<<<<<<<<<<<<<<<<
sonder ‘n enkele woord te sê:
hoopbringers
in vyf oop blomvingers

Ons het, soos baie ander mense, ook die afgelope Vrydagaand die lang eens-in-’n-leeftyd algehele maansverduistering met groot entoesiasme en verwondering dopgehou:

Ons was in die bosveld en die sterre was boonop ‘n skouspel op hul eie. Ons het U almag ten diepste ervaar. Hoe groot is U!

Psalm 8:2 Here, ons Here, hoe wonderbaar is U naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Enkele dae gelede werk ek in my studeerkamer en toe ek opkyk sien ek haar daar sit teen die venster:

Sy het maansverduistering-lank bly sit met haar vlerke oopgesprei. . .

Hierdie pragtige klein mot met haar perfekte simmetrie en fraaie vlerkfraiings en -kartels het my ook laat uitroep: hoe groot is U!

Here, hoe wonderlik is dit om U almag, liefde, skoonheid, wysheid en sorg in U skepping te mag raaksien, in dit wat seldsaam is, maar ook in dit wat ons beskou as die alledaagse. Help ons asseblief om verwonderd te leef oor alles, want alles dra U stempel.

Ons kan net Dawid se woorde beaam in die laaste vers van Psalm 8Here, ons Here, die hele aarde wys dat U Koning is.

Is dit nie ‘n wonderlike geskenk om lewe raak te loop op plekke waar ons dit juis nié sou verwag nie?! Wanneer daar op klipharde plekke nuwe lewe sigbaar is, doen dit iets aan mens se binnewêreld:

Here, dankie vir mense wat met oorgawe en dankbaarheid leef en blom waar en in watter omstandighede U hulle ook al geplaas het. Sulke mense sal ons altyd bly inspireer, selfs na hul dood. Help ons om ook so te leef.

An animal’s eyes have the power to speak a great language. Martin Buber

Nou vra ek myself af of ons genoeg tyd maak vir oog-tot-oog kontak met ons medemens om hierdie taal te lees? Dit verg egter ‘n oop hart. . .

So vervul ons een van ons medemens se grootste behoeftes en dit is om regtig raakgesien te word.

So word ons Sy oë op aarde.

“Christ has no body now but yours. No hands, no feet on earth but yours. Yours are the eyes through which he looks compassion on this world… Teresa of Ávila

So is ons medeskeppers van ‘n oog-tot-oog wêreld en nie ‘n oog-vir-‘n-oog wêreld nie . .

Die nabyheid en aanraking tussen hierdie drie Pilanesberg-olifante is baie besonders. . .

Dit herinner my aan die Taizé-lied: Waar daar liefde is, en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Johannes verwoord dit so wonderlik:

1 Joh 4:12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

1 Joh 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Here, mag ons elkeen die geheue van ‘n olifant hê sodat ons hierdie woorde nooit sal vergeet nie. Help ons asseblief sodat U nimmereindigende liefde onverhinderd deur ons kan vloei. So word U al meer en meer sigbaar én tasbaar in ‘n wêreld wat smag na liefde.

Ons kan so dikwels deur die lewe jaag, maar wat kan ons doen om stadiger te leef? ‘n Man na God se hart, Dawid, se woorde kan ons vandag nog hiermee help:

Psalm 23 (Japanese Translation)

The Lord is my Pace-setter, I shall not rush;
He makes me stop and rest for quiet intervals.
He provides me with images of stillness,
which restore my serenity.

He leads me in ways of efficiency
through calmness of mind,
and His guidance is peace.
Even though I have a great many things
to accomplish each day,
I will not fret, for His presence is here;

His timelessness, His all importance,
will keep me in balance.
He prepares refreshment and renewal
in midst of my activity,

By anointing my mind with His oils of tranquility.
My cup of joyous energy overflows,
surely harmony and effectiveness
shall be the fruits of my hours,
for I shall walk, in the pace of my Lord
and dwell in His house forever.

Here, ons hartsbegeerte is om bewustelik in U teenwoordigheid te leef. Leer ons, help ons asseblief daagliks om ‘n aanpassing in ons pas te maak sodat ons in die volheid van ‘n lewe saam met U kan leef, soos wat U vir elkeen van ons beplan het.

‘n Opstaangebed

Here, vanoggend wil ek
voor ek opstaan
eers gaan lê:
my wil gaan neerlê voor U,
dit afstaan. . .
sodat Ú kan opstaan
in my
en dit Ú voete is
wat hier grond raak. .
sodat Ú deur my leef
in hierdie nuwe dag
help my seblief in elke oomblik
om oop en wakker te leef
om te sien of hierdie willetjie
van my steeds lê
en of hy sowaar al weer opgestaan het!

Matteus 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Romeine 8:15-16 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 

1 Johannes 3:1 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook…

Matteus 7:9-11 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

Hý weet wat die beste vir ons is:

Abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

 

Dankie, Vader, vir hierdie ongelooflike voorreg dat ons U kinders mag wees en dat ons altyd veilig in U hande is.  Ons wil hierdie wonderlikste waarheid elke dag opnuut ervaar en daaruit leef.

Dankie Here vir die seën van Godsmanne waardeur ons ‘n blik op u Vaderhart mag kry.