Uit Johannes 19:18 Daar het hulle Hom gekruisig. . .
✝ransformeer
U kruis hard
U hart sag
my kruis sag
my hart hard
Here, U weet dis sagte harte waarin Liefde klop, wat lei tot lewens wat neergelê word, ‘n kruis wat opgeneem word en ‘n wêreld wat getransformeer word.
Here, help ons om vandag stil te word, op te kyk na U waar U aan die kruis hang en ons harte oop te stel vir U sagte influistering daarin . . .
2 Kronieke 16:9a Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.
Dit was ‘n artikel in ‘n kettingwinkel se tydskrif wat my oog gevang het. . .
Om op te kyk is nie vir ons vreemd nie, want ons Here Jesus het ook gereeld opgekyk:
Uit Matt 14:19 Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos.
Joh 11:41 Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.
Soveel heiliges deur die eeue het ook opgekyk. Stefanus (Handelinge 7) het opgekyk na die hemel voordat hy gestenig is.
Die artikel haal navorsing aan wat bewys dat dit mens positief kan laat voel wanneer mens opkyk. Is dit omdat ons as Christene dan ten diepste ervaar dat ons burgers van die hemel is? In Psalm 42:7 lees ons “deep cries out to deep”.
Besef ons dan ook ten diepste dat ons Vader se oë altyd op ons gerig is?
Here, U is oral, U oë is oral op die aarde. U wil graag hê dat ons oogkontak moet hê.
Hebrews 12:2 Amplified Bible (AMP) [looking away from all that will distract us and] focusing our eyes on Jesus, who is the Author and Perfecter of faith…
Hierdie pragtige woorde uit die lied van Alan Jackson herinner ‘n mens daaraan:
Turn you eyes upon Jesus,
Look full in His wonderful face;
And the things of earth will grow strangely dim
In the light of His glory and grace.
Wanneer ons hierdie oogkontak behou, word ons sig herstel.
“The eye through which I see God is the same eye through which God sees me; my eye and God’s eye are one eye, one seeing, one knowing, one love.” Meister Eckart
Uit Joh 16:33 In die wêreld sal julle dit moeilik hê . . .
Pyn en swaarkry is ‘n moeilike deel van ons lewe op aarde, maar tog is daar min ander dinge juis soos pyn en swaarkry wat ons verbintenis aan Hom en mekaar hegter maak.
Wanneer iemand, waarvoor jy baie lief is, swaarkry, is daar iets heiligs wat na vore kom. Dis asof daar iets van die groot Misterie in ons deurbreek op ‘n nuwer, dieper vlak.
Ons is so bewus van ons eie magteloosheid, nietigheid en breekbaarheid soos nooit tevore nie en dít maak ons oop om aangeraak te word, getrek te word na ‘n dieper verbinding en verhouding met Hom en met mekaar. . .
Pelgrims
weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde
Joh 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Ons is pelgrims op reis na ons ewige bestemming. Al kry ons hier soms swaar, is ons egter nooit alleen nie, omdat ons Here áltyd by ons is, te midde van swaarkry. Ons kan vashou aan die belofte in Ps 34:19 Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.
Sy nabyheid en vrede loop hand aan hand.
So hou Hy ons hand vir ewig in sy onverbreekbare band.
Matt 12:34 Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Sommer hier aan die begin van Lydenstyd, nog voordat ek kon besluit waarvan ek moontlik kon vas, het dit gebeur: my stem het verdwyn. Laringitus en ‘n erge seer keel het twee wagte geword wat binne en toe sommer ook voor my mond geplaas is!! Die dokter gee baie medisyne en sê my stem moet rus.
Aanvanklik het ek nie gedink dat dit vir my moeilik sou wees nie, want ek is mos gewoond aan stilteretreats. Maar om in jou alledaagse omgewing nie te praat nie, is ‘n totaal ander storie. Ly ek dalk aan praatsiekheid?
Hoeveel anders is dit nie om eers mooi te besluit of ek hierdie enkele woorde gaan sê of nie? Toe ek later begin skryf wat ek wil sê, besef ek dat wanneer ‘n mens sien wat jy sê, sien jy jou woorde in ‘n totaal nuwe perspektief! Dis asof mens ook vooraf besin oor watter effek hierdie woorde gaan hê.
Die Engelse spreekwoord lui: “Silence is golden”.
U nooi ons altyd uit om naby U te bly, om sodoende ingestem te bly om u sagte influistering in ons harte duidelik te hoor.
Hierdie praat-vas word toe ‘n gulde geleentheid om opnuut my taal te gaan haal uit die stilte van my hart. Dan sal ek myself nie later vaspraat nie. . .
Hebr 10:23 Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.
Soms in ons lewens kom die moeilikhede so op ‘n hoop en dit kan voel asof dit ‘n hoop word wat ons vasdruk.
Lydenstyd het hierdie week aangebreek. Dis ‘n tyd waarin ons ten diepste besef dat Christus in ons nood, ons pyn, ingedaal het. Dis ook ‘n tyd van gereedmaking om nuwe lewe te ontvang.
Dis dikwels later dat ‘n mens besef hoe naby die Here daar in die donkerte was, terwyl Hy ons vir ‘n tyd in hierdie heilige ruimte gehou en toegevou het. Die lig van sy teenwoordigheid verlaat ons nooit nie.
Hulle wie se hoop sterk is, sien en koester elke teken van nuwe lewe. Erich Fromm
Dis asof hul so stralend verrys. . .
Hy bly altyd by ons, daarom hoef ons nie hooploos te voel nie, maar kan ons vol hoop bly!
Vriende van ons woon op die oomblik in Duitsland. Hulle stuur onlangs vir ons hierdie sneeufoto:
Dis ‘n sneeuvlokkie, of eintlik ‘n sneeukristal, op ‘n wintersbaadjie! Die whatsapp-vriendegroep was dadelik in vervoering oor die onverwagte skoonheid daarvan.
Dit herinner my toe aan iets wat my bybly omtrent ‘n man genaamd Wilson Bentley wat vanaf 1865-1931 geleef het. Hy was een van die eerste bekende sneeuvlokkie-fotograwe. Dit was ‘n moeilike taak, want selfs onder vriespunt is sneeuvlokkies se bestaan baie kortstondig, omdat hulle sublimeer (gaan direk na die gasfase).
Hy het dit so goed gedoen dat skaars enige iemand anders vir byna 100 jaar groot moeite gedoen het om foto’s van sneeuvlokkies te neem. Hy het meer as 5000 foto’s daarvan geneem en elkeen van die kristalle was uniek!
Hier is ‘n kort video:
Bentley het die sneeuvlokkies poëties beskryf as “klein wonderwerke van skoonheid”.
Hieronder is 72 so bymekaar:
Dit laat mens jou onvermoë besef om in woorde uit te druk, dít wat mens hier ervaar. . . Tog sal ek iets probeer weergee van dít wat my hart aanraak.
Hier is oorvloedige skoonheid vanuit ‘n onuitputlike Bron en elkeen is inderdaad ‘n wonderwerk!
‘n Mens kan amper nie glo wat mens sien nie, dis verstommend, die sesvoudige simmetrie, die briljante orde in elkeen. Die delikate detail is onbeskryflik. U openbaar uself in elkeen van hulle. . . Ek ervaar ook iets daarvan hoe U dit moes geniet het om elkeen te skep, dat dit goed is in U oë en ook dat U bly is wanneer ons dit geniet.
O Heer, U plaas soveel skoonheid in hierdie sneeukristalle wat vir so ‘n vlietende oomblik bestaan. Hoeveel meer skoonheid plaas U nie in ons, die kroon van U skepping, wat na U beeld geskape is nie?!
U het ‘n meesterplan met elkeen van hulle en so ook met ons, al kan ons dit nie nou sien nie, want hier op aarde sal ons altyd net ten dele ken. Laat ons rus in die wete dat U weet wat u unieke plan met elkeen van ons is. Ons kan bloot net glo en U totaal vertrou dat alles eendag vir ons duidelik sal wees. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!
Wilson Bentley het die sneeukristalle “ysblomme” genoem. Selfs in die koudste weer, selfs in stormwinterweer, bring U steeds vir u kinders blomme! Daarmee saam bring U vir ons ‘n vonkie warmte vanuit U vurige, oorvloedige liefde vir ons. . .
(Foto’s van sneeukristalle uit Duitsland: Bertus Malan)
2 Sam 6:12 Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 14 Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan.
Die ark was naby, God was naby . . . Hy, die man na God se hart, kon nie anders as om daaroor bly te wees nie. Ek glo dat Dawid se voete bloot sy hart gevolg het, hy kon nie anders as om uitbundig, vreugdevol en met volle oorgawe voor die Here te dans nie.
Hy het uit sy hart gedans, sy hart uitgedans.
Hoeveel te meer behoort ons nie bly te wees, vol feesvreugde te wees nie, want ons is sy tempels. Hy woon binne ons!
Hierdie pragtige woorde is die laastes uit die lied “Lord of the Dance” geskryf deur Sydney Carter:
I’ll live in you if you’ll live in Me
I am the Lord of the dance, said He
Dance, then, wherever you may be
For I am the Lord of the dance, said He
And I’ll lead you all, wherever you may be
And I’ll lead you all in the dance, said He
Soms is dit ‘n uitbundige dans, maar soms is dit ‘n stiller, stadiger dans waar ons bloot net aanleun teen Hom, want in hierdie dans word ons altyd gelei én vasgehou in Ewige arms.
Dit maak nie saak hoe mobiel, hoe oud of hoe jonk ons is, hoe ons ook al die dag voel nie, die dans gebeur altyd in die oop, oorgegewe hart alreeds van hier af tot in die banketsaal van die bruilofsfees, tot in alle ewigheid. . .
Wat die lewe draaglik maak, is die skakel wat daar is tussen mens en mens. Audrey Blignaut
Verlede week se inskrywing het gegaan oor dié blom wat net vir een dag blom. . .
Presiese ‘n week later is ek weer by Sarha en in dieselfde bedding staan daar nie meer ‘n enkel blom nie, maar twee! Hulle raak aan mekaar en hulle raak my aan. . . Helder spatsels lig val so mooi op albei.
Toe kom die insig: elkeen van ons is draers van God se glorie (die geel op die blomme), maar ook van ons verwondheid (die spatsels rooi).
God bring mense op sy regte tyd bymekaar. As ons dan met waagmoed en brose openhartigheid beide aspekte met daardie spesiale mense in ons lewe deel, gebeur daar iets baie kosbaars, spesiaals.
Dié soete wysheid verduidelik so iets daarvan:
Dit skakel ook so mooi in by die woorde van Prediker 4:9 Twee vaar beter as een. Saam vaar ons dan soveel beter om te ervaar en te aanvaar dit wat in ons lewens na ons toe kom.
2 Petrus 3: 8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
Verlede week trek dié asemrowende blom my aandag en ek neem net daar en dan ‘n foto . . .
Die blom was in Sarha, by wie ek sanglesse kry, se tuin. Sy sê vir my dat hierdie blom (Tigridia) net vir een dag blom. Sowaar!
Dat U soveel asemrowende skoonheid skep in ‘n blom wat net vir een dag blom, gaan my beperkte begrip heeltemal te bowe. . .
Ek besef hier, dat net soos U weë hoër as ons s’n is, is U tyd ook.
Here, help ons asseblief om in volle bloei te staan op hierdie aarde vir ons een dag, hoe lank U ook al besluit dit sal wees, totdat ons eendag vir altyd in U onverwelklike Koninkryk gaan blom.
Ek Groot Opgeblaas
U darenteen so egoloos
laat U doringkroon my prik
sodat ek afblaas van eie wind
sodat u Geeswind my kan vul
maar ek is so pure sif. . .
niks is vir U onmoontlik
solank ék net winduit is. . .
Here, help my asseblief om tot daardie punt te kom waar ek bloot net soos U kan sê: “Laat U wil geskied.” U weet ons gees is gewillig, maar ons vlees is swak.