“The reason birds can fly and we can’t is simply because they have perfect faith, for to have faith is to have wings.” JM Barrie

Daar is soveel swaar, seerkry en pyn in hierdie wêreld. Dis deel van die lewe, hoewel ons dit so graag anders sou wou hê, maar dis hoe dit is.

Jesus het dit self ondervind en ons daarvan vertel – Joh 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dis egter wanneer ons met en in ons pyn gaan sit, dat daar ‘n bewuswording kom dat ons nie alleen in ons pyn is nie en dat daar iets soos geloofsvlerke is, wat stadig oopsprei en ons as’t ware opgelig word. . . Ons kan dit nie verklaar nie, dis ‘n diep ervaring anderkant woorde.

Help ons asseblief, Here, sterk ons geloofsvlerke, sodat ons vry en lig kan leef binne U oneindige ruimtes. . .

Kol 1:17 (NLV) Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind.

My man was vir ‘n paar dae in die hospitaal en Sondag kon ek hom huis toe bring. Dis ‘n pragtige, helder dag. Ons kon die son se warm strale op ons opnuut waardeer.

Op pad na ons motor toe, kyk ek af en sien die volgende op die plaveisel van die parkeerterrein:

Toe word ek opnuut so bewus daarvan dat U altyd by ons is en alles bymekaar hou, die ganse heelal en ook die stukke van elkeen van ons se lewens, al voel ons hoe stukkend.

Dié wete het my toe sommer net daar stukke beter laat voel. . . U is altyd in beheer!!

If you change the way you look at things, the things you look at change. Wayne Dyer

My Ma laat weet vroeër hierdie week dat haar bestuurderslisensie gereed is om afgehaal te word en vra my om haar na die lisensiekantore toe te neem.

Dit klink na ‘n kort uitstappie: dis mos net ‘n-afhaal-en-ry? Maar o wee, toe ons daar kom is daar baie mense wat dieselfde idee gehad het om ook op hierdie oggend hul lisensies af te haal. My moed sak in my skoene toe ek die lengte van die tou sien en dit omskakel na uureenheid. Vir baie van ons moet alles mos in ‘n kits gebeur, anders raak ons sommer dadelik omgeklits!

Dis interessant om die gesigte van die mense wat net daar aankom dop te hou tot op die punt waar hulle besef waar die punt van die tou is. . . Dis seker hoe my gesig ook gelyk het as iemand my sou dophou! Dis moeilik om jou teleurstelling te verberg.

Net daar besef ek dat ek ‘n keuse het hoe ek in die tou wil staan: met ‘n nie-aanvaardende of ‘n aanvaardende houding. Ek begin die mense om my met ‘n nuuskierige houding dop te hou. Die meeste raak verlore in die skerms van hul fone, terwyl enkeles geselsies aanknoop met die mense om hulle en ander sit of staan net.

Meteens het ek besef dat ek naby mense staan waarmee ek dalk nooit andersins in kontak sou kom nie en ek kon heerlike geselsies aanknoop. Ons is almal in dieselfde tou- bootjie. . . Ons het ‘n invloed op mekaar en ons kan besluit of dit positief of negatief gaan wees. . .

Op die ou einde toe ons na ‘n lang wag geholpe geraak het en terug motor toe loop, voel ek sommer lig.

Ons hou nie van die w-woord, die wag-woord nie, maar as ons ‘n wagtyd aanvaar en nie weerstand daarteen bied nie, is dit vol onverwagte skatte. Nêrens is dit belangriker as op ons pad met die Here nie. . .

Hy het die wêreld se tyd! Dis ons, sy mensekinders, wat so haastig en ongeduldig kan raak, terwyl Hy vir ons soveel belangrike lewenslesse in ons wagtyd kan en wil leer en ons omvorm in ons wagtyd.

Ps 131:3 Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Help ons Here om altyd op U te bly wag.

‘n Ons-word-nog-rustig-wakker tyd is een oggend hierdie week skielik onderbreek deur ‘n harde slag! Ons kyk albei in die rigting daarvan en sien net ‘n dalende flits van die allermooiste groene soos die diederik skuiling soek binne-in die potplant op die stoep buite ons kamervenster, nadat dit een van die ander kamers se venster met ‘n harde slag getref het.

Ons het geweet dis hy, want hy het ons vroegoggend al bekoor met sy sang.  Dis net hy wat hier in ons tuin met hierdie asemrowende groen verejas spog (sien blog van 16 November 2018).

Die geelvink het hom verjaag in ‘n dolle vaart en die diederik het hom misgis met die venster (dalk het hy gemeen dis ‘n veilige plek om heen te vlug). Die potplant was sy redding. . . Die geelvink het daarna ewe triomfantelik hoog op ‘n telefoondraad gaan sit.

Ons het geweet die arme voëltjie sit verskrik daar binne en is dalk beseer. Ons het bly kyk en toe ons kamera’s gaan haal om hierdie ongewone toneel vas te lê. Versigtig het ons nader gegaan en ‘n paar foto’s geneem en weer teruggegaan om hom in vrede te los. . . Sy vrees was waarneembaar. . .

‘n Paar minute later het die blye toneel voor ons afgespeel: hy vlieg op en gaan sit hoog in ‘n boom, skynbaar ongedeerd. Verligting het oor ons gespoel!

Waarom sou die geelvink dit doen? Het die diederik sy grense oorskry, hom dalk gepla of was die geelvink dalk jaloers?

Ons sal seker nooit weet nie. Ons is net dankbaar dat die ou groen lyfie weer vry, op vrye vlerk en voet is. . .

Die lewe is nie altyd so soet nie. Maar wonderbaarlik is daar vir ons skuil- en herstelplekke op presies die regte tyd soms net daar! As God so mooi vir sy voëlkinders sorg, hoeveel te meer nie vir sy mensekinders nie?

Matt 6:26b  …julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Mooier sorgwoorde as dit sal mens nêrens kry nie!

Die eerste Adventkers, die hoopkers, is die afgelope Sondag aangesteek.

In die middel van hierdie hoopweek is my stiefpa Willem oorlede.

Dis by iemand se sterfbed waar mens ten diepste bewus word van ons eie sterflikheid, maar ook van ons onsterflikheid.

Dag vir dag oor ‘n maandtydperk in die hospitaal kon ek ervaar hoe sy tentwoning besig was om afgebreek te word.

2 Kor 5:1 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Sy vleestent het nou hopeloos te klein en beperkend geraak en moes plek maak vir ‘n groter lewe wat besig was om deur te breek. . . Byna soos ‘n metamorfose.

‘n Hemelburger is teruggebring na sy ewige huis toe.

Fil 3:20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Wanneer ‘n mens die stil getuie van hierdie heilige gebeurtenis was, het mens opnuut ‘n nuwe taak; ons moet hoop aangee en nie hoop opgee nie!

1 Petrus 1:3-4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 Kor 15:54-55 En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Ons gaan jou baie hier mis, Willem, maar hierdie waarhede laat ons met hoop leef en bring die grootste denkbare, of dalk eerder ondenkbare troos, totdat ons jou weer gaan sien in ons ewige woning.

Is die ongemak wat ons soms in ons lewens ervaar nie dalk eerder ‘n uitnodiging nie?

And the day came when the risk to remain tight in a bud was more painful than the risk it took to blossom. Anaïs Nin

Plante het nie ‘n keuse nie, ons het wel. Die proses is pynlik en kos oorgee, ook durf en deurdruk, maar deur ‘n bloeiende plant dop te hou, mag die laaste stukkie waagmoed aan ons gegee word. . .

So is ons dalk toe net genooi om ons beperkende, drukkende ruimtes te verruil vir ‘n nuwe wêreld wat veel groter is as wat ons kon dink of verstaan. . . Amper soos ‘n nuwe geboorte!

Wat ‘n deurbreek, ‘n triomfantelike oopbreek uit die donkerte na die lig is dit nie?!

Al wat U vra is ons ‘ja’, ons bereidwilligheid, dat U nuwe lewe deur ons kan geskied. Hoe dit dan gebeur weet ons nie, maar ons rus in die wete dat U in beheer is. Ons is nederige en oorvloedig dankbare draers daarvan.

Ps 133:1 Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon!

Dit was hierdie week tydens my sangles dat ek hierdie tweetjies dopgehou het. Die bruinetjie het eerste sy lê gekry en die ander enetjie het gevolg.

Ek kon nie anders as om nader te gaan nie. . .

Hoekom kan hierdie twee klein hondjies in vrede met mekaar saamleef, maar sukkel ons so dikwels? Hoekom sal ons dikwels eerder na mekaar hap of selfs verskeur as om mekaar lief te hê? Petrus skryf: soek vrede en jaag dit na! (1 Petrus 3:11b)

Here, help my om selfloos, vredevol, mededeelsaam, nederig en in harmonie met my medemens te leef. Gee my ook so ‘n oop, onskuldige hart soos hierdie hondjies.

My oog bly op hulle rus tydens die res van my sangles en my hart sing ‘n nuwe lied.

Here, is dit wanneer ons in harmonie met mekaar saamleef dat die mooiste, soetste harmonieë weerklink oor die ganse aarde tot in die hoogste hemele en ons die seën van U nabyheid ten diepste ervaar?

Ek sit nou die dag in my studeerkamer en werk toe sy in een van die tuinbome verskyn. Die vensterblindings is in die pad toe ek my kamera nader bring. As ek dit sou optrek sou sy beslis wegvlieg. Sy was vir lank buite die venster. . .

Waar kry mens ‘n mooier groen?

Sy kyk een kant boontoe. . .

Dan na die ander kant. . .

Dan reguit na my. . .

Weer kyk sy op. . .

En weer na my. . .

Haar hele lyfie nou gedraai na my. . .

Ek merk later die ligpyl, wat boontoe wys, in haar oog op.

En sien die harte op haar vere raak:

Here, toe bring U deur die meitjie ‘n boodskap vir my-tjie!

Alles in die skepping is U s’n en alles dra U merk van lig en liefde!!

Help my, Here, om ook deur my klein lewe U lig en liefde te wys.

Die groen op haar vlerke lyk self soos oopgespreide vlerke.

Here, maak ook my vry om hierdie boodskap in volkleur uit te dra waar en hoe U my ook al wil gebruik. . .

Lukas 6:36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

‘n Paar jaar gelede het ek verby hierdie boom geloop. Ek wou dit van naderby beskou, want dit was so mooi van ver af.

Toe ek nader gaan, sien ek iets wat my hart diep aanraak. Dis asof die boom se broosheid, gebrokenheid sigbaar word. . .

Hoeveel keer loop ek verby iemand sonder om bewus te wees van hul diep pyn? Dalk wil hul daaroor praat, maar ek is te haastig, te ongeërg, te onbesorg?

Here, in hierdie lewe loop ons almal met wonde en soms het ‘n mens net nodig dat iemand by jou sit in jou pyn. Nie om dit weg te praat, reg te praat of te probeer verklaar nie, maar net om dit raak te sien, raak te hoor. Onverklaarbaar raak ‘n hart dan ligter. . .

Here, help ons om met sagte oë na ons wêreld te kyk, stil te word om diep te luister en U liefde toe te laat om deur ons te vloei. . .

‘n Opstaangebed

Here, vanoggend wil ek
voor ek opstaan
eers gaan lê:
my wil gaan neerlê voor U,
dit afstaan. . .
sodat Ú kan opstaan
in my
en dit Ú voete is
wat hier grond raak. .
sodat Ú deur my leef
in hierdie nuwe dag
help my seblief in elke oomblik
om oop en wakker te leef
om te sien of hierdie willetjie
van my steeds lê
en of hy sowaar al weer opgestaan het!

Matteus 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.