Psalm 74:17 U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.

Hierdie foto van dieselfde lyster is vier jaar later geneem, op 21 Desember 2015, waar sy op dieselfde muur staan.

Lyk my selfs lysters word ook grys. . .

When you really gaze at something, you bring it inside you. John O’Donohu

Hierdie foto ontlok soveel emosie binne mens. Dit is somer, tog het die grys agtergrond ‘n winteratmosfeer. Sy staan nou alleen op die muur (vergelyk dit met verlede week se foto).

We don’t see things as they are, we see them as we are. Anais Nin

M. Scott Peck se woorde uit sy boek The Road Less Travelled kom by my op: LIFE IS DIFFICULT. This is a great truth, one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it. Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult. Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.

Aanvaarding is vir my die sleutel wat die deur na ‘n groter lewe oopsluit; ‘n diep ja, vir wat ook al oor ons pad kom, omdat ons ‘n diep vertroue, anderkant rede het, want ons weet in Wie se hand ook hierdie seisoen is, maak nie saak wat gebeur nie. Daar is altyd ‘n groter plan, egter dikwels nog versteek vir ons, wat aan die werk is . . .

Dit laat my ook dink aan die Prediker se woorde:

Pred 3:1-11  Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:  daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek, ‘n tyd om ‘n lewe te neem, ‘n tyd om ‘n lewe te red, ‘n tyd om af te breek, ‘n tyd om te bou, ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans,  ‘n tyd om klippe weg te gooi, ‘n tyd om hulle bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels, ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af,  ‘n tyd om aan te skaf, ‘n tyd om te laat wegraak, ‘n tyd om te spaar, ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur, ‘n tyd om toe te werk, ‘n tyd om stil te bly, ‘n tyd om te praat, ‘n tyd om lief te hê, ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog, ‘n tyd vir vrede.  Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei? Ek het gesien dat God aan die mens ‘n taak gegee het om hom mee besig te hou.  God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

Dankie Heer, vir elke seisoen in ons lewens. U is altyd op pad saam met ons, elke oomblik van ons lewens. Help ons tydens elke seisoen om nog nader aan U te groei en versterk anderkant uit te kom. U wil ons verander om soos U te sien, om al meer soos U te word.

Ps 32:10b Maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.

Is dit nie juis wanneer ons totaal magteloos is dat ons onverklaarbaar wéét dat hierdie omvouende Vlerke so oneindiglik sterk, maar terselfdertyd ook so mateloos sag is nie?

(Indien julle dalk wonder hoe ek weet dat dit dieselfde lyster is, kyk baie fyn. . . Volgende week vertel ek meer.)

Iemand het eenkeer gesê dat hierdie gebed die wreedste gebed is wat ‘n mens kan bid:

Welcoming Prayer – Thomas Keating

Welcome, welcome, welcome.
I welcome everything that comes to me today
because I know it’s for my healing.
I welcome all thoughts, feelings, emotions, persons, situations and conditions.
I let go of my desire for power and control.
I let go of my desire for affection, esteem, approval and pleasure.
I let go of my desire for survival and security.
I let go of my desire to change any situation, condition, person or myself.
I open to the love and presence of God and God’s action within.
Amen 

Dit voel dikwels na ‘n groot verlies om soveel te laat gaan en dis gewoonlik baie moeilik.

Dalk is een van die grootste redes daarvoor dat “Most people prefer the certainty of misery to the misery of uncertainty.” Virginia Satir

Tog is dit een van die mees bevrydende gebede. . .

Dit maak ‘n mens vry en onaantasbaar. Dis egter ‘n lewenslange proses. Ek glo dat dit van onskatbare waarde kan wees om hierdie gebed elke dag te bid, nie net gedurende ons stiltetyd nie, maar ook oor en oor soos wat die lewe met ons gebeur.

In Johannes 8:32 sê Jesus: en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Die uitlewing van hierdie gebed laat mens ervaar hoe elke bietjie sterf aan self én oorgee aan Hom mens net ligter en ligter maak.  Dan volg die vreugdevolle uitroep: Welkom, welkom, welkom, vryheid!

Galasiërs 5:1 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.

Kersdag is so pas verby, waar ons opnuut ervaar het hoe U alles nuut kom maak het.

Nou is ons aan die vooraand van ‘n nuwe jaar.

U wil altyd vernuwing bring. . . U plan is altyd ‘n groeiplan.

Ons lees in Openbaring 21:5 – Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Hierdie belofte het die vermoë om mens se hart en gemoed te lig, te vernuwe.

Maar wat gemaak indien mens nie nou eintlik vernuwing ervaar nie? Wat as die wêreld om mens donker lyk?

So ‘n rukkie gelede besoek ek iemand in die hospitaal wat met kanker gediagnoseer is en chemoterapie in die nuwe jaar moet ondergaan.

Wat ‘n belewenis was dit om haar te besoek. . . Ten spyte van moeilike omstandighede ervaar ek iets heiligs. Dis wanneer mens in haar oë kyk, dat mens dit sien: Lig.

Lukas 11:34 Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.

Rumi skryf:

The light which shines in the eye
is really the light of the heart..
The light which fills the heart
is the light of God, which is pure
and separate from the light of intellect and sense…

Hoe totaal anders lyk hierdie mosaïekwerk in die lig:

Hoe totaal anders lyk enige situasie wanneer U lig daarop skyn!

Here, ons begeer nuwe harte. Skyn asseblief U lig daarop, want dis daar waar ons die onsienlike kan sien en ‘n dieper, wonderlike werklikheid ervaar. Ons wag met biddende harte voor U daarvoor.

Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Die afgelope week het die eerste Adventsondag van 2017 aangebreek.

Die vier weke tot Kersdag is ‘n tyd van voorbereiding en afwagting.

Die woord “advent” beteken “aankoms”. Ons berei onsself voor om die geboorte van Jesus Christus te vier, sy eerste koms, en daarmee saam ook die viering van ons afwagting en verlange na sy terugkeer, sy tweede koms.

Die eerste van die vier adventkerse simboliseer hoop.

Ps 39:8 Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop.

U ís die enigste ware hoop in ons soms wanhopige wêreld. Slegs by U kry ons hoop vir elke dag, maar ook hoop vir U tweede koms.

Ons begeer dat ons lewens aangesteek sal word as hoop-kerse en sal bly opvlam na U. So sal ons as vurige hoopvlamme leef totdat U terugkeer, die Hoopvuur, op die volmaakte uur.

So word ons ook hoopbringers wat heenwys na die enigste ware Hoopbringer.

When you really gaze at something, you bring it inside you. John O’Donohue

Ek het lank en stil by hierdie gras gesit.

Hierdie veld is onlangs afgebrand en tussen die swart stopsels het hierdie nuwe groen blaartjies verrys.

‘n Buite-landskap word ‘n binne-landskap. . .

Soms mag dit voel asof ‘n verterende vuur deur mens trek en dit ‘n roetlandskap agterlaat.

Maar tog, op ‘n dag, heel onverwags, verrys die nuwe groen lewe. . .

Dié wonderlike waarheid dat dood nooit die laaste sê het nie, word oor en oor bevestig in elke klein groen opstanding, die hele veld vol.

So selfs al mag dit voel asof gedeeltes van ons binne-landskap afgebrand het, is dit ‘n uitnodiging om net hoopvol en geduldig te bly wag, al verstaan ons nou nog net mooi niks nie.

Life can only be understood backwards; but it must be lived forwards. Soren Kierkegaard

Hier is ons Here, al moet daar soms ‘n vuur deur ons gaan, kan ons weet dis die werking van U vurige liefde. U sê in Hosea 11:8 My liefde brand te sterk.

U palm is op ons en U plan is altyd ‘n groeiplan. Soms moet U van ons binnegras wegbrand om plek te maak vir nuwe lewe om deur te breek.

Tog weet ons na die tyd dat ons geloof versterk is en dat U ons nader in U brandende liefdeshart ingetrek het, hoewel dit vir ons ‘n pynlike proses was.

Ons weet ook daarna dat alles alleen kon gebeur het as gevolg van U opstandingskrag wat deur ons vloei. U plan is lewe, nie dood nie!

Efes 3:20-21 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Kom ons kyk vandag met nuwe oë in hierdie lenteseisoen na elke groen spatseltjie kleur en besef dat die lenteprag getuig van Sy oneindige, onuitputlike lewegewende krag!

Here, U wonderdade is te groot vir ons, daarom raak ons stil en kan ons hoor hoe elke groen blaar hierdie allermooiste opstandingslied uitjubel en die koorklanke weerklink tot in die hoogste hemele.

‘n Hart gevul met die brandende vlam van U liefde ervaar dit ten diepste . . .

Die lewe se snye en snoeie laat mens verlies ervaar, so erg dat mens later ‘n gevoel van afgestomptheid mag beleef. . .

Hierdie boom lyk morsdood, asof daar nooit weer lewe uit sal spruit nie. ‘n skynbaar hopelose toestand.

Maar tog, op ‘n dag:

Dis ‘n wyse Hand wat gesnoei het, dis dieselfde Hand wat laat groei het.

Sy plan is altyd ‘n groeiplan, maar dit word voorafgegaan deur ‘n pynlike snoeiplan. . .

Here, vergewe my dat ek so dikwels net ‘n nuwe seisoen se oorvloedige koms wil ervaar en tydens die wintertyd so gedurig kan kla, myself so bejammer en so stompsinnig kan wees.

Help ons asseblief om in elke seisoen net te weet: U volmaakte tuiniershand is op ons. Help ons om onlosmaaklik aan U verbind te bly, in die onverstaanbare, onverklaarbare kaalgestrooptheid, maar ook in die daaropvolgende seisoen met sy oorvloedige liggroen groei.

Na elke snoei groei ons lewensbome soos U dit wil hê. Ons wortels is versterk teen storms en kan ons selfs meer skadu aan moeë reisigers bied.

Daar is niks soos die lenteseisoen om ons te herinner aan hierdie woorde van Jesus nie:

Joh 11:25-26 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Op die perfekte wentelbaanposisie, in die lenteseisoen, kom daar vanuit die oënskynlik lewelose wintertakke nuwe lewe na vore. Hierdie lewe was besig om in onsigbare donkerte te vorm. Die wintertakke was toe nie dood nie, maar swanger van belofte! Geen grens kon die nuwe lewe terughou nie.

Dis asof hierdie lentebloeisel in ‘n reinwit opstandingskleed triomfantelik hierdie waarheid bly verkondig dat nuwe lewe altyd deurbreek.  Die spierwit meeldrade met hul goue koppe asook die nuwe groen blare reik opwaarts: padwysers na die ewige Ligbron.

Die oënskynlik lewelose hout dra toe al die tyd nuwe lewe!

Boonop kan ons vashou aan die grensverskuiwende belofte: “Christ has died, Christ is risen, Christ will come again.”

Mag hierdie waarheid elke dag ‘n totale omwenteling in ons lewens teweegbring!

Joh 10:29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

Iemand het onlangs vir my hierdie houtbeeld as geskenk gegee. Ek hou dit gereeld in my hand, maak dan my oë toe en voel ek wat ek gewoonlik net sien: die Hand, die mens, die liefde . . .

Só hou God ons elke oomblik in die holte van sy hand. Sy koesterende nabyheid en troue liefde is altyd daar, dis ‘n onverbreekbare band.

Dieselfde hande wat die ganse heelal geskep het, hou ons altyd vas.

Uit die Passion Translation van Ps 16:8 : Because You are close to me and always available, my confidence will never be shaken, for I experience your wrap-around presence every moment.

Daarom kan ons ontspan en met volle oorgawe en vertroue tot rus kom in Hom met die stille versekering dat daar niks is wat ons uit Sy hand kan ruk nie, ons is werklik onaantasbaar!

Daar is niks soos die dood van ‘n geliefde om ‘n mens weer by die diep vrae oor lewe en dood te laat stilstaan nie.

Ek wil myself elke dag afvra watter pad ek kies: die doodspad of die lewenspad? Ons staan hoeveel kere ‘n dag voor ‘n kruispad.

 

Besinning

lewe ek my in die dood in
of dood ek my in die Lewe in?
dít is die sin van onsin –
so word ons Syne
en Hy ons s’n

Wanneer ons elke dag telkemale sterf aan onsself, ons planne en ons wil, is ons lewe op die regte pad. Hierdie selfopofferende pad voel egter so dikwels na ‘n doodspad. Dit vra ‘n gedurige oorgawe, soos Jesus in die tuin van Getsemane – “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

Francis van Assisi en Ma Jannij het Jesus se pad in hulle lewens nagevolg.

Fil 1:21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

1 Kor 1:25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

In ons geloof lê die grootste wyshede verskuil in die grootste paradokse.

Gebed: Here, help my asseblief om U opstandingskrag alreeds hier daagliks te ervaar met elke klein bietjie sterf-aan-self.

Matt 5:4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

Dis vanoggend Ma Jannij se dankdiens.

Ons harte is seer en ons ontvang troos en bemoediging vanuit verskeie oorde. Hierdie perskebloeisels het ook vir my ‘n spesiale boodskap gebring. Dis nog winter, maar hier is hulle alreeds. . .

Ma Jannij, ek het lank by hierdie bloeisels stil geword en besef dis ‘n metafoor vir jou lewe: jy het dapper jou brose, skone kroonblare op jou kenmerkende stil manier oopgevou om jouself beskikbaar te stel vir Sy lewenskrag om in jou en deur jou te vloei.

Met liefde, blydskap, volle oorgawe en selfopoffering het jy geleef sodat jou lewe ‘n ryke vrugte-oes kon nalaat.

Psalm 16 was jou gunsteling psalm. Uit die laaste vers kom die woorde: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Ma Jannij, deur die verlies van jou lewenskroonblare weet ons daar het ‘n oorwinnaarskroon te midde van oorvloedige hemelse feesblydskap vir jou gewag, want dis Koningsbloed wat deur jou gevloei het, jou lewe laat bloei het. . .

So beleef ons in hierdie nuwe seisoen U seën te midde van ons seer en al is ons harte broos, bring dié wete vir ons bomenslike troos.