Fil 4: 4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Kan ek regtig oor alles bly wees? Op die oog af lyk dit nie so nie. . . Soms kry ek dit maklik reg, veral as iets groots, iets opwindends gebeur.  Maar wat van die ander tussenin tye, waarin die alledaagse sleur, selfs stormtye gebeur?

 

Ek voel dit gaan alles oor waar my blydskap se blyplek is . . .

IMG_7446

IMG_2179

 

Blygeestig

as daar niks meer
van my bly
is ek oor alles bly
maar
ook oor niks bly
want
dan bly ek
waar Hy bly

Gebed: Here, ek bely dat ek so dikwels ‘n blydskap-arm lewe leef. Ek besef dis omdat die bron van my blydskap te vlak lê en gou uitgeput raak. Dis my ekkigheid wat maak dat ek koppig in die pad bly staan, nie in die pad wil val, oorgee,  tot in U altyd-oop liefdesarms nie. Bron van wonderdade, wees my genadig, laat U stroom van blydskap standhoudend in my, deur my en om my vloei, maak my asseblief te alle tye bewus daarvan. Eers dan sal ek altyd ‘n diep, egte, be(rus)tende blydskap beleef.

IMG_2146

 

 

Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

 

 

Dit tref my weer die afgelope paar dae: wanneer iemand my teenwoordigheid verlaat, verlaat hulle dit nie onveranderd nie. Hulle voel óf beter óf slegter as voor die ontmoeting. Dis vir my belangrik om aan die einde van ‘n dag myself af te vra hoe my wiskunde van die dag gelyk het. Ek som dit so op:

Wiskunde

wat se wiskunde het ek vandag gedoen?
het ek opgetel, bygevoeg, geplus in ander se lewens?
of het ek weggeneem, afgetrek, geminus?
minusbewerkings moet mos net in my eie lewe gedoen word
minder, minus van myself
trek myself af
sodat Hy meer kan word,
geplus, vermenigvuldig word
dan deel Hy sy vreugde, vrede, alles met my!
so word ek dan sy koninkryk deelagtig
nou weet ek: so word alle
euwels, flaters uitgewis
en nou is ek regtig wis-kundig!

Gebed: O groot Leermeester, ek wil graag by U leer. Leer my asseblief om U soort wiskunde elke dag te doen.

IMG_1990

 

 

“Life is beautiful” sê sommige. “Life is a struggle” sê ander.
Die lewe leer ons egter só:

Life is a Beautiful struggle

IMG_6071

Die rose hierbo is vir my ‘n simbool daarvan: die geel, die son, en die rooi van die bloed, die stryd, albei is teenwoordig in die een blom.

Hoe leef ons hiermee saam? Ek glo die antwoord is in Ps 131 te vind:

Ek het rus gevind
1‘n Pelgrimslied. Van Dawid.
 
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.

 

Ek ervaar dit so:

abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

Babavoet

So wil ek die pad loop, dis die regte posisie om in te leef!

 

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

Die afgelope ruk loop ek, leef ek soveel mense raak wat weet van donker klaskamers. Die lig in hul oë vertel ‘n storie . . .

Soek-lig

in donker nag van pyn
waar eieroem, eiewaan
eiewysheid kwyn
as alle skyn verdwyn
skyn Sy lig die helderste
soos dit nooit
in sonskyn skyn

IMG_3466

Gebed: Here, U weet dit is so menslik om net in die pyn, teen die donker vas te kyk, maar U laat lewe voortspruit uit enige donkerte. Help ons om U lig te sien, sodat ons kan sien wat U wil hê ons moet sien.

Truly, it is in darkness that one finds the light, so when we are in sorrow, then this light is nearest of all to us. – Meister Eckhart

 

Handelinge 17:27b,28  Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’

 

 

2016 lê pasgebore, blinknuut reg hier voor ons. My wens vir almal is dat ons elke dag, elke oomblik van hierdie nuwe jaar bewus sal wees van die Here se teenwoordigheid.

In Lukas 5 word dit beskryf hoe Jesus sy eerste dissipels geroep het. Ek het dit so verwoord:

Visvangs

my net wil skeur
my boot wil sink . . .
gaan asseblief weg
alles om my, in my stink

nee, simon, vir jóú wil Ek kry
sommer net hier naby My

Gebed: My hart wil skeur. U is soveel liewer vir ons as wat ons dink, of eerder, soveel liewer vir ons as wat ons kan dink. U die almagtige, onveranderlike, misterieuse, ewige lig-God sien al my sonde, my swakheid raak, maar steeds wil U my baie naby U hê. Hoe kan ek ooit met krom woorde genoeg daarvoor dankie sê? Ek kan dit tog gaan lééf, want ek hoor mos U hartklop . . .

IMG_1971

IMG_2160

 

 

Matt 18:3 …“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

 

Miskien het dit hierdie Kerstyd met jou gebeur dat jy ‘n spesifieke geskenk verwag het, maar dit toe nie gekry het nie. Of dalk het jy verwag dat ‘n familielid op ‘n sekere manier moes optree, maar het toe nie. Is dit nie iets wat ons almal een of ander tyd, of dalk sommer gereeld beleef nie?

Ann Voskamp skryf in haar boek One Thousand Gifts: expectations kill relationships. Ek het dit vertaal dit na: verwagtinge versmoor (of vernietig) verhoudings of sommer kortweg: VVV. Die afgelope paar dae het ek myself dopgehou en was ietwat verbaas om te sien hoe gereeld ek dit self doen (dis mos altyd makliker om dit in iemand anders raak te sien…). Wanneer ek die verwagting laat gaan het, het ek myself in ‘n vryer, oper ruimte gevind. Dit laat my dink aan Psalm 131 waar ons genooi word om net soos ‘n kind in ‘n ma se arms te lê, met geen verwagtinge nie, net tevrede soos dit nou is. Geen wonder Jesus het gesê dat ons soos kindertjies moet word nie.

Hoe kom ek vry van hierdie verwagting-ding?  Ek moet eers bewus daarvan word voordat ek dit kan laat gaan en dan verskyn Sy vryheid, vrede, vreugde (‘n nuwe VVV!).  So word die tafel gedek om Sy seën en Seun te ontvang

IMG_7445

IMG_0415

 

Mattheus 1:23 “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Engelvere vir Immanuel-gedig

“Christ could be born a thousand times in Bethlehem – but all in vain until He is born in me.”  ~ Angelus Silesius

IMG_1321

Immanuel

so is U gebore:
Heilige na stalvuil uitgewerp . . .
maar daar waar
heilig en onheilig
heilig vermeng,
word ons hemelskoon
nie meer verlore
want só is U gebore

Gebed: Heer, wees my genadig, help my dat my stal tot U beskikking sal wees sodat gebeur wat U wil laat gebeur.

 

 

Ons was vir ‘n paar dae in die Bosveld gewees en het met tye lank langs ‘n koorsboom gesit waar ‘n geelvink besig was om ‘n nuwe nessie by sy versameling te voeg. Dit was ‘n belewenis om hom dop te hou en so het my gedagtes verder gegaan . . .

IMG_3931

Uitsonderlike Uitnodiging

jy fladder jou vlerk geelvink
wys daar’s nuwe lewe wat wink
jy bewe, straal van blydskap
verkondig in liefdeslied, ononderbroke:
daar’s ‘n nuwe tuiste
spesiaal voorberei
ure en ure delikaat gebrei
alles gereed gemaak . . .
pluis ek dit uit?

IMG_3933

IMG_3941

Joh 14:2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek vir julle gesê het dat Ek gaan om vir julle plek voor te berei?

Nianell sing ‘n lied getiteld “Die oomblik is nou”. As ek mooi kyk, sien ek die oomblik is nie nou-nou of netnou nie, dis net nou, net hier. C.S. Lewis het gesê: “For the Present is the point at which time touches eternity. Of the present moment, and of it only, humans have an experience analogous to the experience which [God] has of reality as a whole; in it alone freedom and actuality are offered them.”

Sjoe, dis groot woorde en bied baie om oor na te dink en te ervaar hoe dit ‘n mens laat voel. Vir my beteken dit dat ek God in elke oomblik, in die nou, kan ervaar en daarin lê die grootste rykdom en vryheid. Dit laat my oop en ontvanklik leef, sodat ek Hom nie dalk misloop, misleef nie. Maar soos wat eenvoudige dinge maar is, is dit dikwels vir ons die moeilikste om te doen.

Miskien kan ons in hierdie tyd wat ons rustiger raak, dit probeer inoefen. Dan loop ons, leef ons Hom dalk raak op ongewone, verrassende maniere.

Elke oomblik is vol, vol van die Volmaakte Een . . .

Alledaagse heiligheid

die oomblik so skynbaar onseremonieel
word skielik so sakramenteel . . .
nét hier, juis hier
waar ek nie gewoonlik
Sy teenwoordigheid vier

Gebed: Here help my asseblief om soos Moses in Eksodus 3:4 te antwoord: “Hier is ek”, voor U wat  “Ek is” is.

 

Psalm 91:4 Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.

Matriekvakansie-gedig

Dalk is jy op hierdie stadium in dieselfde bootjie as ek, maar hierdie is egter vir alle ouers, of jou kinders alreeds die nes verlaat het, of nog daarin is. Al is jou kinders nog klein is hulle tog elke dag besig met “toetsvlugte”. Dis ‘n troos om te weet dat ons kinders, groot of klein, áltyd vasgehou word.