Die nabyheid en aanraking tussen hierdie drie Pilanesberg-olifante is baie besonders. . .

Dit herinner my aan die Taizé-lied: Waar daar liefde is, en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Johannes verwoord dit so wonderlik:

1 Joh 4:12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

1 Joh 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Here, mag ons elkeen die geheue van ‘n olifant hê sodat ons hierdie woorde nooit sal vergeet nie. Help ons asseblief sodat U nimmereindigende liefde onverhinderd deur ons kan vloei. So word U al meer en meer sigbaar én tasbaar in ‘n wêreld wat smag na liefde.

Ons kan so dikwels deur die lewe jaag, maar wat kan ons doen om stadiger te leef? ‘n Man na God se hart, Dawid, se woorde kan ons vandag nog hiermee help:

Psalm 23 (Japanese Translation)

The Lord is my Pace-setter, I shall not rush;
He makes me stop and rest for quiet intervals.
He provides me with images of stillness,
which restore my serenity.

He leads me in ways of efficiency
through calmness of mind,
and His guidance is peace.
Even though I have a great many things
to accomplish each day,
I will not fret, for His presence is here;

His timelessness, His all importance,
will keep me in balance.
He prepares refreshment and renewal
in midst of my activity,

By anointing my mind with His oils of tranquility.
My cup of joyous energy overflows,
surely harmony and effectiveness
shall be the fruits of my hours,
for I shall walk, in the pace of my Lord
and dwell in His house forever.

Here, ons hartsbegeerte is om bewustelik in U teenwoordigheid te leef. Leer ons, help ons asseblief daagliks om ‘n aanpassing in ons pas te maak sodat ons in die volheid van ‘n lewe saam met U kan leef, soos wat U vir elkeen van ons beplan het.

‘n Opstaangebed

Here, vanoggend wil ek
voor ek opstaan
eers gaan lê:
my wil gaan neerlê voor U,
dit afstaan. . .
sodat Ú kan opstaan
in my
en dit Ú voete is
wat hier grond raak. .
sodat Ú deur my leef
in hierdie nuwe dag
help my seblief in elke oomblik
om oop en wakker te leef
om te sien of hierdie willetjie
van my steeds lê
en of hy sowaar al weer opgestaan het!

Matteus 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Romeine 8:15-16 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 

1 Johannes 3:1 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook…

Matteus 7:9-11 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

Hý weet wat die beste vir ons is:

Abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

 

Dankie, Vader, vir hierdie ongelooflike voorreg dat ons U kinders mag wees en dat ons altyd veilig in U hande is.  Ons wil hierdie wonderlikste waarheid elke dag opnuut ervaar en daaruit leef.

Dankie Here vir die seën van Godsmanne waardeur ons ‘n blik op u Vaderhart mag kry.

Hebreërs 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

 

 

 

Geloofsheld

nou in stille vrede en oorgawe
terwyl die kille winterswind
geniepsig deur jou waai
gestroop, maar tog vól hoop –
jou wortels stilweg ingebed
versterk, vertak, verdwerg:
gereed, geanker, onwankelbaar. . .
staan jy regop en fier,
kalm, rustend en gekoester
effens ongeërg,
houtgerus
want elke oop tak en vertakking
reik in volle vertroue, doelbewus
opwaarts, in stil blye verwagting
op die Tuinier
se perfekte uur. . .

 

Winter lê om die draai. . .

Die laaste verkleurde blare val en die bome verkaal.

Wanneer dit soms vir ons voel asof ons lewensblare een vir een val, is daar U troos:

Jesaja 49:15 Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.

Jer 23:24 Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

Psalm 139:5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.

Heer, ingeval ons weer sou vergeet, herinner ons asseblief daaraan dat ons nooit uit U kan val nie, dis onmoontlik, totaal en al onmoontlik!

Ek verkyk my daagliks aan die skouspel van herfskleure:

Here, het U een van u aanskoulikste en aangrypendste natuurverskynsels vir die herfsseisoen bewaar, sodat ons daaraan herinner kan word hoe verruklik mooi dit vir U is wanneer ons nie meer vashou en -klou nie, maar laat gaan?

Wil U hê dat ons met elke gewillige sterf aan self en oorgawe aan U wil ervaar dat ons dieper in U hart ingetrek word?

Rainer Maria Rilke se woorde weerspieël vir my iets daarvan:

I yearn to be held in the great hands of your heart.
Oh let them take me now.
Into them I place these fragments, my life,
And you, God, spend them however you want.

Wanneer ons herfs op hierdie manier beleef, bring dit vir ons ‘n totale nuwe uitkyk op ons lewens. . .

 

‘n Paar dae gelede toe ek wegry van die huis af en opkyk, sien ek die bloue hemel en die pragtigste wolke. Ek moes net stop om ‘n paar foto’s te neem en net daar, so totaal onverwags, verskyn ‘n ongelooflike geskenk:

Wat ‘n seën was daar nie in hierdie oomblik nie. . .

Jesus se doop kom by my op:

Lukas 3:21-22  Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Net soos die Geesduif destyds op Jesus neergedaal het, daal die Geesduif vandag nog op ons neer om ons diepste identiteit in hierdie wêreld aan ons te bevestig: ons is Sy geliefde seuns en dogters. Hierdie band is onaantasbaar, onverganklik en ons diepste werklikheid.

Here, help ons om biddend elke dag die hemel geopen te sien en toe te laat dat u Gees ons al meer en meer vul om as U geliefde kinders in hierdie wêreld te leef.

Die duif se vlerke is oopgesprei, asof in ‘n seënwens. Wat ‘n voorreg om bewus te wees dat ons in elke oomblik onder U seën leef. Daarna kom die ongelooflike bewuswording dat U ons seën om te kan seën, om ‘n seën te wees vir ‘n wêreld wat elke dag daarna smag.

Hierdie paar roesfoto’s het ‘n kragtige boodskap. . .

‘n Naby kyk daarna bied ‘n herinnering daaraan dat hierdie aarde en sy verganklikheid nie die plek van ewige skatte is nie.

Jesus sê vir ons in Matt 6:19-21 (NLV) “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Uit die ABA-vertaling:  “Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.”

Miskien is dit nodig om onsself aan die einde van elke dag die vraag af te vra: watter ryk was vandag die invloedrykste in my lewe?

Ons hartsoë moet oop bly daarvoor, want dit vra ‘n ander soort sien.

Paulus beskryf dit so: 2 Cor 4:18 (TPT) because we don’t focus our attention on what is seen but on what is unseen. For what is seen is temporary, but the unseen realm is eternal.

Here, mag ons elke dag in ‘n roes van diep, blywende blydskap leef omdat ons weet dat ons deel is van U ewige koninkryk en ook omdat ons die ongelooflike voorreg hier op aarde het om getuies daarvan te wees deur ons lewens.

Spreuke 3:5 (DB) Moenie dink jy weet altyd die beste nie…

‘n Rukkie gelede het hierdie ongelooflike storie reg voor my ontvou:

Hierdie roosboom het van ver af so mooi gelyk, maar toe ek nader gaan, sien ek luise, luise en luise wat in gelid daarop sit. . .

Ek moet bieg dat ek ietwat teruggedeins het. Dit was regtig nie ‘n mooi gesig nie. Onmiddellik wou ek opspring en die probleem oplos met ‘n gifstof, maar iets het my laat wag en kyk. . .

Uit die bloute verskyn sy toe:

‘n Liewenheersbesie!

Voor my oë sien ek hoe sy die gedekte feesmaal geniet!

‘n Rukkie later lyk dit so:

Hoeveel keer, my Heer, wil ek oorhaastig met my eie gif(tige) ingrypings ‘n probleem probeer oplos, terwyl U planne ingrypend beter is. Deur my oorhaastige aksies staan ek dan op hierdie manier in die pad van U delikate, volmaakte en fyn uitgewerkte plan. Vergewe my daarvoor.

Spreuke 3:5 (1983) Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

Jesaja 55:8 (DB) Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen.

Skenk ons asseblief U wysheid.

Soms, soos ek hierbo beleef het, liewe Heer, wil U hê ons moet wag totdat U u soort lieweheersbesies stuur op u volmaakte tyd en manier. Help my om altyd op U te bly wag.