Markus 15:46 Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol…

‘n Rukkie gelede het ek vir ‘n lang tyd stil by hierdie stasie van die lewe by die Origins retreatsentrum stil geword.

Die oorvloedige groen en die lig aan hierdie kant is opmerklik. . .

Aan die ander kant van die steen is dit donker, onseker en grafstil, asof daar net mooi niks aan die gebeur is nie.

Dis ‘n tyd van ‘n magtelose wag en wag. . .

Maar dit kan ook ‘n tyd van hoopvolle afwagting wees, met die diep wete: God is altyd aan die werk en sy plan is altyd ‘n groeiplan en op pad na die lig, al verstaan of sien ons niks dáár daarvan nie.

Here, vergewe ons weerstand en ongeduld met u tydsberekening, u pas, in gebiede en tye van ons lewens waar ons in donker onsekerheid moet wag. U tydsberekening is totaal anders as ons s’n: U s’n is volmaak. Ons word daaraan herinner in 2 Petrus 3:8 – Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

In Sheila Cussons se laaste reëls uit haar gedig Klag skryf sy:

O God, U alleen is al my krag,
leer my dan, leer my dan
leer my bomenslik dadeloos geduldig wag.

So word dit dan nie net bloot ‘n wag nie, maar ‘n wagtydperk; dit word so mooi in Engels gesê: the tomb becomes the womb. . .

‘n Vriendin vertel hierdie week baie opgewonde van ‘n helikopterrit wat sy onlangs beleef het en hoe die aarde so anders, so pragtig, van daar bo af lyk.

‘n Vlerk-tema begin posvat. . .

Hierdie woorde kom uit ‘n lied Give Me Wings:

 

High above the clouds
I can see the beauty down below
And I know You’re holding me
I’ll never fly alone
Give me to reach the sky
Moving up I’m rising high
Give me wings to fly

Maar hoe? Ons voel dikwels so vasgevang in ons omstandighede en ons perspektief raak erg beperk.

In die lig van Sy teenwoordigheid kan ons egter bewus word daarvan dat daar ‘n uitnodiging na ‘n wyer, groter lewe wink. Ek glo dat ‘n diep geborgenheid en die wete dat mens toegevou is in Sy liefdeslig, al is dit hoe donker daar buite, ‘n hart sy vlerke sal laat voel. Onverklaarbaar kom daar ‘n ligtheid anderkant rede. . .

Hy gee alles: die beskutting, die vlerke, die sterkte en die wind!

Met dankbare en gewillige harte sprei ons ons vlerke. . .

So is U genadige plan om ons al dieper en verder in U wye ruimtes in te trek. . .

Vroeër hierdie week sien ek ‘n ongewone gesig voor my studeerkamervenster: ‘n herfsblaardans!

Ek moes net nader gaan. . .

 

 

Die hele dag het sy heen en weer uitbundig in die wind bly dans. ‘n Ragfyn spinnedraadjie is al wat haar nog hier tussen hemel en aarde vasgehou het. Heen en weer, om en om het sy vrolik bly dans. . .

Die laaste twee sinne vanuit die pen van Langenhoven verwoord iets hiervan:

“Dis die smorende vuur wat swaarkry,
En tog nie die kos kan gaarkry.
En die vrolike vlam wat klap en kraak,
Dis hy wat sy taak tot vermaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.”

Sjoe, wat ‘n paradoks!

Jesus het met hierdie woorde kort voordat Hy gekruisig is, geen doekies omgedraai nie:

Johannes 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Jesus het altyd geweet dat sy Vader besig is met ‘n groter plan.  Daarom kan ons vandag vol moed en vrede bly, al is die lewe swaar. Ons kan bly vashou daaraan, al voel dit soms asof ons lewe uitmekaar val: ons word vasgehou in die hande van ‘n Oorwinnaar!

Net eergister kyk ek op en sien hierdie blaar wat binnekort sou val:

‘n Hart skyn deur!

Heer, u liefdeshart is altyd daar, maak nie saak waar ons onsself bevind nie. . .

Word ons so lig sodat ons val ons laat beland in heilige grond, transformerende grond?

Op ‘n voorstedelike sypaadjie staan hulle kiertsregop, fier en fraai: hierdie stokrose.

Hulle is pragtig en ‘n mens kan nie anders as om nader te gaan nie.

Toe wag daar iets wat bydra om hierdie prentjie asemrowend te maak:

Die lig val sag daar waar sy omvou word deur die pienk weelderige blomblare. Sy is besig met haar by-werk: haar nektarsuig, terwyl die stuifmeel op haar rug rus. . .

Wat is dit wat my so diep raak?

Daar is iets heiligs wat hier aan die afspeel is. . .

U het alles met ‘n doel en met die fynste presisie geskape. Hierdie by doen presies waarvoor sy geskape is. Kan ek dieselfde sê?

Jesus se woorde teen die einde van sy aarde bestaan, kom by my op:

Johannes 17:4 Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

Gewone mense vir wie dít die hoofsaak in hulle lewe was, en nie ‘n blote bysaak nie, inspireer ons steeds vandag, selfs eeue na hul dood. Francis van Assisi  (1181-1226) was ‘n man wat so geleef het. Hierdie woorde van hom nooi ons uit, daag ons uit:

Here, ons kan so gou vergeet waarom ons hier is, ons kan so aandagafleibaar leef. Mag ons elke dag lank genoeg by U, wat liefde is, stilsit met die vraag: leef ons soos U wil hê ons moet? Mag ons toelaat dat U transformerende krag in ons werk elke oomblik van ons lewe.

Ons kan dan so leef, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. (Fil 2:13).

Daar is ‘n onverklaarbare diep, soete vrede anderkant rede wanneer mens leef soos U wil hê, wanneer ons meewerk om U koninkryk op aarde te help uitbrei. Dis ‘n lewe wat in al sy volheid gelewe word. Irenaeus skryf: The Glory of God is a human being fully alive.

Ons wil elke dag leef in die lig van U teenwoordigheid, met harte vol oorvloedige blydskap en nederige dankbaarheid, gevul met die wete: U, die Koning van die ganse heelal, gebruik ons!

Mag die by-foto se diep boodskap ons bybly elke dag van ons lewens. . .

Lukas 24:34 “Die Here het regtig opgestaan…

Hieronder is die Paaslied van die Oosters-Ortodokse kerk:

Hy wat die aarde teen die uitspansel gehang het,
het nog eergister aan die kruis gehang.

Hy wat die Koning van die engele is,
het nog eergister ‘n doringkroon gedra.

Hy wat die berge in wolke klee,
het nog eergister die kleed van spot gedra.

Die Bruidegom wat sy kerkbruid gaan kom haal,
was met spykers aan ‘n kruis genael.

Die Wonderseun van ‘n maagd,
is met ‘n spies deurboor.
Ons wat gister en eergister
u lyding beween het,

juig vandag oor U stralende opstanding!

Dankie Here, dat U wáárlik opgestaan het! Ons wéét, want u bevestig hierdie heerlike waarheid binne ons en die vonk(el) in die oë van U kinders getuig van hierdie wonder. . .

Here, help ons asseblief om elke dag diep aan U verbind te bly, sodat ons vanuit u opstandingskrag kan leef en so ‘n kragtige lig in ons wêreld te wees; U lig. . .

1 Petrus 2:9 Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Dan sal ons ook soos U apostels in Handelinge 4:20 kan sê: “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Johannes 3:16 God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Jesaja 53:5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

In die mensewêreld word Goeie Vrydag vandag gevier.

Ons geloof is ‘n paradoks: ‘n erg verwonde man, ons Here, hang aan ‘n kruis, sterf en ons noem dit “Goeie” Vrydag.

Dis omdat ons geloof ons altyd na ‘n dieper kyk uitnooi. . .

The cross signifies the wedding between God and humanity.  Ilia Delio

Christ on the cross bows his head, waiting for you, that he may kiss you,
His arms outstretched that he may embrace you,
His hands are open that he may enrich you,
His body spread out, that he may give himself totally,
His feet are nailed that he may stay there,
His side open for you, that he may let you enter there. – Bonaventure

Die volgende woorde is uit Retief Burger se lied Sekelmaan:

En weet jy wie jy is?
Kan jou hart se siel begryp na wie ek verlang?
Dit is jy, my bruid in ewigheid.
Een kyk van jou oë en die hout se pyn verdwyn.

Want dit is jy geliefde van my sy.
Ek is hier by jou, in jou, om jou…

Ek is hier by jou, in jou, om jou…..net lief te hê.

Mag ons vandag, met ons hartsoë wawyd oop, ver opkyk die wye hemelruimtes in, om opnuut te sien hoe U op Goeie Vrydag U ewige trou aan die ganse mensdom bevestig het deur U selfopofferende liefde. Dit het U álles gekos. . .

Mag ons vandag wanneer ons die brood eet en die wyn drink toelaat dat U liefde ons al dieper deurdring en dat ons hierdie onlosmaaklike band tussen ons as ons grootste werklikheid ervaar; U is altyd by ons, in ons en om ons.

Mag ons dan hierdie oorvloedige liefde wat U aan ons gee, met dankbare harte mildelik uitdeel aan ons wêreld, want dit is wat ware liefde doen.  Dit gee alles. . . Dit het U aan die kruis vir ons bewys op hierdie goeie Vrydag, die beste Vrydag ooit!

2 Kor 4:18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

‘n Paar dae gelede loop ek weer die keëls raak. Die bruin met groen omsoom, val so sag op die oog.

Toe sien ek dit: bo die oopgebreekte keël val die lig val in ‘n kroon, ‘n ligkroon!

U, die lig, het van u hemelkroon afstand gedoen en hier op aarde dit verwissel met ‘n doringkroon. . .

U dra u kruis en hierdie kroon van dorings vanuit u oneindige, oorvloedige hart vol liefde vir verlorenes.

U het daardeur dit vir ons moontlik kom maak het om vir ewig saam met U te lewe, ‘n kroon by U te ontvang!

Paulus skryf in 2 Tim 4:6-8 Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Here, dit gee ons soveel moed om voort te gaan op ons pelgrimspad. Al val en faal ons so dikwels op hierdie pad van selfopoffering en al voel dit vir ons so dikwels swaar en steil, weet ons hoe dit eindig! Ons is so diep afhanklik van U in elke oomblik.

Wees ons genadig, sodat ons ons oë op U gefokus sal hou, daar waar U op u hoë hemeltroon sit, maar ook hier binne ons waar U besig is om ons elke dag al meer en meer te transformeer na u beeld en ons so gereed te maak vir hierdie oorwinnaarskroon.

So, al mag dit soms vir ons voel asof ons net ‘n doringkroon dra, het ons die ongelooflike hoop en vooruitsig van ‘n hemelse verwisseling. Dankie vir soveel tye vol genade wat U ons iets daarvan alreeds hier laat ervaar. . .

Onlangs loop hierdie twee keëls my raak en bied ‘n pragtige en kragtige metafoor aan. . .

Die een bo die ander lê die twee daar; die onderste keël is feitlik heel terwyl die een op die trappie oopgebreek het . . .

Wil ons dalk so graag heel soos die onderste keël wees, maar voel ons so gebroke soos die boonste een?

In ons Here se hand is dit goeie nuus om gebroke te wees, Hy wat self gebreek is vir ons.

Paulus skryf in 2 Korintiërs 12:9 :

(1983-vertaling) Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

(Bybel vir almal) Maar Hy het vir my gesê: “Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer.”

(Boodskap) Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”

U, die Lig, is altyd by u kinders, veral wanneer hul uitroep na U vanuit hul gebrokenheid.

Nooi U ons dalk in hierdie Lydenstyd uit om daarvan te vas om voor te gee dat ons sterk en onaantasbaar is en dat ons besef hoe swak en kragteloos ons werklik sonder U is?

Hierdie woorde van Jesus uit die bergprediking bied onbeskryflike hoop:

Matthew 5:3 “Happy are those who know they are spiritually poor; the Kingdom of heaven belongs to them!

Dis eers wanneer ons oopgebreek is dat ons ten diepste besef: ons dra wel wonde, maar ons is ook die saaddraers van die ewige Skat!!

Laat ons dan nou vas en nie probeer toehou en vashou nie, sodat ons as oop, dankbaar en vrye Koninkrykskinders kan leef. . .

Jes 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom;

‘n Bietjie meer as ‘n maand gelede kom help my skoonsus en swaer ons om ons oorgroeide tuin in toom te probeer kry.  ‘n Woeste snoeiproses volg. . .

Dit blyk so genadeloos te wees en veral die Yucca-plante het erg deurgeloop:

Ek moes my skoonsus, wat vertroud is met snoeiwerk, vertrou dat hul weer sou groei, hoewel alle tekens die afgelope maand die teendeel gewys het. Soos geamputeerde ledemate het hul opwaarts gewys. . .

Ongeveer 40 dae later sien ek die eerste tekens van nuwe lewe: hulle pryk triomfantelik omhoog!

Nuwe lewe is altyd aan die deurbreek, in onsigbare donker. Ons moet net die Tuinier vertrou, ook wanneer Hy sy snoeiwerk doen.

Onder Sy hande is daar nie iets soos ‘n punt, ‘n “full stop”, ‘n einde nie, maar wel ‘n nuwe begin, ‘n nuwe groeiproses wat net Hy kan bewerk.

2 Korintiërs 5:17,18 Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God

Ons deel is om Sy prosesse te bly vertrou en Hom te vra om ons te help om te bly glo en om geduldig te wag:

Jeremia 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Dié nuwe blaartjie herinner aan ‘n komma wanneer die foto omgedraai word:

By Hom is dit altyd ‘n komma, nie ‘n punt nie!

¡uǝᴉs ǝʇ ƃǝɹ ɯo ʞʎʞ oqǝʇsɹǝpuo suǝɯ ʇǝoɯ sɯos ʎɯ ʞʎ˥

Dit is die grootste punt vir ons om te begryp: ‘n nuwe manier van kyk, van sien, word gevra. . .

Dié proses is toe ‘n groeiproses, ‘n genadeproses, wat uitloop op ‘n groter lewe. . .

Daar is áltyd die belofte van groei in die teenwoordigheid van Sy lig, al voel ons ook hoe afgestomp en verwond. . .

Ons kan daarin glo en daarop hoop want ons wéét Lydenstyd loop altyd uit, lei na Opstandingsondag!

Johannes 11:25-26 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Lukas 10:33-34 Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind.

Vandag se bloginskrywing speel ook by ons huis af, hierdie keer sommer in die kombuis. . .

 

Om jou nuuskierigheid te prikkel:

Wat was hier onder my lens?

Twee dae gelede waarsku my seun my dat daar ‘n geitjie in die kombuis is en dat ek versigtig daar moet trap. Toe ek in die kombuis kom, het ek totaal daarvan vergeet en terwyl ek effens haastig is, sien ek iets soos ‘n “vuil kol” op die vloer. Ek kyk van naderby en sien toe dat dit ‘n piepklein, stertlose geitjie is. So byna het ek dit onwetend raakgetrap! Hy is so klein en weerloos. . .

Versigtig plaas ek ‘n trappie daaroor sodat niemand op hom trap nie.

As dit nou is waar hy wil wees, nou wil skuil, laat hy dan daar bly. Die arme geitjie moes verskriklik geskrik het om sy stert te verloor en wou seker hier herstel. . .

Dis nou Lydenstyd waar ons opnuut uitgedaag word om selfondersoek in te stel en toe te laat dat ons harte getransformeer word.

Joel 2:12 “‘And yet even now,’ says the Lord, ‘return to me with all your heart . . .’”

ransformeer

U kruis hard
U hart sag
my kruis sag
my hart hard

Here, U weet dat alleenlik ‘n hartomkeer ons lewens handomkeer sal verander.

Sagte harte lei tot sagte oë, hande en voete. . . So word ons U liggaam hier op aarde.

Dan sal ons vir mekaar veilige ruimtes skep om tot rus en heelwording te kom; dis hoe u Ligkoninkryk grondvat. . .

Lukas 10:37 Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”