Joh 10:29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

Iemand het onlangs vir my hierdie houtbeeld as geskenk gegee. Ek hou dit gereeld in my hand, maak dan my oë toe en voel ek wat ek gewoonlik net sien: die Hand, die mens, die liefde . . .

Só hou God ons elke oomblik in die holte van sy hand. Sy koesterende nabyheid en troue liefde is altyd daar, dis ‘n onverbreekbare band.

Dieselfde hande wat die ganse heelal geskep het, hou ons altyd vas.

Uit die Passion Translation van Ps 16:8 : Because You are close to me and always available, my confidence will never be shaken, for I experience your wrap-around presence every moment.

Daarom kan ons ontspan en met volle oorgawe en vertroue tot rus kom in Hom met die stille versekering dat daar niks is wat ons uit Sy hand kan ruk nie, ons is werklik onaantasbaar!

Daar is niks soos die dood van ‘n geliefde om ‘n mens weer by die diep vrae oor lewe en dood te laat stilstaan nie.

Ek wil myself elke dag afvra watter pad ek kies: die doodspad of die lewenspad? Ons staan hoeveel kere ‘n dag voor ‘n kruispad.

 

Besinning

lewe ek my in die dood in
of dood ek my in die Lewe in?
dít is die sin van onsin –
so word ons Syne
en Hy ons s’n

Wanneer ons elke dag telkemale sterf aan onsself, ons planne en ons wil, is ons lewe op die regte pad. Hierdie selfopofferende pad voel egter so dikwels na ‘n doodspad. Dit vra ‘n gedurige oorgawe, soos Jesus in die tuin van Getsemane – “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

Francis van Assisi en Ma Jannij het Jesus se pad in hulle lewens nagevolg.

Fil 1:21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

1 Kor 1:25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

In ons geloof lê die grootste wyshede verskuil in die grootste paradokse.

Gebed: Here, help my asseblief om U opstandingskrag alreeds hier daagliks te ervaar met elke klein bietjie sterf-aan-self.

Matt 5:4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

Dis vanoggend Ma Jannij se dankdiens.

Ons harte is seer en ons ontvang troos en bemoediging vanuit verskeie oorde. Hierdie perskebloeisels het ook vir my ‘n spesiale boodskap gebring. Dis nog winter, maar hier is hulle alreeds. . .

Ma Jannij, ek het lank by hierdie bloeisels stil geword en besef dis ‘n metafoor vir jou lewe: jy het dapper jou brose, skone kroonblare op jou kenmerkende stil manier oopgevou om jouself beskikbaar te stel vir Sy lewenskrag om in jou en deur jou te vloei.

Met liefde, blydskap, volle oorgawe en selfopoffering het jy geleef sodat jou lewe ‘n ryke vrugte-oes kon nalaat.

Psalm 16 was jou gunsteling psalm. Uit die laaste vers kom die woorde: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Ma Jannij, deur die verlies van jou lewenskroonblare weet ons daar het ‘n oorwinnaarskroon te midde van oorvloedige hemelse feesblydskap vir jou gewag, want dis Koningsbloed wat deur jou gevloei het, jou lewe laat bloei het. . .

So beleef ons in hierdie nuwe seisoen U seën te midde van ons seer en al is ons harte broos, bring dié wete vir ons bomenslike troos.

Matt 6:29 Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie.

Ons was vir ‘n paar dae in die Bosveld. In ons naweekhuis het ‘n bos papawers, gerangskik in ‘n blompot, ons ingewag.  Ek moes eers aan hulle raak om te voel of hul eg is, amper soos ‘n Thomas-voel. Dadelik het ek geweet dat hier ‘n dieper boodskap gaan kom.

Jesus het saam met sy dissipels deur die veld geloop en die skoonheid van die lelies onder hul aandag gebring. . .

Deur die lens kom dieselfde boodskap:

Jammer, Salomo, inderdaad kom jy sleg(s) tweede hier. . .

Jesus laat sy storie ‘n draai loop deur die skoonheid van ‘n brose, verganklike blom om ons te laat besef dat Hy sal sorg, dat ons nooit bekommerd hoef te wees nie.

Die stralende skoonheid van hierdie blomme herinner ons daaraan om as ligdraers te leef en ook dat Hy die spil is waarom ons lewens moet draai. . .

Matt 6: 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Ps 121:1 ‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Dié beeld van Francis op berg Subasio het vir my ‘n diep kyk in ‘n geheim van sy lewe gebied:

Hy het gereeld opgegaan berg toe om tyd alleen met God te spandeer. Hier lê hy plat op sy rug.

Francis het ook hier Jesus se voorbeeld gevolg:

Lukas 6:12 In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.

Dis wanneer mens gereeld in stille oorgawe jou rug laat rus teen die Rots, dat jou rug breed genoeg raak wanneer jy terugkeer na jou lewensvallei en dat jy nie met jou rug teen ‘n muur sal staan nie, omdat Sy hulp, sy nabyheid altyd daar is.

Is dit ‘n tydlose bergtydgeheim dat jou (uit)sig hier herstel word en dat jy ervaar hoe die Rots jou oral omvou en invou?

Joh 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

‘n Ongelooflike ervaring wink: ‘n pelgrimstoer na Rome en Assisi. . .

Daarmee saam kom die uitnodiging om ‘n gemaksone te verlaat en weg, verder te reis.

Dit kos deeglike beplanning, asook besinning om te besluit wat saam gaan reis of nie. Dinge wat voorheen as noodsaaklik beskou is, sal te swaar raak om saam te dra. . . Dit geld nie net vir dit wat binne ‘n tas gepak word nie, maar ook vir dít wat binne saam gaan reis. . .

Die insig kom: om in die lig van U teenwoordigheid te reis, vereis dat mens lig reis.

(Daar gaan dus vir die volgende paar weke nie bloginskrywings wees nie. Seën vir julle almal, waar julle ook al is.)

Uit Jes 60:1 Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.  

Die son het hierdie week só mooi op hierdie herfsblare geval.

Die blare het vir my so lig en sorgvry heen en weer in die wind geswaai, so asof die amper-val na die grond toe, geen probleem is nie.

Toe ek na hierdie blaar kyk, sien ek die lig: ons kan maar val, want die lig val áltyd op ons!

Here, help ons asseblief om te onthou dat U áltyd by ons is en dat dit nie afhang van waar ons onsself bevind nie.

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Sou ‘n mens nie bekend wees met herfsseisoene nie, sou dit kon lyk asof ‘n tragedie homself afspeel: die blare van die boom word afgesny van hul normale voedingsbron, hulle kan nie meer fotosinteer en word as’t ware geamputeer. Hulle val na die grond. . .

Tog kon die herfsblare, net voor hul val, vir die eerste (en enigste) keer hul dieper kleure, wat altyd deur ‘n groen buitelaag bedek was, tentoonstel in ‘n skouspel van asemrowende vurige kleure wat andersins nooit daar sou wees nie.

Daar is met herfs, soos in elke ander seisoen, altyd die baie-groter-as-wat-ons-kan-verstaan-proses aan die gang.

Jesus se woorde in Lukas 9:24 “want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” herinner ons daaraan.

Verder is daar ook sy woorde in Johannes 10:28 “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Here, help ons asseblief om in ons lewens die herfsblare wat U wil laat val in volle oorgawe en vertroue te laat gaan om sodoende ruimte te skep vir die nuwe seisoen waarmee U besig is.

So word dít wat oënskynlik kon lyk na ‘n treurspel, eerder ‘n meesleurende melodie in Sy keurspel en word ek en jy genooi om in te val . . .

Jesaja 55:9 soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Daar is soveel dinge wat op die oomblik gebeur wat mens kan laat voel asof alles ten gronde gaan. . .

Toe gaan loop ek ‘n draai in die tuin en kry ‘n visuele demonstrasie wat gerusstelling, hoop en troos bring…

Die herfsblare is besig om te val, hulle gaan letterlik en figuurlik ten gronde.

Maar: daar tussen die blare, wat onafwendbaar gaan val, is die versekering, die belofte, dat daar ‘n nuwe seisoen op pad is: die beskermende skutblare wat die nuwe delikate lewe daar binne veilig bewaar en beskut teen die ongenaakbare winterkoue totdat die presiese tyd aanbreek en die nuwe blaartjies, in die nuwe seisoen, in liggroen lewe kan oopvou, ontvou. . .

Die volgende woorde van die Psalmdigter kom by my op:

Ps 46:8 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. Sela

Here, dankie dat U in elke seisoen van ons lewe by ons is. U het altyd ‘n groter plan wat soveel groter is as wat ons ooit kan dink of verstaan.  Wat ons wel weet is dat U ons altyd in beskerming hou in elke seisoen van ons lewens.

Ek gaan lees wat Sela (aan die einde van Ps 46:8) beteken:

SELAH is a Hebrew word meaning ‘a musical interlude; to pause and think about what was just said or sung; or to pause and watch for a visual demonstration of what was said or sung.’

Dis asof so ‘n groot en ingrypende waarheid soos hierdie, tyd en stilte nodig het om in te sink.

U gee ook in hierdie herfsseisoen vir ons ‘n visuele demonstrasie van hierdie wonderlike waarheid. Ons dank U daarvoor, ons weet dat niks ons kan skud uit U veilige beskutting nie.

Lukas 9:24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

Opstandeling

verbete die klou
vuurrooi gestoei dié seisoen
laat los . . .
val na mis-oes

Here, vergewe my waar ek dikwels so opstandig kan bly kleef, dít terwyl ek die krag van U opstanding kan beleef. . .