Lukas 6:36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

‘n Paar jaar gelede het ek verby hierdie boom geloop. Ek wou dit van naderby beskou, want dit was so mooi van ver af.

Toe ek nader gaan, sien ek iets wat my hart diep aanraak. Dis asof die boom se broosheid, gebrokenheid sigbaar word. . .

Hoeveel keer loop ek verby iemand sonder om bewus te wees van hul diep pyn? Dalk wil hul daaroor praat, maar ek is te haastig, te ongeërg, te onbesorg?

Here, in hierdie lewe loop ons almal met wonde en soms het ‘n mens net nodig dat iemand by jou sit in jou pyn. Nie om dit weg te praat, reg te praat of te probeer verklaar nie, maar net om dit raak te sien, raak te hoor. Onverklaarbaar raak ‘n hart dan ligter. . .

Here, help ons om met sagte oë na ons wêreld te kyk, stil te word om diep te luister en U liefde toe te laat om deur ons te vloei. . .

Ons het, soos baie ander mense, ook die afgelope Vrydagaand die lang eens-in-’n-leeftyd algehele maansverduistering met groot entoesiasme en verwondering dopgehou:

Ons was in die bosveld en die sterre was boonop ‘n skouspel op hul eie. Ons het U almag ten diepste ervaar. Hoe groot is U!

Psalm 8:2 Here, ons Here, hoe wonderbaar is U naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Enkele dae gelede werk ek in my studeerkamer en toe ek opkyk sien ek haar daar sit teen die venster:

Sy het maansverduistering-lank bly sit met haar vlerke oopgesprei. . .

Hierdie pragtige klein mot met haar perfekte simmetrie en fraaie vlerkfraiings en -kartels het my ook laat uitroep: hoe groot is U!

Here, hoe wonderlik is dit om U almag, liefde, skoonheid, wysheid en sorg in U skepping te mag raaksien, in dit wat seldsaam is, maar ook in dit wat ons beskou as die alledaagse. Help ons asseblief om verwonderd te leef oor alles, want alles dra U stempel.

Ons kan net Dawid se woorde beaam in die laaste vers van Psalm 8Here, ons Here, die hele aarde wys dat U Koning is.

An animal’s eyes have the power to speak a great language. Martin Buber

Nou vra ek myself af of ons genoeg tyd maak vir oog-tot-oog kontak met ons medemens om hierdie taal te lees? Dit verg egter ‘n oop hart. . .

So vervul ons een van ons medemens se grootste behoeftes en dit is om regtig raakgesien te word.

So word ons Sy oë op aarde.

“Christ has no body now but yours. No hands, no feet on earth but yours. Yours are the eyes through which he looks compassion on this world… Teresa of Ávila

So is ons medeskeppers van ‘n oog-tot-oog wêreld en nie ‘n oog-vir-‘n-oog wêreld nie . .

Die nabyheid en aanraking tussen hierdie drie Pilanesberg-olifante is baie besonders. . .

Dit herinner my aan die Taizé-lied: Waar daar liefde is, en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Johannes verwoord dit so wonderlik:

1 Joh 4:12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

1 Joh 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Here, mag ons elkeen die geheue van ‘n olifant hê sodat ons hierdie woorde nooit sal vergeet nie. Help ons asseblief sodat U nimmereindigende liefde onverhinderd deur ons kan vloei. So word U al meer en meer sigbaar én tasbaar in ‘n wêreld wat smag na liefde.

Ons kan so dikwels deur die lewe jaag, maar wat kan ons doen om stadiger te leef? ‘n Man na God se hart, Dawid, se woorde kan ons vandag nog hiermee help:

Psalm 23 (Japanese Translation)

The Lord is my Pace-setter, I shall not rush;
He makes me stop and rest for quiet intervals.
He provides me with images of stillness,
which restore my serenity.

He leads me in ways of efficiency
through calmness of mind,
and His guidance is peace.
Even though I have a great many things
to accomplish each day,
I will not fret, for His presence is here;

His timelessness, His all importance,
will keep me in balance.
He prepares refreshment and renewal
in midst of my activity,

By anointing my mind with His oils of tranquility.
My cup of joyous energy overflows,
surely harmony and effectiveness
shall be the fruits of my hours,
for I shall walk, in the pace of my Lord
and dwell in His house forever.

Here, ons hartsbegeerte is om bewustelik in U teenwoordigheid te leef. Leer ons, help ons asseblief daagliks om ‘n aanpassing in ons pas te maak sodat ons in die volheid van ‘n lewe saam met U kan leef, soos wat U vir elkeen van ons beplan het.

‘n Opstaangebed

Here, vanoggend wil ek
voor ek opstaan
eers gaan lê:
my wil gaan neerlê voor U,
dit afstaan. . .
sodat Ú kan opstaan
in my
en dit Ú voete is
wat hier grond raak. .
sodat Ú deur my leef
in hierdie nuwe dag
help my seblief in elke oomblik
om oop en wakker te leef
om te sien of hierdie willetjie
van my steeds lê
en of hy sowaar al weer opgestaan het!

Matteus 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Hebreërs 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

 

 

 

Geloofsheld

nou in stille vrede en oorgawe
terwyl die kille winterswind
geniepsig deur jou waai
gestroop, maar tog vól hoop –
jou wortels stilweg ingebed
versterk, vertak, verdwerg:
gereed, geanker, onwankelbaar. . .
staan jy regop en fier,
kalm, rustend en gekoester
effens ongeërg,
houtgerus
want elke oop tak en vertakking
reik in volle vertroue, doelbewus
opwaarts, in stil blye verwagting
op die Tuinier
se perfekte uur. . .

 

Winter lê om die draai. . .

Die laaste verkleurde blare val en die bome verkaal.

Wanneer dit soms vir ons voel asof ons lewensblare een vir een val, is daar U troos:

Jesaja 49:15 Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.

Jer 23:24 Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

Psalm 139:5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.

Heer, ingeval ons weer sou vergeet, herinner ons asseblief daaraan dat ons nooit uit U kan val nie, dis onmoontlik, totaal en al onmoontlik!

Ek verkyk my daagliks aan die skouspel van herfskleure:

Here, het U een van u aanskoulikste en aangrypendste natuurverskynsels vir die herfsseisoen bewaar, sodat ons daaraan herinner kan word hoe verruklik mooi dit vir U is wanneer ons nie meer vashou en -klou nie, maar laat gaan?

Wil U hê dat ons met elke gewillige sterf aan self en oorgawe aan U wil ervaar dat ons dieper in U hart ingetrek word?

Rainer Maria Rilke se woorde weerspieël vir my iets daarvan:

I yearn to be held in the great hands of your heart.
Oh let them take me now.
Into them I place these fragments, my life,
And you, God, spend them however you want.

Wanneer ons herfs op hierdie manier beleef, bring dit vir ons ‘n totale nuwe uitkyk op ons lewens. . .

 

Hierdie paar roesfoto’s het ‘n kragtige boodskap. . .

‘n Naby kyk daarna bied ‘n herinnering daaraan dat hierdie aarde en sy verganklikheid nie die plek van ewige skatte is nie.

Jesus sê vir ons in Matt 6:19-21 (NLV) “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Uit die ABA-vertaling:  “Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.”

Miskien is dit nodig om onsself aan die einde van elke dag die vraag af te vra: watter ryk was vandag die invloedrykste in my lewe?

Ons hartsoë moet oop bly daarvoor, want dit vra ‘n ander soort sien.

Paulus beskryf dit so: 2 Cor 4:18 (TPT) because we don’t focus our attention on what is seen but on what is unseen. For what is seen is temporary, but the unseen realm is eternal.

Here, mag ons elke dag in ‘n roes van diep, blywende blydskap leef omdat ons weet dat ons deel is van U ewige koninkryk en ook omdat ons die ongelooflike voorreg hier op aarde het om getuies daarvan te wees deur ons lewens.