Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Ek glo ons word in hierdie nuwe Adventseisoen opnuut genooi om te leef in die lewegewende, alomteenwoordige en koesterende lig van Sy aangesig.

Here, U het ons gemaak om na U lig te soek en dis wanneer ons dit vind, dat ons oorvloedig blom en ons lewens tot volle wasdom kom.

Wat ‘n onbeskryflike voorreg om Ligdraers te mag wees!

Is die ongemak wat ons soms in ons lewens ervaar nie dalk eerder ‘n uitnodiging nie?

And the day came when the risk to remain tight in a bud was more painful than the risk it took to blossom. Anaïs Nin

Plante het nie ‘n keuse nie, ons het wel. Die proses is pynlik en kos oorgee, ook durf en deurdruk, maar deur ‘n bloeiende plant dop te hou, mag die laaste stukkie waagmoed aan ons gegee word. . .

So is ons dalk toe net genooi om ons beperkende, drukkende ruimtes te verruil vir ‘n nuwe wêreld wat veel groter is as wat ons kon dink of verstaan. . . Amper soos ‘n nuwe geboorte!

Wat ‘n deurbreek, ‘n triomfantelike oopbreek uit die donkerte na die lig is dit nie?!

Al wat U vra is ons ‘ja’, ons bereidwilligheid, dat U nuwe lewe deur ons kan geskied. Hoe dit dan gebeur weet ons nie, maar ons rus in die wete dat U in beheer is. Ons is nederige en oorvloedig dankbare draers daarvan.

Sondagoggend het hy ons met die suiwerste klanke onophoudelik bly roep, so asof hy sê: kom nader!

Wat ‘n asemrowende gesig! Sommer net hier in ons eie tuin.

Here, U roep elkeen van u kinders op hul naam: Diederik, Johan, Frans, Susan, Anita…

Onophoudelik verklaar en openbaar U u liefde aan ons. Help ons dat ons nie so besig en afwesig raak dat ons U nie raakhoor, raaksien of raak-ervaar nie. . .

Job 12:7-8 (Die Boodskap) Job het gesê: “Gaan gerus na die diere en die voëls in die lug: hulle kan julle baie leer en vertel. Gaan praat met die aarde. Die aarde het baie om julle te leer. Die visse in die see het ook baie om julle te vertel.

Hierdie visse is nou weliswaar nie in die see nie, maar toe ek nader gaan, sien ek:

‘n Hart!

Dankie liewe vis, jy het iets vir ons vertel of dalk eerder uitgespel. Mag ons alles op die spel plaas, sodat ons lewens liefde spel oral waar ons is en gaan!

So leef ons Jesus se groot opdrag uit:

Joh 13:34-35 (NLV) Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”

Die Here gebruik soms ongewone maniere om sy boodskappe te bring. . .

Hierdie is Job se woorde, nadat hy al hoe dieper begin luister het:

Job 12:7 “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel…

Eens het die Here ‘n donkie gebruik wat in ‘n hoorbare stem gepraat het!

Numeri 22:28 Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam…

Hier volg Jesus se woorde: Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” (Markus 4:9)

Here, maak asseblief ons harte stil genoeg sodat ons met oop ore diep kan luister, op watter manier U ook al met ons praat, want U wil met ons kommunikeer!

Mag ons diep uit ons harte vir U sê: spreek Heer, u kinders wil luister.

Psalm 104:12 Die voëls van die hemel maak nes langs die strome en sing tussen die bome se takke.

Ons was so twee weke gelede weer in die bosveld gewees. Watter ongelooflike klanke het ons nie ingewag nie!

“In almost everything that touches our everyday life on earth, God is pleased when we’re pleased. He wills that we be as free as birds to soar and sing our maker’s praise without anxiety.” A.W.Tozer

I want to sing like the birds sing, not worrying about who hears or what they think. Rumi

A bird doesn’t sing because it has an answer, it sings because it has a song. Maya Angelou

Dankie, geveerde leermeesters, julle leer ons nog tot vandag toe. Ons mensekinders sukkel maar steeds. . . Hou maar net aan om ons te leer, want ons wil ook ons lied so vry en uit volle bors soos julle sing!

Kyk ‘n bietjie na hierdie verstommende video:

Sy kyk na die vier note en sê “interesting”, dink daaroor en skep dan hierdie allermooiste improvisasies! Mens raak sprakeloos. . .

Here, help ons asseblief om met dankbare harte ons gegewe lewensnote te gebruik en ook daarmee te improviseer om die mooiste musiek hier op aarde te maak!

Mag ons dan so, noot per noot, ‘n lof- en danklied aan U bring en deur die vrolike klanke ons wêreld se nood help verlig. . .

‘n Vriendin stuur hierdie week vir my ‘n soortgelyke video op whatsapp:

Is dit nie ongelooflik nie?!

Ek kan myself net nie voorstel dat hulle vir mekaar kwetsende woorde sal kwetter of fluit nie! Sulke soete klanke kan mos sekerlik nie lelike of venynige boodskappe dra nie?

Sou dit nie wonderlik wees as ons elkeen voordat ons ‘n woord of sin uiter eers onsself afvra of dit in voëlfluittaal uitgedruk sou kon word of nie?

Nou luister ek hoedat die voëls in my tuin die mooiste boodskappe fluit en hoor ek U liefdeshart ook daarin. Ek weet dis waar, want my hart word warm en fluit terug: ek het U ook lief!

Mag ons mekaar aan die einde van elke dag vra: het jy ook vandag ‘n voëltjie hoor fluit?

Toe ons verlede jaar in die Drakensberge was en daar in November sneeu geval het (sien blog van 24 November 2017), het ek vroegoggend vinnig met my kamera om die huis na buite geloop sodat ek niks van die ongewone skouspel sou mis nie. . .

Daar was egter ‘n skouspel van ‘n ander aard wat ek byna misgeloop het. . . Nadat ek die berge afgeneem het en teruggeloop het huis toe, sien ek teen die muur ‘n klein kolletjie.

Nuuskierig het ek al nader gegaan. . .

En was ek verras!!

Die swart van sy lyfie het geblink en geglim in die son en teen die vuuroranje kontras was dit ‘n skouspel.

Kyk net na die perfekte simmetrie! So volmaak!

Dit was ‘n grootse oomblik. . .

U kunstenaarshand is net so sigbaar in die majestueuse Drakensberge as in hierdie insek wat so ‘n fisies klein spasie inneem en so maklik misgekyk kan word.

Here, is dit dalk juis die sogenaamde “klein” dingetjies wat groot ruimtes in ons harte inneem? Maak dit juis dat ons oë groter oopgaan om U in alles raak te sien en te sien dat alles na U heenwys?

Verbeel ek my of sien ek iets soos ‘n glimlag op sy gesiggie geteken?

Mag elkeen van U kinders ook voorturend bly glim en glimlag, gevul met U brandende liefde, want ons wêreld het dit so nodig. . .

So wys ook ons in ons kleine lewens heen na die groot God van die ganse heelal. Hoe groot is U!

Ek sit nou die dag in my studeerkamer en werk toe sy in een van die tuinbome verskyn. Die vensterblindings is in die pad toe ek my kamera nader bring. As ek dit sou optrek sou sy beslis wegvlieg. Sy was vir lank buite die venster. . .

Waar kry mens ‘n mooier groen?

Sy kyk een kant boontoe. . .

Dan na die ander kant. . .

Dan reguit na my. . .

Weer kyk sy op. . .

En weer na my. . .

Haar hele lyfie nou gedraai na my. . .

Ek merk later die ligpyl, wat boontoe wys, in haar oog op.

En sien die harte op haar vere raak:

Here, toe bring U deur die meitjie ‘n boodskap vir my-tjie!

Alles in die skepping is U s’n en alles dra U merk van lig en liefde!!

Help my, Here, om ook deur my klein lewe U lig en liefde te wys.

Die groen op haar vlerke lyk self soos oopgespreide vlerke.

Here, maak ook my vry om hierdie boodskap in volkleur uit te dra waar en hoe U my ook al wil gebruik. . .