2 Sam 6:12 Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 14 Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan. 

Die ark was naby, God was naby . . . Hy, die man na God se hart, kon nie anders as om daaroor bly te wees nie. Ek glo dat Dawid se voete bloot sy hart gevolg het, hy kon nie anders as om uitbundig, vreugdevol en met volle oorgawe voor die Here te dans nie.

Hy het uit sy hart gedans, sy hart uitgedans.

Hoeveel te meer behoort ons nie bly te wees, vol feesvreugde te wees nie, want ons is sy tempels. Hy woon binne ons!

Hierdie pragtige woorde is die laastes uit die lied “Lord of the Dance” geskryf deur Sydney Carter:

I’ll live in you if you’ll live in Me
I am the Lord of the dance, said He

Dance, then, wherever you may be
For I am the Lord of the dance, said He
And I’ll lead you all, wherever you may be
And I’ll lead you all in the dance, said He

Soms is dit ‘n uitbundige dans, maar soms is dit ‘n stiller, stadiger dans waar ons bloot net aanleun teen Hom, want in hierdie dans word ons altyd gelei én vasgehou in Ewige arms.

Dit maak nie saak hoe mobiel, hoe oud of hoe jonk ons is, hoe ons ook al die dag voel nie, die dans gebeur altyd in die oop, oorgegewe hart alreeds van hier af tot in die banketsaal van die bruilofsfees, tot in alle ewigheid. . .

 

(Kunswerk deur Clara van Staden)

Wat die lewe draaglik maak, is die skakel wat daar is tussen mens en mens. Audrey Blignaut

 

 

 

 

Verlede week se inskrywing het gegaan oor dié blom wat net vir een dag blom. . .

Presiese ‘n week later is ek weer by Sarha en in dieselfde bedding staan daar nie meer ‘n enkel blom nie, maar twee! Hulle raak aan mekaar en hulle raak my aan. . . Helder spatsels lig val so mooi op albei.

Toe kom die insig: elkeen van ons is draers van God se glorie (die geel op die blomme), maar ook van ons verwondheid (die spatsels rooi).

God bring mense op sy regte tyd bymekaar. As ons dan met waagmoed en brose openhartigheid beide aspekte met daardie spesiale mense in ons lewe deel, gebeur daar iets baie kosbaars, spesiaals.

Dié soete wysheid verduidelik so iets daarvan:

Dit skakel ook so mooi in by die woorde van Prediker 4:9 Twee vaar beter as een. Saam vaar ons dan soveel beter om te ervaar en te aanvaar dit wat in ons lewens na ons toe kom.

2 Petrus 3: 8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Verlede week trek dié asemrowende blom my aandag en ek neem net daar en dan ‘n foto . . .

 

 

Die blom was in Sarha, by wie ek sanglesse kry, se tuin.  Sy sê vir my dat hierdie blom (Tigridia) net vir een dag blom. Sowaar!

Dat U soveel asemrowende skoonheid skep in ‘n blom wat net vir een dag blom, gaan my beperkte begrip heeltemal te bowe. . .

Ek besef hier, dat net soos U weë hoër as ons s’n is, is U tyd ook.

Here, help ons asseblief om in volle bloei te staan op hierdie aarde vir ons een dag, hoe lank U ook al besluit dit sal wees, totdat ons eendag vir altyd in U onverwelklike Koninkryk gaan blom.

Efesiërs 2:10 want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

Kyk ‘n bietjie na hierdie vis:

 

Hierdie vis het dit gedoen waarvoor hy geskep is. Is dit nie ongelooflik om te sien hoe doelgerig, presies en in ‘n vloei (letterlik en figuurlik!) hy is, terwyl hy sy kunswerk voltooi nie? Op ‘n onverklaarbare manier weet hy net hoe om sy meesterstuk te voltooi! Hy besef glad nie hoe ongelooflik sy kunswerk is en sal beslis nie weet dat soveel oë daarna kyk en diep aangeraak word nie. Ook sal hy nie weet hoeveel oë as gevolg daarvan deur sy byna deursigtige lyf kyk en besef dat daar ‘n Meester Kunstenaar is wat deur hom aan die werk is nie. . .

Here, so het U vir elkeen van ons ‘n metaforiese lewens-kunswerk in gedagte, wat uniek aan elkeen van ons is. Help ons asseblief om elke dag daarmee besig te wees. Al maak ons foute, werk U selfs dít in ons kunswerk in. . . U vra bloot net ons gewilligheid om aan U verbind te bly, dan doen U dit deur ons.

Ons wil ook graag soos Jesus eendag kan sê in Johannes 17:4 “Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen.

Uself het tot ekstreme stappe oorgegaan om ons aandag te trek – U het aarde toe gekom, neergedaal tot op die laagste vlak, U verneder om ons na U te trek, in te trek . . .

Só maak U ons vissers, gered en gereed vir vis-vangs.

Prediker 3:11 Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ‘n visie gegee van die ewigheid.

Die afgelope week is dit asof blomme vir my net al hoe mooier word. Daar is soveel skoonheid in ‘n blom, as’t ware ‘n misterieuse skoonheid. Wanneer mens lank genoeg by ‘n blom stilsit, regtig daarna kyk, is dit ‘n ryk ervaring . . .

Ervaar mens dalk ‘n terugverlang, ‘n heimwee, na ‘n Tuin en ‘n Skepper daarin? Of is dit dalk ‘n verlange of ‘n hunkering na wat weer gaan kom? Of is dit dalk omdat die Bruidegom in Hooglied 2:1 sê: “Ek is ’n roos uit Saron, ’n lelie van die veld!”?

Daar is vir my iets so heiligs omtrent elke blom, so asof U dit gebruik vir u mooiste liefdesboodskappe. . .

God writes the Gospel not in the Bible alone, but also on trees, and in the flowers and clouds and stars. Martin Luther

Met ons onlangse bosveldvakansie het ‘n vrolike bos blomme ons met ons aankoms verwelkom.

Soos die dae verloop het, het die blomme begin verwelk. Die proses was onkeerbaar, onomkeerbaar. . .

 

Ons kan aanvaar dat dit die verloop van ons lewe hier is, maar dat ons deur Sy lens tog ‘n dieper skoonheid daarin kan raaksien.  Dit laat ons ook uitsien en smag na die volmaakte, die onverganklike.

1 Petrus 1:3,4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Eendag, wanneer die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek, gaan niks meer verwelk of sterf nie. Die beste van alles: Wie ons daar gaan verwelkom!

Efesiërs 4:10 Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

Op Oukersdag, toe ek in die kombuis besig was om alles gereed te kry vir die familie se koms op Kersdag, maak die geitjie sy verskyning op die vensterbank.

Die HAT beskryf ‘n geitjie soos volg: Lelike maar onskadelike akkedisagtige diertjie van die fam. Gekkonidae, wat gewoonlik snags bedrywig is en bedags wegkruip en waarvan ‘n sekere soort dikwels in geboue hou.

Hy het so stil bly sit en my as’t ware dopgehou. Ek het my lens gaan haal. . .

Daardie oë het my reg tussen my oë getref . . . Dit was sulke helder, volmaakte, onskuldige, weerlose ogies. Hy het lank so bly sit, so asof hy vir my iets wou sê.

Waarom het dit my so diep aangeraak? Iets roer binne my hart. . . Is dit miskien dat ek in daardie oë iets beleef het van Hom wat in die broosheid van ‘n baba na ons gekom het? Hy wat met sagte, liefdevolle en deernisvolle oë na ons gekyk het en op ‘n dag die hemeltroon verlaat het en by ons kom woon het? Dis juis nou hierdie tyd wat ons die heuglike gebeurtenis herdenk.

Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

As ‘n mens liefhet, wys dit mos in jou oë, dit kan nie anders nie. . .  Die oë word nie verniet die vensters van die siel genoem nie!

Hy was weer die volgende dag daar en ons het begin gesels. Hy sê: “Ek hoor jy gaan nou van my skryf op die blog. Laat ons bietjie vir hulle wys hoe groot ek is.” Ek sit die vuurhoutjie langs hom neer. Hy kom nader en sit sy koppie eers langsaan die vuurhoutjiekop en toe bo-op. “Nou kan jy jou storie gaan skryf”. Dankie, klein geitjie. Jy het vir my gewys dat enigiets mens kan leer, maak nie saak hoe klein of oënskynlik onbenullig dit mag voorkom nie en dat die buitengewone meestal versteek is in die gewone, die alledaagse. Dit kan egter net ontvang word wanneer mens stil, oop, ontvanklik en nie-veroordelend kyk. . . Dit wat dalk op die oog af lelik is, word dan onverklaarbaar mooi.

So, die HAT is verkeerd, jy is glad nie lelik nie en jy was in helder daglig by ons. Juis in hierdie tyd wat ons die koms van die Lig vier.

Gebed: Here, U vul alles met U teenwoordigheid, letterlik alles! Maak asseblief my oë oop om U in alles raak te sien.

Ps 119:18 Open my eyes so I can see what you show me of your miracle-wonders.

Dankie, liewe geitjie, dat jy nie weggekruip het nie, maar oë kom wys het. Uit die oog uit die hart geld beslis nie hier nie, inteendeel. . .

Joh 1:9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 

Dis twee baie ou Kerskaartjies, beide afdrukke van oorspronklike mondgeverfde skilderye, wat vir my die blye, wyer boodskap van daardie heilige nag kom uitbeeld het.

Die staltoneel en die vorm van die sterre in drie tonele het veral my oog gevang.

Die refleksie kom: ons Redder het met sy brose liggaam in ‘n houtkrip gelê en ‘n paar dekades later het sy brose liggaam weer teen hout gelê, hierdie keer vasgespyker teen ‘n kruis.

Die kruisster wat bokant die krip hang is vir my ‘n heenwysing na die kruis waaraan die Kripkind eendag sou hang. Wat ‘n liefde! Hy wat self God is, het broos en swak geword ter wille van hierdie liefde. 1 Joh 3:16a Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Dit laat my in blye aanbidding buig. . .

Hy nooi ons elke dag om Hom te volg. Dit behels dat ons, net soos Hy, sal opgroei en sterk word.  Luk 2:40 Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Daarvoor moet ons elke dag gevoed word sodat ons uit ons krippe kan klim.  Hy, die Brood van engele, wil ons voed met die beste koring en heuning uit die rots. Ons kan ook vashou aan die wete dat God se genade op ons sal wees, want so bly sy lig steeds tot vandag toe sigbaar.

Die krip en die kruis, dis die twee K’s van Kersfees. Dis die volle verhaal van Kersfees. Dis ons Here se wil dat dit ook ons verhaal sal wees. Die tweede gedeelte van 1 Joh 3:16: Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Hy wil hê dat ons ons kruis sal opneem en Hom sal volg, vanaf die Betlehemster tot by die helder Môrester wat tot hier binne ons kom leef . . .

Ek lees die vanne van dié twee mondkunstenaars, lettergreep per lettergreep: die eerste een is Verster en die een hierbo is Lamphier. Immanuel, God, is hier, Hy is nie ver.

God beproef ons nooit tot breekpunt toe nie – net tot groeipunt toe. – Anoniem

Ek sien dié spesifieke plataanboom op ‘n gereelde basis regdeur die jaar. Dit is reusagtig en ‘n mens moet jou kop ver agtertoe buig om sy top te kan sien.

In die herfs het hy sy blare verloor, reusagtige blare, om later winterkaal te staan.

img_3112

Nou, in die middel van die somer, verloor hy sy bas.

20161129_093646_resized

20161129_081732_resized

Die arme boom word dubbeld gestroop!

Ek weet heeltemal te min van plataanbome om te weet waarom dit so is, maar ek weet dat die Skepper van die plataanboom wel sy plan daarmee het. Sy plan behels groei en nuwe lewe.

Dit laat my besef dat Hy met ons ook op ‘n soortgelyke manier besig is om ons te laat groei. Dikwels voel die Here se behandelingsplan egter soos verlies en verwonding.

Tog het Hy so duidelik vir ons kom wys dat wanneer dit voel asof alles uitmekaar val, Hy ten diepste besig is om iets nuuts te skep.

IMG_0824

Daarom kan ons vashou aan die hoop: daar is wel verlies, maar dis ter wille van ‘n groter plan wat groei insluit.

IMG_2017

Eseg 16:7 groei!’ “Ek het jou soos ‘n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword.

Lukas 13: 19b Dit het gegroei en ‘n boom geword. . .

Daar is ‘n sirkelvormige bankie rondom die stam waarop mens heerlik kan sit en rus in die koelte daarvan. Hierdie boom het al soveel seisoene deurstaan om dit vir ons te kan bied. Al is my boompie maar klein, wil ek graag dit vir mense om my bied. . . Laat U wil met my geskied.

 

Psalm 119:68 U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte.

Dit het so onverwags gebeur: ek is skielik bygedam, op my duim. Ek het my hand na agter uitgesteek omdat ek iets agter my kop gehoor het en daar steek die by my so onverwags, so seer. Iemand help om die angel met ‘n mes uit te skraap. . .

Die raad kom in: smeer koeksoda, tandepasta of heuning aan. Heuning?! Nee dankie, op hierdie stadium wil ek asseblief niks weet van enige by-produk nie!

Aristoteles het gesê: Ons kan nie leer sonder pyn nie.

Met die pynlike rooi swelsel, het ek gaan stilword. Wat wil dié pyn my leer? Toe kom dit: het ons nie maar almal, soos ‘n by, twee ekstreme kante nie? Aan die een kant is ons in staat om soetheid en heilsaamheid te bring en aan die ander kant het ons ‘n giftige angel. . .

by-op-blom

Hoeveel keer bring ek my angelkant na vore, veral met woorde wat seerder as bysteke kan wees en onsigbare pynlike wonde veroorsaak? Dit tref my ook dat hoe selfvernietigend die interaksie vir die by was. . .

by-wat-op-kop-staan

Niemand is goed nie, ons het almal angels. Vreemd genoeg, laat ons angelkante ons besef dat ons sonder die Here niks goeds kan doen nie. Tog aanvaar Hy ons met albei ons kante en het Hy boonop die angel van ons sonde aan sy liggaam aan die kruis gedra.

Dis my begeerte dat hierdie pynlike les sal bly vassteek, dat dit nie by my sal verbygaan nie.

Lyding is ‘n streng onderwyser, maar ‘n uitstekende een, volg die spreekwoord.

Gebed: Here, help my asseblief om ook van my angelkant bewus te wees en eerder egte soetheid, U soetheid, in mense se lewens te bring. Al wat ek moet doen is om digby U te bly vir U werking in my.

Dalk kan ek na ‘n paar dae die woorde van die psalmskrywer beaam in Psalm 119:71 Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

So leer ons wat die hoofsaak en wat bysake is.

img_2081