Psalm 23, Die Here is my herder, is heel waarskynlik die bekendste psalm en is seker dié een wat die meeste van ons van vroegs af al ken. Hierdie vrye vertaling, oorspronklik in Japanees, is so pragtig:

 

 

 

Die Here stel my pas vas – ek sal nie haas nie.
Hy laat my tot stilstand kom vir rustige oomblikke.

Hy voorsien my van beelde van stilte
wat die vrede in my herstel.


Hy lei my in weë van bevoegdheid
deur kalmte van gees.
Hy rig my na vrede.


Al het ek baie dinge om elke dag te doen,
sal ek nie paniekerig word nie,
want sy teenwoordigheid is in my.
Sy ewigheid, sy almag hou my in balans.


U berei vir my verfrissing en vernuwing
te midde van al my aktiwiteite.


U salf my gedagtes met olie van rustigheid.
My beker van vreugdevolle energie loop oor.

Net harmonie en doeltreffendheid sal vrugte wees van al my ure.
Want ek sal in pas wees met my Here
En in sy huis vertoef vir ewig.

Lyk vir my dis vir ons haas onmoontlik om nie haastig te leef nie. Here, help ons asseblief om onsself gereeld te plaas in stille rustigheid voor U. Laat ons soms die pas markeer en in afwagting stil voor U te raak, en so in pas te kom met die rustige, uitnodigende fluister binne ons.

So sal Sy vrede en rustigheid ons lewens deurdring, selfs tydens ons alledaagse take, in pas met ons Herder se lewensritme. . .

Daarom sal ek my nie haas nie, want ek is ‘n skaap van Sy kudde!

So aan die begin van ‘n nuwe jaar is daar soveel van ons wat met hernieude ywer weer oefen na ‘n vakansierus of selfs dalk van nuuts af begin oefen. Ons het soms wonderlike nuwejaarsvoornemens. . .

Daar is egter ‘n ander manier van oefen wat eeue oud is, eintlik ‘n tydlose oefening, maar dis steeds die beste oefening ooit, want dit het ewigheidswaarde!

…everything faded, thinned to nothing, beside the light which bathed and warmed, the Presence your being had opened to. Where it shone, there life was, and abundantly; it touched your dullest task, and the task was easy. Joyful, absorbed, you ‘practiced the presence of God’ as a musician practices hour after hour his art: ‘A stone before the carver,’ you ‘entered into yourself.’ – Denise Levertov skryf só oor Br Lawrence (1614-1691)

St Teresa van Avila (1515-1582) se woorde inspireer vandag nog:

God alone is enough.
Let nothing upset you,
let nothing startle you.
All things pass;
God does not change.
Patience wins
all it seeks.
Whoever has God
lacks nothing:
God alone is enough

Br Lawrence skryf self: “If I were to be responsible for guiding souls, I would urge everyone to be aware of God’s constant presence, if for no other reason than His presence is a delight to our souls and spirit.”

Hierdie gedissiplineerde inoefening bring ongekende vreugde!

Hy wag vir ons, Hy wil ons naby Hom hê. Daar is egter ‘n probleem: ons beweeg soms in die teenoorgestelde rigting! Meister Eckhart beskryf dit so: “God is at home, it’s we who have gone out for a walk.”

In Gebed begin Koos du Plessis met die woorde: Laat my nooit die grond verlaat nie, laat my in U skadu bly…

Die laaste reëls is: eint’lik smag ek na U waters van rus, lei my Heer vanaand daarheen.

So: in hierdie nuwe jaar moet ons nie toelaat dat enige iets ons van koers af of van stryk bring nie, laat ons in die regte koers bly loop. Laat ons opstaan en aanstryk, al voel dit asof ons gedurig struikel en val. Hy bly ons geduldig lei, sy liefdevolle arms bly altyd oop, Hy wag ons in by Sy waters van rus. . . Hy weet ons raak so gou moeg. Hy alleen is genoeg!

1 Kron 16:11b (Die Boodskap) Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. In die Nuwe Lewende Vertaling is dit so vertaal: Hou aan om Hom te soek.

So bied U vir ons 365 nuwe oefengeleenthede om tuis te kom. . .

Kersdag is so pas verby, waar ons opnuut ervaar het hoe U alles nuut kom maak het.

Nou is ons aan die vooraand van ‘n nuwe jaar.

U wil altyd vernuwing bring. . . U plan is altyd ‘n groeiplan.

Ons lees in Openbaring 21:5 – Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Hierdie belofte het die vermoë om mens se hart en gemoed te lig, te vernuwe.

Maar wat gemaak indien mens nie nou eintlik vernuwing ervaar nie? Wat as die wêreld om mens donker lyk?

So ‘n rukkie gelede besoek ek iemand in die hospitaal wat met kanker gediagnoseer is en chemoterapie in die nuwe jaar moet ondergaan.

Wat ‘n belewenis was dit om haar te besoek. . . Ten spyte van moeilike omstandighede ervaar ek iets heiligs. Dis wanneer mens in haar oë kyk, dat mens dit sien: Lig.

Lukas 11:34 Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.

Rumi skryf:

The light which shines in the eye
is really the light of the heart..
The light which fills the heart
is the light of God, which is pure
and separate from the light of intellect and sense…

Hoe totaal anders lyk hierdie mosaïekwerk in die lig:

Hoe totaal anders lyk enige situasie wanneer U lig daarop skyn!

Here, ons begeer nuwe harte. Skyn asseblief U lig daarop, want dis daar waar ons die onsienlike kan sien en ‘n dieper, wonderlike werklikheid ervaar. Ons wag met biddende harte voor U daarvoor.

Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Geseënde Kersfees aan almal! Ons is vandag só dankbaar en ons jubel en juig oor Jesus se koms. Dit gaan alles net oor Hom.

Hierdie kerskaartjie som die ware boodskap van Kersfees op:

Hoe is dit dan moontlik? Hy, vir wie niks onmoontlik is nie, vra net ons “ja”. Dan herhaal ons Maria se woorde in Lukas 1:38 “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Dankie Here, dat U aan ons soveel genade bewys, dat U ook na ons in ons geringheid omsien. Dit is ons hartsbegeerte om U te sien.

1 Kor 13:13b En die grootste hiervan is die liefde!

Die laaste pers kers op die Adventkrans is vandag aangesteek.

My Pa skakel my baie opgewonde en sê dat daar iets naby sy huis is waarna ek moet kom kyk.

Erg nuuskierig loop ek toe saam met hom nader. . .

Op ‘n stedelike straathoek, genestel aan die voet van ‘n lamppaal, is daar ‘n “morning glory” blomplant.

Die omgewing verder is kaal, behalwe vir ‘n paar klippe en enkele rommelpapiere.

Toe is daar nog ‘n verrassing: effens eenkant is daar vier aparte blomme: drie pers en een pienk, soos die kleure van die vier Adventkerse! Die blomme lyk kompleet asof elkeen hul eie lig binne het. Die groen hartvormige blare rond alles perfek af.

Toe is daar nog ‘n groepering van drie pers blomme en een pienk blom met ‘n kruis onder tussen die pienk en een pers blom. . .

Asof dít nie genoeg is nie, is daar nog ‘n boodskap:

“I’m lovin’ it”, met ‘n hart daarby op die weggooipapier gedruk!

Dit herinner my dadelik aan Joh 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 

Dankie Here, dat U op die mees ongewone, verrassendste maniere na ons toe kom om U liefde aan ons te openbaar. Dankie dat ons U koms, die grootste teken van U ewige liefde vir ons, mag herdenk.

1 Joh 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Daar waar ons U die minste verwag, daar is U juis! Wanneer ons die Koning van alle konings in ‘n paleis op ‘n troon sou soek, kom Hy as ‘n pasgebore baba in ‘n nederige stal.

Maak asseblief ons oë oop om U raak te sien, in alles om ons, in alles in ons.

U glorie skyn oral deur. U liefde dring alles deur. U is hier. U nuwe dag, U nuwe môre, is hier!

Colossians 1:27 For God wanted them to know that the riches and glory of Christ are for you Gentiles, too. And this is the secret: Christ lives in you. This gives you assurance of sharing his glory.

Hierdie week brand die pienk vreugdeskers op die Adventkrans. Dit is ‘n ligter kleur as die drie donkerpers kerse om die ligter boodskap van vreugde te simboliseer.

Matt 25:21 Kom in en deel in my vreugde!

Hand 2:28 U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

Rom 14:17 Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

Egte vreugde is groot blydskap wat uit ‘n diep, onuitputlike Vreugdesbron binne ons kom.

Ons wêreld en sy gebeure het ‘n manier om die glimlag van ons gesig af te wil vee, maar niks kan die glimlag van ons harte afvee nie, selfs al wiggel daar ‘n traan oor ons wang. . . Diep, egte vreugde kan nie anders as om uit te mond in ‘n glimlag nie!

Die wêreld het nodig om hierdie standhoudende glimlagte te sien.

Soms kom ons vreugde tot uiting in ‘n bruisende vloei.

Ander kere word vreugde ervaar as ‘n rustige stroompie.

Dit bly altyd ‘n geskenk van Hom. Diepe dankbaarheid en vreugde loop saam.

Egte vreugde is nie ligsinnigheid nie, maar LIGhartigheid en LUGhartigheid (Geeswind) vanuit ‘n vreugdevolle Vaderhart gegee, Hy wat sy kinders oorlaai met die grootste geskenk: Homself!

Here, help ons asseblief om gedurende hierdie Adventtyd genoeg tyd by U stil te word om gevul te word.

C. S. Lewis het geskryf: “Joy is the serious business of heaven.” So, as ons nou al vreugde ervaar, ervaar ons alreeds hier hemel op aarde. Dan is die Koninkryk baie naby: Immanuel!

Lukas 2:13-14 Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Hierdie week brand die tweede Adventkers.

Vrede blyk iets ontwykends in ons wêreld vandag te wees.

U, die Prins van Vrede, die Vredevors, se aankoms in ons wêreld is besing deur die engele.

U het hierdie vredeslied bly sing deur u lewe op aarde en U wil hê dat ons hierdie lied moet voortsing en daarmee saam aan U die eer bring.

Dis egter slegs wanneer U ons toevlug is en ons ons lewens geheel en al in U hande toevertrou, dat ons in die regte posisie is om U vrede te ontvang om dit te kan bring na ‘n wêreld wat smag na vrede. So kan ons as ‘n menigte vredemakers leef.

Steek asseblief opnuut U vredesvlam in ons gewillige harte aan sodat ons U vredeslig rustig en met onverstoorbaarheid aan ons wêreld bring.

Wees ons genadig dat ons vlamme sal bly brand totdat U nuwe dag, u ligkoninkryk, u vredesryk, aanbreek.

(Foto: Suzette Fischer. Baie dankie!)

Die afgelope week het die eerste Adventsondag van 2017 aangebreek.

Die vier weke tot Kersdag is ‘n tyd van voorbereiding en afwagting.

Die woord “advent” beteken “aankoms”. Ons berei onsself voor om die geboorte van Jesus Christus te vier, sy eerste koms, en daarmee saam ook die viering van ons afwagting en verlange na sy terugkeer, sy tweede koms.

Die eerste van die vier adventkerse simboliseer hoop.

Ps 39:8 Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop.

U ís die enigste ware hoop in ons soms wanhopige wêreld. Slegs by U kry ons hoop vir elke dag, maar ook hoop vir U tweede koms.

Ons begeer dat ons lewens aangesteek sal word as hoop-kerse en sal bly opvlam na U. So sal ons as vurige hoopvlamme leef totdat U terugkeer, die Hoopvuur, op die volmaakte uur.

So word ons ook hoopbringers wat heenwys na die enigste ware Hoopbringer.

Later deur die dag het die oorblywende sneeu in wit lyne op die bergpieke gelê.

Die lyne herinner aan skryfpapier en 2 Kor 3:3Julle wys duidelik dat julle ‘n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte.

Ons is u briefpapier, Here. Elke oggend wag daar ‘n skoon gelinieerde bladsy op ons harttafels waarop U ‘n brief wil skryf.

Hierdie grasvoël wat so vrolik sing laat my wonder of die lyne soms ‘n notebalk mag wees waarop U u musiekskrif wil skryf vir ‘n soet melodie. . .

Later die middag het die wolke amper soos ‘n vuur bo die berg gehang. Dit herinner aan die vuurkolom van U teenwoordigheid en ook aan U vurige liefde, U brandende hart vol liefde wat nie anders kan as om U liefde vir ons uit te druk nie. In Hosea 11:8 sê U “My liefde brand te sterk”.

Here, vergewe my asseblief wanneer ek so dikwels self my brief wil skryf, ek lê my pen neer sodat U skryf wat U wil. Ek kan in elk geval net krap. . . Help my asseblief, ek kan nie eens die pen sonder U hulp neerlê nie. Here, help ons om elke dag genoeg ruimte te skep en stil genoeg te sit sodat U u vurige liefdesbrief in U skone skrif op ons kan skryf.

U bruid is u lewende skryfpapier. Dankie, Drie-enige God, vir die onbeskryflike voorreg dat ons U liefdesbriewe, deel van u heilige skrif, hier mag wees.

Min sou ek weet dat daar na die vorige inskrywing nog ‘n wonderlike wit-verhaal aan die ontvou was. . .

Ons was vir ‘n paar dae Drakensberge toe en op 16 November, tydens die lente se laaste doodsnikke, het ons sneeu beleef!

Vroegoggend was daar ‘n missluier oor die berg gedrapeer. . .

Ons geduldige wag is later ryklik beloon met hierdie ongelooflike gesig. Die bergtoppe was spierwit, reinwit gekleed!

Ons kon nie ophou kyk nie! Soveel skoonheid is amper te veel om in te neem.

Die volgende woorde in verlede week se blog resoneer diep:

Kan jou hart se siel begryp na wie ek verlang? 
Dit is jy, my bruid in ewigheid.

Jesaja 54:10 Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet.

Hosea 2: 18-19 Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Die berg met sy spierwit sneeu en die wolksluier herinner aan ‘n bruilof, onder ‘n hemelblou lug voltrek. . . Hoe kan U bruid dan anders as om U lof te bring, U lof te besing tot in die hoogste hemele?

Terug by die huis, kyk ek op en sien die wit wolke en die blou hemel. . . Die besef kom dat ‘n diep kyk daarna dieselfde waarheid tuisbring.

Dit wil voorkom asof ons soms ver moet reis om die skatte reg onder ons neuse (ook bo ons neuse!) raak te sien, te ontdek. . .