Sommige stories vra mos maar net om vertel te word, en hierdie storie is een van hulle. Dit kon iewers in ‘n rivierbos of in die wye Karoo afgespeel het, maar ons voorstedelike tuin is verkies. Die storie het alreeds in 2011 begin. . .

Op 30 November daardie jaar was hierdie tweetjies op ons grensmuur en het hulle lank genoeg stil bly sit sodat ek ‘n foto van hul kon neem. Hierdie foto bêre ek alreeds van toe af. Dalk het ek intuïtief aangevoel dat hier ‘n storie aan die ontvou was. . .

Dit was Ma en kind geelbeklyster (Engels: Karoo Thrush). Eintlik was die jongeling toe eerder nog “grysbeklyster”. Hierdie foto het my diep aangeraak en laat mens se hart sommer warm klop. Dis asof mens die band tussen ma en kind kan ervaar, selfs hier in die voëlryk.

Sy pryk in herhalende geel: bek, been en oogring, terwyl die jongeling s’n vir eers nog grys is. Dit sou later vergeel.

Hul vere is so pragtig, Ma-lyster s’n is netjies, perfek. Die kleintjie s’n lyk effens onnet, tog kan mens sommer die donssagtheid van die jong veertjies ervaar.  Was hierdie dalk ‘n spesiale Ma en kind uitstappie?

Dis somer en die groen bome vorm ‘n sagte agtergrond vir hierdie tafereel. Dis ‘n groeiseisoen. . .

Die volgende twee Skrifgedeeltes kom op:

Matt 6:26 Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel.

Psalm 91:4 Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild.

Mag dit ons gemotiveerd laat voel om ons lewe vry en voluit te leef as u kinders; geliefd, kosbaar, gekoester, beskerm en versorg in alle opsigte!

So gebruik U u geveerdes vandag nog om vir ons spesiale boodskappe te bring. . .

Volgende week vertel ek verder.

Jesaja 35:2 Ja, daar sal ’n oorvloed wees van blomme, en ’n gejuig en gesing!

As ‘n mens maar één van God se volmaakte blomme moes maak, sou dit ‘n leeftyd geneem het. William Blake

Blomme is die poësie van die aarde, soos sterre die poësie van die hemel is. Anoniem

Wesens van ‘n planeet waar daar nie blomme is nie, moet seker dink ons aardbewoners is mal van vreugde om soveel skoonheid rondom ons te hê. Iris Murdoch

In vreugde of in smart is blomme ons getroue vriende. Kokuzo Okakura

Blomme is ‘n groot seëning, want die Here het ‘n ruikertjie gemaak in die veld met sy dissipels en Hy het gepreek oor die lelie; want daar is geen hoogte waar daar nie blomme is nie. Blomme is ‘n groot seëning vir al die sintuie. Christopher Smart

Here, mag ons ook in ‘n wêreld wat smag na seën, U blomme wees wat seën bring vir almal om ons.

Dis slegs U nabyheid en seën wat ons daartoe in staat stel. . .

Iemand het eenkeer gesê dat hierdie gebed die wreedste gebed is wat ‘n mens kan bid:

Welcoming Prayer – Thomas Keating

Welcome, welcome, welcome.
I welcome everything that comes to me today
because I know it’s for my healing.
I welcome all thoughts, feelings, emotions, persons, situations and conditions.
I let go of my desire for power and control.
I let go of my desire for affection, esteem, approval and pleasure.
I let go of my desire for survival and security.
I let go of my desire to change any situation, condition, person or myself.
I open to the love and presence of God and God’s action within.
Amen 

Dit voel dikwels na ‘n groot verlies om soveel te laat gaan en dis gewoonlik baie moeilik.

Dalk is een van die grootste redes daarvoor dat “Most people prefer the certainty of misery to the misery of uncertainty.” Virginia Satir

Tog is dit een van die mees bevrydende gebede. . .

Dit maak ‘n mens vry en onaantasbaar. Dis egter ‘n lewenslange proses. Ek glo dat dit van onskatbare waarde kan wees om hierdie gebed elke dag te bid, nie net gedurende ons stiltetyd nie, maar ook oor en oor soos wat die lewe met ons gebeur.

In Johannes 8:32 sê Jesus: en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Die uitlewing van hierdie gebed laat mens ervaar hoe elke bietjie sterf aan self én oorgee aan Hom mens net ligter en ligter maak.  Dan volg die vreugdevolle uitroep: Welkom, welkom, welkom, vryheid!

Galasiërs 5:1 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.

Psalm 23, Die Here is my herder, is heel waarskynlik die bekendste psalm en is seker dié een wat die meeste van ons van vroegs af al ken. Hierdie vrye vertaling, oorspronklik in Japanees, is so pragtig:

 

 

 

Die Here stel my pas vas – ek sal nie haas nie.
Hy laat my tot stilstand kom vir rustige oomblikke.

Hy voorsien my van beelde van stilte
wat die vrede in my herstel.


Hy lei my in weë van bevoegdheid
deur kalmte van gees.
Hy rig my na vrede.


Al het ek baie dinge om elke dag te doen,
sal ek nie paniekerig word nie,
want sy teenwoordigheid is in my.
Sy ewigheid, sy almag hou my in balans.


U berei vir my verfrissing en vernuwing
te midde van al my aktiwiteite.


U salf my gedagtes met olie van rustigheid.
My beker van vreugdevolle energie loop oor.

Net harmonie en doeltreffendheid sal vrugte wees van al my ure.
Want ek sal in pas wees met my Here
En in sy huis vertoef vir ewig.

Lyk vir my dis vir ons haas onmoontlik om nie haastig te leef nie. Here, help ons asseblief om onsself gereeld te plaas in stille rustigheid voor U. Laat ons soms die pas markeer en in afwagting stil voor U te raak, en so in pas te kom met die rustige, uitnodigende fluister binne ons.

So sal Sy vrede en rustigheid ons lewens deurdring, selfs tydens ons alledaagse take, in pas met ons Herder se lewensritme. . .

Daarom sal ek my nie haas nie, want ek is ‘n skaap van Sy kudde!

So aan die begin van ‘n nuwe jaar is daar soveel van ons wat met hernieude ywer weer oefen na ‘n vakansierus of selfs dalk van nuuts af begin oefen. Ons het soms wonderlike nuwejaarsvoornemens. . .

Daar is egter ‘n ander manier van oefen wat eeue oud is, eintlik ‘n tydlose oefening, maar dis steeds die beste oefening ooit, want dit het ewigheidswaarde!

…everything faded, thinned to nothing, beside the light which bathed and warmed, the Presence your being had opened to. Where it shone, there life was, and abundantly; it touched your dullest task, and the task was easy. Joyful, absorbed, you ‘practiced the presence of God’ as a musician practices hour after hour his art: ‘A stone before the carver,’ you ‘entered into yourself.’ – Denise Levertov skryf só oor Br Lawrence (1614-1691)

St Teresa van Avila (1515-1582) se woorde inspireer vandag nog:

God alone is enough.
Let nothing upset you,
let nothing startle you.
All things pass;
God does not change.
Patience wins
all it seeks.
Whoever has God
lacks nothing:
God alone is enough

Br Lawrence skryf self: “If I were to be responsible for guiding souls, I would urge everyone to be aware of God’s constant presence, if for no other reason than His presence is a delight to our souls and spirit.”

Hierdie gedissiplineerde inoefening bring ongekende vreugde!

Hy wag vir ons, Hy wil ons naby Hom hê. Daar is egter ‘n probleem: ons beweeg soms in die teenoorgestelde rigting! Meister Eckhart beskryf dit so: “God is at home, it’s we who have gone out for a walk.”

In Gebed begin Koos du Plessis met die woorde: Laat my nooit die grond verlaat nie, laat my in U skadu bly…

Die laaste reëls is: eint’lik smag ek na U waters van rus, lei my Heer vanaand daarheen.

So: in hierdie nuwe jaar moet ons nie toelaat dat enige iets ons van koers af of van stryk bring nie, laat ons in die regte koers bly loop. Laat ons opstaan en aanstryk, al voel dit asof ons gedurig struikel en val. Hy bly ons geduldig lei, sy liefdevolle arms bly altyd oop, Hy wag ons in by Sy waters van rus. . . Hy weet ons raak so gou moeg. Hy alleen is genoeg!

1 Kron 16:11b (Die Boodskap) Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. In die Nuwe Lewende Vertaling is dit so vertaal: Hou aan om Hom te soek.

So bied U vir ons 365 nuwe oefengeleenthede om tuis te kom. . .

Kersdag is so pas verby, waar ons opnuut ervaar het hoe U alles nuut kom maak het.

Nou is ons aan die vooraand van ‘n nuwe jaar.

U wil altyd vernuwing bring. . . U plan is altyd ‘n groeiplan.

Ons lees in Openbaring 21:5 – Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Hierdie belofte het die vermoë om mens se hart en gemoed te lig, te vernuwe.

Maar wat gemaak indien mens nie nou eintlik vernuwing ervaar nie? Wat as die wêreld om mens donker lyk?

So ‘n rukkie gelede besoek ek iemand in die hospitaal wat met kanker gediagnoseer is en chemoterapie in die nuwe jaar moet ondergaan.

Wat ‘n belewenis was dit om haar te besoek. . . Ten spyte van moeilike omstandighede ervaar ek iets heiligs. Dis wanneer mens in haar oë kyk, dat mens dit sien: Lig.

Lukas 11:34 Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.

Rumi skryf:

The light which shines in the eye
is really the light of the heart..
The light which fills the heart
is the light of God, which is pure
and separate from the light of intellect and sense…

Hoe totaal anders lyk hierdie mosaïekwerk in die lig:

Hoe totaal anders lyk enige situasie wanneer U lig daarop skyn!

Here, ons begeer nuwe harte. Skyn asseblief U lig daarop, want dis daar waar ons die onsienlike kan sien en ‘n dieper, wonderlike werklikheid ervaar. Ons wag met biddende harte voor U daarvoor.

Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Geseënde Kersfees aan almal! Ons is vandag só dankbaar en ons jubel en juig oor Jesus se koms. Dit gaan alles net oor Hom.

Hierdie kerskaartjie som die ware boodskap van Kersfees op:

Hoe is dit dan moontlik? Hy, vir wie niks onmoontlik is nie, vra net ons “ja”. Dan herhaal ons Maria se woorde in Lukas 1:38 “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Dankie Here, dat U aan ons soveel genade bewys, dat U ook na ons in ons geringheid omsien. Dit is ons hartsbegeerte om U te sien.

1 Kor 13:13b En die grootste hiervan is die liefde!

Die laaste pers kers op die Adventkrans is vandag aangesteek.

My Pa skakel my baie opgewonde en sê dat daar iets naby sy huis is waarna ek moet kom kyk.

Erg nuuskierig loop ek toe saam met hom nader. . .

Op ‘n stedelike straathoek, genestel aan die voet van ‘n lamppaal, is daar ‘n “morning glory” blomplant.

Die omgewing verder is kaal, behalwe vir ‘n paar klippe en enkele rommelpapiere.

Toe is daar nog ‘n verrassing: effens eenkant is daar vier aparte blomme: drie pers en een pienk, soos die kleure van die vier Adventkerse! Die blomme lyk kompleet asof elkeen hul eie lig binne het. Die groen hartvormige blare rond alles perfek af.

Toe is daar nog ‘n groepering van drie pers blomme en een pienk blom met ‘n kruis onder tussen die pienk en een pers blom. . .

Asof dít nie genoeg is nie, is daar nog ‘n boodskap:

“I’m lovin’ it”, met ‘n hart daarby op die weggooipapier gedruk!

Dit herinner my dadelik aan Joh 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 

Dankie Here, dat U op die mees ongewone, verrassendste maniere na ons toe kom om U liefde aan ons te openbaar. Dankie dat ons U koms, die grootste teken van U ewige liefde vir ons, mag herdenk.

1 Joh 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Daar waar ons U die minste verwag, daar is U juis! Wanneer ons die Koning van alle konings in ‘n paleis op ‘n troon sou soek, kom Hy as ‘n pasgebore baba in ‘n nederige stal.

Maak asseblief ons oë oop om U raak te sien, in alles om ons, in alles in ons.

U glorie skyn oral deur. U liefde dring alles deur. U is hier. U nuwe dag, U nuwe môre, is hier!

Colossians 1:27 For God wanted them to know that the riches and glory of Christ are for you Gentiles, too. And this is the secret: Christ lives in you. This gives you assurance of sharing his glory.

Hierdie week brand die pienk vreugdeskers op die Adventkrans. Dit is ‘n ligter kleur as die drie donkerpers kerse om die ligter boodskap van vreugde te simboliseer.

Matt 25:21 Kom in en deel in my vreugde!

Hand 2:28 U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

Rom 14:17 Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

Egte vreugde is groot blydskap wat uit ‘n diep, onuitputlike Vreugdesbron binne ons kom.

Ons wêreld en sy gebeure het ‘n manier om die glimlag van ons gesig af te wil vee, maar niks kan die glimlag van ons harte afvee nie, selfs al wiggel daar ‘n traan oor ons wang. . . Diep, egte vreugde kan nie anders as om uit te mond in ‘n glimlag nie!

Die wêreld het nodig om hierdie standhoudende glimlagte te sien.

Soms kom ons vreugde tot uiting in ‘n bruisende vloei.

Ander kere word vreugde ervaar as ‘n rustige stroompie.

Dit bly altyd ‘n geskenk van Hom. Diepe dankbaarheid en vreugde loop saam.

Egte vreugde is nie ligsinnigheid nie, maar LIGhartigheid en LUGhartigheid (Geeswind) vanuit ‘n vreugdevolle Vaderhart gegee, Hy wat sy kinders oorlaai met die grootste geskenk: Homself!

Here, help ons asseblief om gedurende hierdie Adventtyd genoeg tyd by U stil te word om gevul te word.

C. S. Lewis het geskryf: “Joy is the serious business of heaven.” So, as ons nou al vreugde ervaar, ervaar ons alreeds hier hemel op aarde. Dan is die Koninkryk baie naby: Immanuel!

Lukas 2:13-14 Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Hierdie week brand die tweede Adventkers.

Vrede blyk iets ontwykends in ons wêreld vandag te wees.

U, die Prins van Vrede, die Vredevors, se aankoms in ons wêreld is besing deur die engele.

U het hierdie vredeslied bly sing deur u lewe op aarde en U wil hê dat ons hierdie lied moet voortsing en daarmee saam aan U die eer bring.

Dis egter slegs wanneer U ons toevlug is en ons ons lewens geheel en al in U hande toevertrou, dat ons in die regte posisie is om U vrede te ontvang om dit te kan bring na ‘n wêreld wat smag na vrede. So kan ons as ‘n menigte vredemakers leef.

Steek asseblief opnuut U vredesvlam in ons gewillige harte aan sodat ons U vredeslig rustig en met onverstoorbaarheid aan ons wêreld bring.

Wees ons genadig dat ons vlamme sal bly brand totdat U nuwe dag, u ligkoninkryk, u vredesryk, aanbreek.

(Foto: Suzette Fischer. Baie dankie!)