Die lewe se snye en snoeie laat mens verlies ervaar, so erg dat mens later ‘n gevoel van afgestomptheid mag beleef. . .

Hierdie boom lyk morsdood, asof daar nooit weer lewe uit sal spruit nie. ‘n skynbaar hopelose toestand.

Maar tog, op ‘n dag:

Dis ‘n wyse Hand wat gesnoei het, dis dieselfde Hand wat laat groei het.

Sy plan is altyd ‘n groeiplan, maar dit word voorafgegaan deur ‘n pynlike snoeiplan. . .

Here, vergewe my dat ek so dikwels net ‘n nuwe seisoen se oorvloedige koms wil ervaar en tydens die wintertyd so gedurig kan kla, myself so bejammer en so stompsinnig kan wees.

Help ons asseblief om in elke seisoen net te weet: U volmaakte tuiniershand is op ons. Help ons om onlosmaaklik aan U verbind te bly, in die onverstaanbare, onverklaarbare kaalgestrooptheid, maar ook in die daaropvolgende seisoen met sy oorvloedige liggroen groei.

Na elke snoei groei ons lewensbome soos U dit wil hê. Ons wortels is versterk teen storms en kan ons selfs meer skadu aan moeë reisigers bied.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf dou as volg: “Vogtigheid in die lug wat op die oppervlak van koue voorwerpe neerslaan, veral in die nag.”

Sagaria 8:12 “Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer.

Deut 33:28 Daarom sal Israel in veiligheid woon, en die voorspoedige Jakob in sekerheid, in ’n land van koring en wyn, waar dou van die hemel drup.

In die donkerte van die nag, gebeur iets baie spesiaals: hemelse geskenke word druppelsgewys gedeponeer.

Ps 127:2 In vain is your earlier rising, your going later to rest, you who toil for the bread you eat, when he pours gifts on his beloved while they slumber. 

Here, soos wat U in die natuur u dou oornag skenk, skenk U aan ons ‘n dou-seën deur elke nag: dít wat ons nodig het vir die nuwe dag. In elke druppel is U en u tere sorg ingebou. Met elke sonsopkoms kan ons ontdek dat dit reeds daar is: druppels genade met hemelse presisie afgelewer vir elkeen van U kinders elke dag.

Laat asseblief U onverdiende porsies lewegewende geskenke ons binnedring en ons verkwik, verfris, om met hernude ywer elke dag voluit vir U te leef. So sal ons elke dag se stormwaters kan trotseer, want ons is dou-deurdrenk!

Elke doudruppel is ‘n druppel hemel wat op ons val en is ‘n seker teken van U seën en trou. . .

Ons was vir ‘n paar dae in die Pilanesbergomgewing gewees. Die een dag sit ons buite ons huisie en hier kom land ‘n geelbekneushoringvoël sommer so op die ruglening van een van die stoele, reg hier by ons. Hy gee genoeg kans sodat ek die kameralens kon inspan om hom van naderby te bekyk. Hy het my hom van alle hoeke laat beskou, selfs later sy rug op my gedraai en ons het mekaar as’t ware aangegaap.

Dis deur die lens wat ek iets opmerk. . .

Daar is iets baie unieks aan die neushoringvoëlfamilie: hulle het wimpers! Sowaar!

Met verdere internetondersoek bly dit dat dit net hulle en volstruise is wat wimpers het.

Dit het my weer eens laat besef hoe wonderbaarlik ons God alles geskape het, verweef het. Ook hierdie neushoringvoël is haarfyn beplan!

Hulle het ook die bynaam as “vlieënde piesangs” verwerf. Dis nie moeilik om te sien waarom nie. Ek weet nie of hy by my kom kos soek het nie, maar hierdie vlieënde piesang het mý beslis gevoed.

Ps 139:14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

Here, U het álles op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Dit laat ‘n loflied op ons lippe weerklink!

Daar is niks soos die lenteseisoen om ons te herinner aan hierdie woorde van Jesus nie:

Joh 11:25-26 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Op die perfekte wentelbaanposisie, in die lenteseisoen, kom daar vanuit die oënskynlik lewelose wintertakke nuwe lewe na vore. Hierdie lewe was besig om in onsigbare donkerte te vorm. Die wintertakke was toe nie dood nie, maar swanger van belofte! Geen grens kon die nuwe lewe terughou nie.

Dis asof hierdie lentebloeisel in ‘n reinwit opstandingskleed triomfantelik hierdie waarheid bly verkondig dat nuwe lewe altyd deurbreek.  Die spierwit meeldrade met hul goue koppe asook die nuwe groen blare reik opwaarts: padwysers na die ewige Ligbron.

Die oënskynlik lewelose hout dra toe al die tyd nuwe lewe!

Boonop kan ons vashou aan die grensverskuiwende belofte: “Christ has died, Christ is risen, Christ will come again.”

Mag hierdie waarheid elke dag ‘n totale omwenteling in ons lewens teweegbring!

Joh 10:29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

Iemand het onlangs vir my hierdie houtbeeld as geskenk gegee. Ek hou dit gereeld in my hand, maak dan my oë toe en voel ek wat ek gewoonlik net sien: die Hand, die mens, die liefde . . .

Só hou God ons elke oomblik in die holte van sy hand. Sy koesterende nabyheid en troue liefde is altyd daar, dis ‘n onverbreekbare band.

Dieselfde hande wat die ganse heelal geskep het, hou ons altyd vas.

Uit die Passion Translation van Ps 16:8 : Because You are close to me and always available, my confidence will never be shaken, for I experience your wrap-around presence every moment.

Daarom kan ons ontspan en met volle oorgawe en vertroue tot rus kom in Hom met die stille versekering dat daar niks is wat ons uit Sy hand kan ruk nie, ons is werklik onaantasbaar!

Daar is niks soos die dood van ‘n geliefde om ‘n mens weer by die diep vrae oor lewe en dood te laat stilstaan nie.

Ek wil myself elke dag afvra watter pad ek kies: die doodspad of die lewenspad? Ons staan hoeveel kere ‘n dag voor ‘n kruispad.

 

Besinning

lewe ek my in die dood in
of dood ek my in die Lewe in?
dít is die sin van onsin –
so word ons Syne
en Hy ons s’n

Wanneer ons elke dag telkemale sterf aan onsself, ons planne en ons wil, is ons lewe op die regte pad. Hierdie selfopofferende pad voel egter so dikwels na ‘n doodspad. Dit vra ‘n gedurige oorgawe, soos Jesus in die tuin van Getsemane – “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

Francis van Assisi en Ma Jannij het Jesus se pad in hulle lewens nagevolg.

Fil 1:21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

1 Kor 1:25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

In ons geloof lê die grootste wyshede verskuil in die grootste paradokse.

Gebed: Here, help my asseblief om U opstandingskrag alreeds hier daagliks te ervaar met elke klein bietjie sterf-aan-self.

Matt 5:4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

Dis vanoggend Ma Jannij se dankdiens.

Ons harte is seer en ons ontvang troos en bemoediging vanuit verskeie oorde. Hierdie perskebloeisels het ook vir my ‘n spesiale boodskap gebring. Dis nog winter, maar hier is hulle alreeds. . .

Ma Jannij, ek het lank by hierdie bloeisels stil geword en besef dis ‘n metafoor vir jou lewe: jy het dapper jou brose, skone kroonblare op jou kenmerkende stil manier oopgevou om jouself beskikbaar te stel vir Sy lewenskrag om in jou en deur jou te vloei.

Met liefde, blydskap, volle oorgawe en selfopoffering het jy geleef sodat jou lewe ‘n ryke vrugte-oes kon nalaat.

Psalm 16 was jou gunsteling psalm. Uit die laaste vers kom die woorde: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Ma Jannij, deur die verlies van jou lewenskroonblare weet ons daar het ‘n oorwinnaarskroon te midde van oorvloedige hemelse feesblydskap vir jou gewag, want dis Koningsbloed wat deur jou gevloei het, jou lewe laat bloei het. . .

So beleef ons in hierdie nuwe seisoen U seën te midde van ons seer en al is ons harte broos, bring dié wete vir ons bomenslike troos.

Matt 6:29 Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie.

Ons was vir ‘n paar dae in die Bosveld. In ons naweekhuis het ‘n bos papawers, gerangskik in ‘n blompot, ons ingewag.  Ek moes eers aan hulle raak om te voel of hul eg is, amper soos ‘n Thomas-voel. Dadelik het ek geweet dat hier ‘n dieper boodskap gaan kom.

Jesus het saam met sy dissipels deur die veld geloop en die skoonheid van die lelies onder hul aandag gebring. . .

Deur die lens kom dieselfde boodskap:

Jammer, Salomo, inderdaad kom jy sleg(s) tweede hier. . .

Jesus laat sy storie ‘n draai loop deur die skoonheid van ‘n brose, verganklike blom om ons te laat besef dat Hy sal sorg, dat ons nooit bekommerd hoef te wees nie.

Die stralende skoonheid van hierdie blomme herinner ons daaraan om as ligdraers te leef en ook dat Hy die spil is waarom ons lewens moet draai. . .

Matt 6: 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Ps 121:1 ‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Dié beeld van Francis op berg Subasio het vir my ‘n diep kyk in ‘n geheim van sy lewe gebied:

Hy het gereeld opgegaan berg toe om tyd alleen met God te spandeer. Hier lê hy plat op sy rug.

Francis het ook hier Jesus se voorbeeld gevolg:

Lukas 6:12 In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.

Dis wanneer mens gereeld in stille oorgawe jou rug laat rus teen die Rots, dat jou rug breed genoeg raak wanneer jy terugkeer na jou lewensvallei en dat jy nie met jou rug teen ‘n muur sal staan nie, omdat Sy hulp, sy nabyheid altyd daar is.

Is dit ‘n tydlose bergtydgeheim dat jou (uit)sig hier herstel word en dat jy ervaar hoe die Rots jou oral omvou en invou?

Die pelgrimsreis na Rome en Assisi is agter die rug. Dis vir my moeilik om hierdie ervaring in woorde te vertaal, maar ek gaan tog probeer om dit met ‘n paar straaltjies sinne elke week hiernatoe te lei, van dít wat my bybly, wat steeds my hart week maak en my gebed is dat dit dieselfde vir jou sal doen.

Hieronder is ‘n gedig wat ‘n anonieme persoon oor Francis se lewe geskryf het:

Peace Prayer of Saint Francis

Lord, make me an instrument of your peace:
where there is hatred, let me sow love;
where there is injury, pardon;
where there is doubt, faith;
where there is despair, hope;
where there is darkness, light;
where there is sadness, joy.

O divine Master, grant that I may not so much seek
to be consoled as to console,
to be understood as to understand,
to be loved as to love.
For it is in giving that we receive,
it is in pardoning that we are pardoned,
and it is in dying that we are born to eternal life.
Amen.

(By https://www.franciscanmedia.org/saint-francis-of-assisi/ is daar ‘n kort storie oor sy lewe.)

Ons is so dankbaar vir mense wat so geleef het en ons steeds inspireer. Francis het vir ons gewys wat één mens kon doen wat Jesus se voorbeeld nougeset nagevolg het, wat Hom bo alles liefgehad het.

Dit is geen wonder dat hierdie gebed al so dikwels getoonset is nie, dit is en sal altyd aanklank vind by mense wat op soek is na vrede wat begin in harte en wat lei na vrede op aarde.

Hieronder is twee mooi weergawes (met beeldmateriaal van Assisi in die eerste een).

Maak ons ook asseblief U instrumente, Heer, ons stem in om weer ingestem te word, want ons note raak so gou vals.

So gaan elkeen van ons se unieke melodie saam uitwaarts die wye ruimtes in om saam met dié van die engelekore te weerklink en die Vredevors die soete klanke glimlaggend geniet.