Op die oomblik verhelder die aalwyne ons andersins vaal winter so skouspelagtig met hul vurige kleure!



Wanneer mens lank genoeg naby hulle gaan stilstaan, sien mens die beweging raak: die bye. . .

Met oop oë, hart en ore het ek gewonder wat hierdie by my kan leer?

Die volgende gebed het gevorm:

Here, ek wil ook soos hierdie by wees: om nektar selfs in die koue, vaal en harde wintertye te bly soek en dit wat ek vind, in te drink en ook diep binne my te bêre om dit later gewilliglik saam te gaan poel, alles ter wille van ‘n groter doel. So mag elkeen van ons ons klein deeltjie bydra om in ‘n bitter wêreld soetigheid te help bring; want wie van ons smag tog nie diep binne ons na ‘n land van melk en heuning nie?

Die laaste herfsblare van die boom buite my studeerkamervenster is stadigaan besig om hul greep op die boom te verloor. . .

Dis ‘n seisoen van verlies, een van laat gaan. . .

Maar die lig wat daarop val, getuig van ons Here se teenwoordigheid ook hier. . .

Here, in die lig van u teenwoordigheid is ons áltyd stewig in u ewige greep, maak nie saak waar en waarin ons onsself bevind nie.

Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Met gister se Hemelvaartsdag en met Pinkster net om die draai, deel ek graag hierdie liglied met julle.

O Light of Life!

O Light of life, O pure Light divine
Thou art in us; our ember is thine
Kindle our faith, give hope when we fear
Deepen our love, Thy fire appear.
Light of our souls, thou spark at our birth
Grow bright in us, shine in all the earth.

O Light of life, O true Light of peace
Storms will arise, let Thy light increase
Pierce through dark clouds, give pause to the proud
Let Thy shafts fall, lift humble heads bowed.
Answer our pleas, melt hearts in Thy flame
Make us as one, as one in Thy name.

O Light of life, O sweet Light of grace
Thou bids us come, we follow apace
See the bright tree, behold the white fruit
Feasting we weep, we witness the root.

O Light of life, O dear Light of love
Come wash us clean, send forth Thy white dove

Fill us with fire, enlighten our eyes
Help us to love, ’tis price of the prize
Then let us come, enrobe us in white
Clinging to Thee, light unto Thy light.

Light unto light

O Light of love

Amen

Lukas 9:23-26 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?

Die afgelope Woensdag het ons Aswoensdag gevier. Sommige van ons mag dalk ‘n askruis ontvang het.

Die askruis het my ten diepste laat besef dat dit die kruisas is waarom alles draai!

Dis wanneer ons lewens om Hom draai en ons al meer en meer meegee aan sy werking binne ons, dat ons Lydingstydreis nie net swaar is nie, maar ook een van groot vreugde. Wie weet, dalk mag ons nou al Paassondag se vreugdesklokke in die verte hoor lui wat vir ons die moed en hoop sal gee om voort te bly stap op hierdie pad. . .

Verlede week se blog het die werklikheid van pyn in ons lewens aangeraak.

Hier is nog enkele gedagtes daarrondom:

 

 

 

Pynverligting

dis wanneer ek ten diepste weet:
ek hét hierdie pyn
maar ek ís nie hierdie pyn nie. . .
en vreemd genoeg
dan is ek ook nie ‘n pyn
vir dié rondom my. . .
en dalk net juis dán
kan U deur my lewe
iets van U lig laat skyn

“The reason birds can fly and we can’t is simply because they have perfect faith, for to have faith is to have wings.” JM Barrie

Daar is soveel swaar, seerkry en pyn in hierdie wêreld. Dis deel van die lewe, hoewel ons dit so graag anders sou wou hê, maar dis hoe dit is.

Jesus het dit self ondervind en ons daarvan vertel – Joh 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dis egter wanneer ons met en in ons pyn gaan sit, dat daar ‘n bewuswording kom dat ons nie alleen in ons pyn is nie en dat daar iets soos geloofsvlerke is, wat stadig oopsprei en ons as’t ware opgelig word. . . Ons kan dit nie verklaar nie, dis ‘n diep ervaring anderkant woorde.

Help ons asseblief, Here, sterk ons geloofsvlerke, sodat ons vry en lig kan leef binne U oneindige ruimtes. . .

Kol 1:17 (NLV) Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind.

My man was vir ‘n paar dae in die hospitaal en Sondag kon ek hom huis toe bring. Dis ‘n pragtige, helder dag. Ons kon die son se warm strale op ons opnuut waardeer.

Op pad na ons motor toe, kyk ek af en sien die volgende op die plaveisel van die parkeerterrein:

Toe word ek opnuut so bewus daarvan dat U altyd by ons is en alles bymekaar hou, die ganse heelal en ook die stukke van elkeen van ons se lewens, al voel ons hoe stukkend.

Dié wete het my toe sommer net daar stukke beter laat voel. . . U is altyd in beheer!!

Die storie van die geelvink en diederik duur voort. . .

Iemand wat ‘n voëlkenner is en ook my blog lees, stuur vir my die volgende inligting wat lig op die inskrywing van 4 Januarie 2019 werp.

Het ek die storie aan die stert(veer) beetgehad?

Hoe dikwels sien ons nie net die stert van die storie en weet nie wat die lyfgedeelte daarvan is nie? Of anders gestel: hoe is ons nie geneig om net ‘n gedeelte van ‘n gebeurtenis te sien en ons eie gevolgtrekkings daaroor te maak nie?

Dit lyk asof die diederik dalk die vink se nes ondersoek het om te kyk of sy vroutjie se eiers daarin gelê kan word. Meneer diederik is toe eintlik ‘n “vyand” van meneer vink! Meneer geelvink was toe nie groen van jaloesie nie, maar eerder rooi van woede!

Ons weet van beter om nie mekaar se huise/neste oor te neem nie, maar meneer diederik kan nie anders nie, hy is so geskape, dis sy aard. Miskien is hy geskep sonder enige nesbouvaardighede en meneer vink is juis so ‘n kundige op dié terrein (hy moet mos juis oor en oor ‘n nes bou totdat sy vroutjie tevrede daarmee is).

Here, daar is soveel wat ons nie weet nie en ons kan maar net in verwondering staan voor U wat alles so haarfyn, selfs veerfyn, beplan het!

Ps 104:24 Here, U het baie dinge gemaak, ons sien u wysheid in alles wat U gemaak het. Die aarde is vol van alles wat U gemaak het.

Die blogstorie van 4 Januarie het as inspirasie gedien vir die storie wat hier gaan volg.

Ek het myself ingedink in die skoene, of moet ek eerder sê die wortels, van hierdie katjiepieringstruik op die stoep buite ons kamervenster. . .

“Ek staan hier op die boonste stoep van die Roosgesin se woning. Ek is nie baie groot nie. Stoksielalleen staan ek dag vir dag geplant in ‘n pot. Daar buite in hul tuin is daar groot bome wat tog al te imposant vertoon terwyl hulle skouer aan skouer uittoring bo die grond. Teenoor hulle lyk ek maar seker verpiep en minderwaardig.

Maar op ‘n dag, toe die diederik in groot nood was, was ek daar, op die regte plek om skuiling aan hom te bied. Ek het sy bang lyfie voel skud teen myne. Later het ek gevoel hoe hy bedaar en toe wegvlieg. My planthart het gebons van vreugde! Toe weet ek dat ook ek ‘n verskil kan maak, in my nietigheid, net daar waar ek is! Die diederik beloon my daagliks met sy allermooiste melodie. Ek sug behaaglik wanneer ek dit hoor tussen die ander voëlgesang. Sy sang is vir my nou net die mooiste!”

My seun sê gereeld vir my dat ek ‘n ryk verbeelding het en dis sekerlik waar, maar vandat ek myself in die skoene (wortels) van die struik ingedink het, raak dit vir my makliker om my in ‘n ander mens se skoene in te dink, of in te voel. Noem ons dit in mensetaal “empatie”?

Dis wanneer mens stil genoeg raak en jou verbeelding vrye teuels gee, sal selfs ‘n plant mens kan leer!

Dinsdagaand was hier ‘n hewige reënbui en my seun stuur vir my hierdie foto wat hy van ons einste katjiepieringstruik geneem het:

Ek kyk en kyk daarna en besef hoedat onverwagte seën en groei kom wanneer ons gehoorsaam is en bereid is om ten volle onsself te wees. So kan die Here ons op onverwagse maniere gebruik om ‘n seën vir ander te wees. Ons is nooit te klein of onbenullig om deur Hom gebruik te word nie!