Lukas 23:33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.

Here, my woorde is min, my hart so vol. U kruis raak my hart so diep omdat die grootste pyn en die grootste onskuld mekaar daar kruis . . .

Op hierdie Vrydag het die swaar gordyn, U, geskeur en daarmee is U hart ontbloot soos nog nooit tevore nie. . .

Kruise

 

 

Hebr 13:5 “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

 

 

Hierdie week is dit uitbasuin dat ‘n bekende sportster se borge hul borgskappe van haar onttrek. Dit laat my ver binnepaaie loop . . .

My Vader borg, gee soveel oorvloed elke oomblik van elke dag waarvoor Hy nie ‘n teenprestasie verwag nie. Hy ken my deur en deur. Hy weet presies waaraan ek skuldig is, waaraan ek my vergryp, wat ek misbruik, wangebruik . . .

Ons God se hart word kleisag wanneer sy kleimensies, sy grasmensies met hul ek-is-so-jammer harte na Hom toe draai. Hy verwelkom ons altyd terug, staan dit geskryf in Lukas 15.

Pa en Kind

Weg-loper

‘n Pa wat uit sy pad gaan
die pad af hardloop
om sy arms vol hoop
om my te slaan
daarin toe te vou,
in ‘n kus vas te hou

IMG_7107

Gebed: Dankie Heer, dat U altyd bereid is om my sonde te vergewe en dit nie aan die groot klok hang nie. In hierdie liefdevolle sfeer word enige begeerte of behoefte om vinger te wys, op die lange baan geskuif . . .

IMG_6207

 

Kol 4 : 6 Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

By op lavender

 Versoeting

o groot Chemikus
distilleer uit my lewensvog
die soetste nektar
sodat die by my
U daarin proe

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

 

Die afgelope week se geweld en stakings veral by universiteitskampusse het my hard aan die hart geruk, want nou is dit persoonlik: my seun is ‘n eerstejaarstudent… Nou is dit nie meer daar ver nie, nou het dit baie naby gekom.

Tussen al die beeldmateriaal van die geweld, die verskrikking daarvan, sien ek studente van alle rasse wat ‘n sirkel vorm en bid, hard bid. Die lig wat seëvier. Selfs die kleinste vlammetjie gee lig aan ‘n donker vertrek, dit weet ons tog.

Al mag dit oënskynlik lyk asof die duisternis seëvier, weet ons, glo ons dis nie so nie. Dis nie die laaste woord nie, want die Woord het altyd die laaste woord.

Daar aan die kruis, waar dit gelyk het asof alles verby was, was die lig op pad om deur te breek soos nooit tevore  nie. Ons moet net bly hoop, bly vashou vir hoeveel dae Hy wil, Sy lig breek altyd deur.

Kruis

deur die uit-me-kaar-val
kom die inmekaarval …
liederlik word
lieflik

IMG_2017

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Gebed: Here, wees ons asseblief genadig. Leer ons om ons oë op U gerig te hou, om as U ligdraers en vredemakers te leef.

IMG_1321

Fil 4: 4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Kan ek regtig oor alles bly wees? Op die oog af lyk dit nie so nie. . . Soms kry ek dit maklik reg, veral as iets groots, iets opwindends gebeur.  Maar wat van die ander tussenin tye, waarin die alledaagse sleur, selfs stormtye gebeur?

 

Ek voel dit gaan alles oor waar my blydskap se blyplek is . . .

IMG_7446

IMG_2179

 

Blygeestig

as daar niks meer
van my bly
is ek oor alles bly
maar
ook oor niks bly
want
dan bly ek
waar Hy bly

Gebed: Here, ek bely dat ek so dikwels ‘n blydskap-arm lewe leef. Ek besef dis omdat die bron van my blydskap te vlak lê en gou uitgeput raak. Dis my ekkigheid wat maak dat ek koppig in die pad bly staan, nie in die pad wil val, oorgee,  tot in U altyd-oop liefdesarms nie. Bron van wonderdade, wees my genadig, laat U stroom van blydskap standhoudend in my, deur my en om my vloei, maak my asseblief te alle tye bewus daarvan. Eers dan sal ek altyd ‘n diep, egte, be(rus)tende blydskap beleef.

IMG_2146

 

 

Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

 

 

Dit tref my weer die afgelope paar dae: wanneer iemand my teenwoordigheid verlaat, verlaat hulle dit nie onveranderd nie. Hulle voel óf beter óf slegter as voor die ontmoeting. Dis vir my belangrik om aan die einde van ‘n dag myself af te vra hoe my wiskunde van die dag gelyk het. Ek som dit so op:

Wiskunde

wat se wiskunde het ek vandag gedoen?
het ek opgetel, bygevoeg, geplus in ander se lewens?
of het ek weggeneem, afgetrek, geminus?
minusbewerkings moet mos net in my eie lewe gedoen word
minder, minus van myself
trek myself af
sodat Hy meer kan word,
geplus, vermenigvuldig word
dan deel Hy sy vreugde, vrede, alles met my!
so word ek dan sy koninkryk deelagtig
nou weet ek: so word alle
euwels, flaters uitgewis
en nou is ek regtig wis-kundig!

Gebed: O groot Leermeester, ek wil graag by U leer. Leer my asseblief om U soort wiskunde elke dag te doen.

IMG_1990

 

 

“Life is beautiful” sê sommige. “Life is a struggle” sê ander.
Die lewe leer ons egter só:

Life is a Beautiful struggle

IMG_6071

Die rose hierbo is vir my ‘n simbool daarvan: die geel, die son, en die rooi van die bloed, die stryd, albei is teenwoordig in die een blom.

Hoe leef ons hiermee saam? Ek glo die antwoord is in Ps 131 te vind:

Ek het rus gevind
1‘n Pelgrimslied. Van Dawid.
 
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.

 

Ek ervaar dit so:

abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

Babavoet

So wil ek die pad loop, dis die regte posisie om in te leef!

 

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

Die afgelope ruk loop ek, leef ek soveel mense raak wat weet van donker klaskamers. Die lig in hul oë vertel ‘n storie . . .

Soek-lig

in donker nag van pyn
waar eieroem, eiewaan
eiewysheid kwyn
as alle skyn verdwyn
skyn Sy lig die helderste
soos dit nooit
in sonskyn skyn

IMG_3466

Gebed: Here, U weet dit is so menslik om net in die pyn, teen die donker vas te kyk, maar U laat lewe voortspruit uit enige donkerte. Help ons om U lig te sien, sodat ons kan sien wat U wil hê ons moet sien.

Truly, it is in darkness that one finds the light, so when we are in sorrow, then this light is nearest of all to us. – Meister Eckhart

 

Handelinge 17:27b,28  Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’

 

 

2016 lê pasgebore, blinknuut reg hier voor ons. My wens vir almal is dat ons elke dag, elke oomblik van hierdie nuwe jaar bewus sal wees van die Here se teenwoordigheid.

In Lukas 5 word dit beskryf hoe Jesus sy eerste dissipels geroep het. Ek het dit so verwoord:

Visvangs

my net wil skeur
my boot wil sink . . .
gaan asseblief weg
alles om my, in my stink

nee, simon, vir jóú wil Ek kry
sommer net hier naby My

Gebed: My hart wil skeur. U is soveel liewer vir ons as wat ons dink, of eerder, soveel liewer vir ons as wat ons kan dink. U die almagtige, onveranderlike, misterieuse, ewige lig-God sien al my sonde, my swakheid raak, maar steeds wil U my baie naby U hê. Hoe kan ek ooit met krom woorde genoeg daarvoor dankie sê? Ek kan dit tog gaan lééf, want ek hoor mos U hartklop . . .

IMG_1971

IMG_2160

 

 

Matt 18:3 …“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

 

Miskien het dit hierdie Kerstyd met jou gebeur dat jy ‘n spesifieke geskenk verwag het, maar dit toe nie gekry het nie. Of dalk het jy verwag dat ‘n familielid op ‘n sekere manier moes optree, maar het toe nie. Is dit nie iets wat ons almal een of ander tyd, of dalk sommer gereeld beleef nie?

Ann Voskamp skryf in haar boek One Thousand Gifts: expectations kill relationships. Ek het dit vertaal dit na: verwagtinge versmoor (of vernietig) verhoudings of sommer kortweg: VVV. Die afgelope paar dae het ek myself dopgehou en was ietwat verbaas om te sien hoe gereeld ek dit self doen (dis mos altyd makliker om dit in iemand anders raak te sien…). Wanneer ek die verwagting laat gaan het, het ek myself in ‘n vryer, oper ruimte gevind. Dit laat my dink aan Psalm 131 waar ons genooi word om net soos ‘n kind in ‘n ma se arms te lê, met geen verwagtinge nie, net tevrede soos dit nou is. Geen wonder Jesus het gesê dat ons soos kindertjies moet word nie.

Hoe kom ek vry van hierdie verwagting-ding?  Ek moet eers bewus daarvan word voordat ek dit kan laat gaan en dan verskyn Sy vryheid, vrede, vreugde (‘n nuwe VVV!).  So word die tafel gedek om Sy seën en Seun te ontvang

IMG_7445

IMG_0415