If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Sou ‘n mens nie bekend wees met herfsseisoene nie, sou dit kon lyk asof ‘n tragedie homself afspeel: die blare van die boom word afgesny van hul normale voedingsbron, hulle kan nie meer fotosinteer en word as’t ware geamputeer. Hulle val na die grond. . .

Tog kon die herfsblare, net voor hul val, vir die eerste (en enigste) keer hul dieper kleure, wat altyd deur ‘n groen buitelaag bedek was, tentoonstel in ‘n skouspel van asemrowende vurige kleure wat andersins nooit daar sou wees nie.

Daar is met herfs, soos in elke ander seisoen, altyd die baie-groter-as-wat-ons-kan-verstaan-proses aan die gang.

Jesus se woorde in Lukas 9:24 “want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” herinner ons daaraan.

Verder is daar ook sy woorde in Johannes 10:28 “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Here, help ons asseblief om in ons lewens die herfsblare wat U wil laat val in volle oorgawe en vertroue te laat gaan om sodoende ruimte te skep vir die nuwe seisoen waarmee U besig is.

So word dít wat oënskynlik kon lyk na ‘n treurspel, eerder ‘n meesleurende melodie in Sy keurspel en word ek en jy genooi om in te val . . .

Lukas 9:24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

Opstandeling

verbete die klou
vuurrooi gestoei dié seisoen
laat los . . .
val na mis-oes

Here, vergewe my waar ek dikwels so opstandig kan bly kleef, dít terwyl ek die krag van U opstanding kan beleef. . .

Uit Johannes 19:18 Daar het hulle Hom gekruisig. . .

ransformeer

U kruis hard
U hart sag
my kruis sag
my hart hard

Here, U weet dis sagte harte waarin Liefde klop, wat lei tot lewens wat neergelê word, ‘n kruis wat opgeneem word en ‘n wêreld wat getransformeer word.

Here, help ons om vandag stil te word, op te kyk na U waar U aan die kruis hang en ons harte oop te stel vir U sagte influistering daarin . . .

Uit Joh 16:33 In die wêreld sal julle dit moeilik hê . . .

Pyn en swaarkry is ‘n moeilike deel van ons lewe op aarde, maar tog is daar min ander dinge juis soos pyn en swaarkry wat ons verbintenis aan Hom en mekaar hegter maak.

Wanneer iemand, waarvoor jy baie lief is, swaarkry, is daar iets heiligs wat na vore kom.  Dis asof daar iets van die groot Misterie in ons deurbreek op ‘n nuwer, dieper vlak.

Ons is so bewus van ons eie magteloosheid, nietigheid en breekbaarheid soos nooit tevore nie en dít maak ons oop om aangeraak te word, getrek te word na ‘n dieper verbinding en verhouding met Hom en met mekaar. . .

Pelgrims

weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde

Joh 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Ons is pelgrims op reis na ons ewige bestemming. Al kry ons hier soms swaar, is ons egter nooit alleen nie, omdat ons Here áltyd by ons is, te midde van swaarkry. Ons kan vashou aan die belofte in Ps 34:19 Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. 

Sy nabyheid en vrede loop hand aan hand.

So hou Hy ons hand vir ewig in sy onverbreekbare band.

Matt 12:34 Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Sommer hier aan die begin van Lydenstyd, nog voordat ek kon besluit waarvan ek moontlik kon vas, het dit gebeur: my stem het verdwyn. Laringitus en ‘n erge seer keel het twee wagte geword wat binne en toe sommer ook voor my mond geplaas is!! Die dokter gee baie medisyne en sê my stem moet rus.

Aanvanklik het ek nie gedink dat dit vir my moeilik sou wees nie, want ek is mos gewoond aan stilteretreats. Maar om in jou alledaagse omgewing nie te praat nie, is ‘n totaal ander storie. Ly ek dalk aan praatsiekheid?

Hoeveel anders is dit nie om eers mooi te besluit of ek hierdie enkele woorde gaan sê of nie? Toe ek later begin skryf wat ek wil sê, besef ek dat wanneer ‘n mens sien wat jy sê, sien jy jou woorde in ‘n totaal nuwe perspektief! Dis asof mens ook vooraf besin oor watter effek hierdie woorde gaan hê.

Die Engelse spreekwoord lui: “Silence is golden”.

U nooi ons altyd uit om naby U te bly, om sodoende ingestem te bly om u sagte influistering in ons harte duidelik te hoor.

Hierdie praat-vas word toe ‘n gulde geleentheid om opnuut my taal te gaan haal uit die stilte van my hart. Dan sal ek myself nie later vaspraat nie. . .

Hebr 10:23 Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.

 

Soms in ons lewens kom die moeilikhede so op ‘n hoop en dit kan voel asof dit ‘n hoop word wat ons vasdruk.

Lydenstyd het hierdie week aangebreek. Dis ‘n tyd waarin ons ten diepste besef dat Christus in ons nood, ons pyn, ingedaal het. Dis ook ‘n tyd van gereedmaking om nuwe lewe te ontvang.

Dis dikwels later dat ‘n mens besef hoe naby die Here daar in die donkerte was, terwyl Hy ons vir ‘n tyd in hierdie heilige ruimte gehou en toegevou het. Die lig van sy teenwoordigheid verlaat ons nooit nie.

Hulle wie se hoop sterk is, sien en koester elke teken van nuwe lewe. Erich Fromm

Dis asof hul so stralend verrys. . .

Hy bly altyd by ons, daarom hoef ons nie hooploos te voel nie, maar kan ons vol hoop bly!

 

 

 

Joh 3:30 Hy moet meer word en ek minder.

 

 

Windmakerig

Ek
Groot
Opgeblaas
U darenteen so egoloos
laat U doringkroon my prik
sodat ek afblaas van eie wind
sodat u Geeswind my kan vul
maar ek is so pure sif. . .
niks is vir U onmoontlik
solank ék net winduit is. . .

Here, help my asseblief om tot daardie punt te kom waar ek bloot net soos U kan sê: “Laat U wil geskied.” U weet ons gees is gewillig, maar ons vlees is swak.

Met ons onlangse bosveldvakansie het ‘n vrolike bos blomme ons met ons aankoms verwelkom.

Soos die dae verloop het, het die blomme begin verwelk. Die proses was onkeerbaar, onomkeerbaar. . .

 

Ons kan aanvaar dat dit die verloop van ons lewe hier is, maar dat ons deur Sy lens tog ‘n dieper skoonheid daarin kan raaksien.  Dit laat ons ook uitsien en smag na die volmaakte, die onverganklike.

1 Petrus 1:3,4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Eendag, wanneer die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek, gaan niks meer verwelk of sterf nie. Die beste van alles: Wie ons daar gaan verwelkom!

God beproef ons nooit tot breekpunt toe nie – net tot groeipunt toe. – Anoniem

Ek sien dié spesifieke plataanboom op ‘n gereelde basis regdeur die jaar. Dit is reusagtig en ‘n mens moet jou kop ver agtertoe buig om sy top te kan sien.

In die herfs het hy sy blare verloor, reusagtige blare, om later winterkaal te staan.

img_3112

Nou, in die middel van die somer, verloor hy sy bas.

20161129_093646_resized

20161129_081732_resized

Die arme boom word dubbeld gestroop!

Ek weet heeltemal te min van plataanbome om te weet waarom dit so is, maar ek weet dat die Skepper van die plataanboom wel sy plan daarmee het. Sy plan behels groei en nuwe lewe.

Dit laat my besef dat Hy met ons ook op ‘n soortgelyke manier besig is om ons te laat groei. Dikwels voel die Here se behandelingsplan egter soos verlies en verwonding.

Tog het Hy so duidelik vir ons kom wys dat wanneer dit voel asof alles uitmekaar val, Hy ten diepste besig is om iets nuuts te skep.

IMG_0824

Daarom kan ons vashou aan die hoop: daar is wel verlies, maar dis ter wille van ‘n groter plan wat groei insluit.

IMG_2017

Eseg 16:7 groei!’ “Ek het jou soos ‘n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword.

Lukas 13: 19b Dit het gegroei en ‘n boom geword. . .

Daar is ‘n sirkelvormige bankie rondom die stam waarop mens heerlik kan sit en rus in die koelte daarvan. Hierdie boom het al soveel seisoene deurstaan om dit vir ons te kan bied. Al is my boompie maar klein, wil ek graag dit vir mense om my bied. . . Laat U wil met my geskied.

 

Psalm 119:68 U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte.

Dit het so onverwags gebeur: ek is skielik bygedam, op my duim. Ek het my hand na agter uitgesteek omdat ek iets agter my kop gehoor het en daar steek die by my so onverwags, so seer. Iemand help om die angel met ‘n mes uit te skraap. . .

Die raad kom in: smeer koeksoda, tandepasta of heuning aan. Heuning?! Nee dankie, op hierdie stadium wil ek asseblief niks weet van enige by-produk nie!

Aristoteles het gesê: Ons kan nie leer sonder pyn nie.

Met die pynlike rooi swelsel, het ek gaan stilword. Wat wil dié pyn my leer? Toe kom dit: het ons nie maar almal, soos ‘n by, twee ekstreme kante nie? Aan die een kant is ons in staat om soetheid en heilsaamheid te bring en aan die ander kant het ons ‘n giftige angel. . .

by-op-blom

Hoeveel keer bring ek my angelkant na vore, veral met woorde wat seerder as bysteke kan wees en onsigbare pynlike wonde veroorsaak? Dit tref my ook dat hoe selfvernietigend die interaksie vir die by was. . .

by-wat-op-kop-staan

Niemand is goed nie, ons het almal angels. Vreemd genoeg, laat ons angelkante ons besef dat ons sonder die Here niks goeds kan doen nie. Tog aanvaar Hy ons met albei ons kante en het Hy boonop die angel van ons sonde aan sy liggaam aan die kruis gedra.

Dis my begeerte dat hierdie pynlike les sal bly vassteek, dat dit nie by my sal verbygaan nie.

Lyding is ‘n streng onderwyser, maar ‘n uitstekende een, volg die spreekwoord.

Gebed: Here, help my asseblief om ook van my angelkant bewus te wees en eerder egte soetheid, U soetheid, in mense se lewens te bring. Al wat ek moet doen is om digby U te bly vir U werking in my.

Dalk kan ek na ‘n paar dae die woorde van die psalmskrywer beaam in Psalm 119:71 Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

So leer ons wat die hoofsaak en wat bysake is.

img_2081